Skrywer: Alita Steenkamp
Foto: Liza van Deventer
Gesprek met prof. Wannie Carstens
Op Sondagoggend 18 Februarie het prof. Wannie Carstens in die program, Taaldinge met Ina Strydom, ’n paar gedagtes oor Afrikaans gedeel. Hy het gekonsentreer op die hoogtepunte wat ons taal in 2023 beleef het, maar het ook genoem dat daar wel areas is waar ons nie op ons louere durf sit nie. Hierdie gesprek wat hy met Ina Strydom gevoer het, is as ’n potgooi beskikbaar.
Prof. Carstens lig die volgende hoogtepunte uit:
- Vir hom persoonlik, as taalmens en taalaktivis, was dit ʼn hoogtepunt toe Suid-Afrikaanse gebaretaal in 2023 vir die eerste keer as amptelike taal erken is. Dit maak dit dus die 12e amptelike taal in Suid-Afrika. In sy termyn by die Noordwes-Universiteit het prof. Carstens Gebaretaal as vak ingestel en dis vir hom persoonlik ʼn groot gebeurtenis dat mense wat bloot van Gebaretaal gebruik maak, deel geword het van die Suid-Afrikaanse taalgemeenskap.
- In 2025 vier Afrikaans sy honderdste jaar as amptelike taal. Die planne wat gemaak word vir die viering hiervan, is vir prof. Carstens iets om oor opgewonde te wees. Dit is belangrik om te onthou dat daar nie gesê word dat Afrikaans honderd jaar oud is nie. Die taal is veel, veel ouer. Die taal se amptelike status vier inderdaad sy honderdjarige herdenking en dit is rede om te vier.
- ʼn Projek waarby prof. Carstens self betrokke is en wat in 2023 afgeskop het, is die Projek Provaria. Organisasies, akademici en individue het in Junie 2023 bymekaargekom om planne te maak vir Projek Provaria. Hierdie projek gaan oor al die verskillende variëteite in Afrikaans en om dit te dokumenteer vir die nageslag. Prof Carstens sê hy is veral opgewonde oor die klomp jong akademici wat hierby betrokke is en wat bereid is om hierdie projek se toekoms te onderneem.
- ʼn Wonderlike hoogtepunt wat in 2023 bereik is, is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat voltooi is tot by die letter T. Die werk aan hierdie woordeboek het in 1926 reeds begin en nou is dié woordeboek beskikbaar tot by die letter T. Soos met die afdeling oor die letter T, sal hierdie woordeboek voortaan net elektronies beskikbaar wees. Dit maak dit baie maklik om veranderings aan te bring en enige nuutskeppings by te werk. Prof. Carstens sê die manier waarop die Afrikaanse woordeskat en die skatkis van uitdrukkings vasgelê word vir die Afrikaanse nageslag, is besonders.
- Al die simposiums en gespreksgeleenthede oor Afrikaans in die afgelope jaar, beskou prof. Carstens as baie positief. Sou ons ophou praat oor Afrikaans, sê hy, gaan ons die kreeftegang. Wat hom veral opgewonde maak is dat baie van hierdie gesprekke oor Afrikaans in ʼn meertaalkonteks plaasvind. Afrikaans is nie ʼn taal wat eenkant gehou moet word nie, maar dit moet deel wees van die meertaligheid van ons land. Na 30 jaar wil Afrikaners voel dat hulle deel is van ʼn groter geheel.
- Iets wat prof. Carstens baie opgewonde maak, is die kommunikasiebedryf waar Afrikaans steeds floreer: boeke, koerante, LitNet. Daar het pragtige boeke verskyn en dis alles tekens van ʼn taal wat lewendig is. Dis veral die verskyning van hoë kwaliteit letterkunde wat belangrik is vir die gesonde status van ʼn taal, en dit gebeur gereeld in Afrikaans. Hy is besonder dankbaar vir Afrikaanse uitgewers wat bereid is om nog Afrikaanse boeke uit te gee. Of dit nou ʼn lekkerlees Rudie van Rensburg, of ʼn letterkundige stuk werk soos Johann Rossouw se Sluitstuk
- Carstens sonder ook ʼn maatskappy soos kykNET uit wat sorg vir heerlike kykstof in Afrikaans. kykNET skep werksgeleenthede vir Afrikaanse akteurs en teksskrywers en ook produksiegeleenthede oor ʼn breër front.
- Iets wat hom baie opgewonde maak, is die fees wat elke vier jaar in Nederland plaasvind: Het Festival voor Afrikaans. Hierdie kunstefees het in 2009 begin en die vyfde een is in November in Den Haag aangebied. Vir hom is dit ʼn riem onder die hart om te sien dat daar mense in die buiteland is wat bereid is om hulle tyd en energie te gee om dit vir Afrikaans moontlik te maak. Ingrid Glorie het met die hulp van befondsers ʼn wonderlike fees saamgestel en aangebied waar prof. Carstens ook die geleentheid gehad het om meer te vertel oor Provaria. Die kunstefeeste in Suid-Afrika waar Afrikaans gedy is ook iets om voor baie dankbaar te wees en daarsonder sou Afrikaans veel armer gewees het.
- ʼn Mens durf ook nie die goeie werk miskyk wat die MOS Inisiatief doen nie. Die MOS werk dalk in stilte, maar hulle maak seker dat moedertaalonderrig die nodige aandag kry in die Afrikaanse taalgemeenskap, sê prof. Carstens. Hulle dra konstant die boodskap oor dat moedertaalonderrig die belangrikste bly en om dit te bewys, rig hulle skole op waar kinders in hulle moedertaal onderrig word. ʼn Organisasie soos FEDSAS verdien ook ʼn pluimpie vir die werk wat hulle doen om Afrikaans in ʼn onderwysomgewing positief te hou.
- Carstens is ook opgewonde oor die interessante gesprekke wat in 2023 begin is rakende Standaardafrikaans en Kaapse Afrikaans. Hy glo vas dit gaan nog vir fassinerende dinge sorg in die toekoms en ʼn mens sal moet wag en kyk om te sien of dit uiteindelik nodig geag gaan word om wel ʼn Standaardafrikaans te hê.