Skrywer: Nicolette Kritzinger
Die litte het behoorlik geroer in die Endler-saal op Stellenbosch op Saterdag, 24 Februarie tydens die bekendstelling van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se OERLIED Koorliedboek. Kunstenaars soos Lynelle Kenned, Tribal Echo Trio, Lyntjie Jaars, Gertruide Lombaard en gesogte gemeenskapskore het, onder leiding van Zenobia Kloppers, nuwe lewe geblaas in oeroue volksliedjies. Die OERLIED Koorliedboek bevat outentieke inheemse Eerste Nasie-volksliedjies in Khoekhoegowab sowel as oorspronklike Rehobothse “Baster”-liedjies in Afrikaans.
Die liedere wat geselekteer is vir die OERLIED Koorliedboek is in Namibië opgespoor. Musiekwetenskaplikes en musikante het tydens die 1960’s en die 1980’s die volksmusiek van verskeie inheemse Eerste Nasie-gemeenskappe op band opgeneem waarvan ’n paar ook getranskribeer en gepubliseer is.
Zenobia Kloppers, een van die navorsers en samestellers van die OERLIED Koorliedboek, sê hulle was bevoorreg om toegang te kon verkry tot die Eerste Nasie-volksliedjies. Vir die samestelling van die liedboek is die hulp van Suid-Afrikaanse en Namibiese kenners op die gebied van tradisionele inheemse volksmusiek ingeroep. Vyftien liedere is vir die liedboek gekies. Hierdie liedere is nie alleenlik gekies vir hul mooi melodieë nie, maar oor vir die “insig wat die lirieke verskaf tot die lewens(wyses) van ons voorvaders en die zeitgeist (tyd[s]gees) van die era waarin hulle geleef het,” meen Kloppers.
Tydens Saterdag se geleentheid het verskeie gemeenskapskore van regoor die land (en Namibië) op een verhoog bymekaargekom om lewe te gee aan hierdie ou bekende liedere. Die Sion Messengers van Merweville, Skurweberg Sekondêr, die Zolani Youth Choir van Ashton, en die Southern Youth Choir of Namibia (al die pad van Keetmanshoop!) het die gehoor vermaak terwyl die Tiervlei-rieldansers die voete laat jeuk het.
Sê Kloppers: “Die wortels van ons erfenis lê diep weggebêre in ons DNS. Ons weet dit moet daar iewers wees, maar ons weet nie aldag waar om te soek nie, of selfs wat om te soek nie. Ons is nie sonder wortels nie. Die wortels is egter vir te lank weggesteek en afgesny van ons. Ons grawe hulle nou uit en plant hulle in die oopte sodat hulle opnuut kan wortel skiet. Dis al. En dis genoeg. Vir nou.”
Die doel van die OERLIED-projek is om outentieke Khoekhoegowab en inheemse volkmusiek in die kollig te plaas en dit op ’n toeganklike manier aan plaaslike kore en gehore aan te bied. Elkeen van die liedere wat opgeneem is, word vergesel van ondersteunende hulpmiddels: klavier-, ensemble-, en SATB-stemopnames, uitspraakopnames, meertalige vertalings van die oorspronklike lirieke in Khoekhoegowab en Afrikaans sowel as bykomende inligting oor die teks en konteks waarin/waarteen die Eerste Nasie-volksliedjies uitgevoer word.
Die Khoekhoegowab-volksliedjies se opnames is gedoen en geredigeer deur David Benade van dB Audio en The Collective Productions in Windhoek. Die sangers vorm deel van die Southern Youth Choir of Namibia en is almal afkomstig van Keetmanshoop. Hul moedertaal is Khoekhoegowab en hulle is almal van Nama- en/of Damara-afkoms.
Die inheemse “baster”-volksliedjies in Afrikaans is in Kaapstad opgeneem en geredigeer deur Clive Ridgeway van the Cape Town School of Songwriting. Die sangers en pianis is opgeleide sangers en musikante. Die vier sangers is almal, onder andere, lede van die Encore Ensemble.
Monique Seigels, een van die navorsers en samestellers van die OERLIED Koorliedboek het haar hoop uitgespreek dat hierdie navorsing sal dien as ’n beginpunt wat aansporing sal bied aan ander om daartoe by te dra en om ons Eerste Nasie-musiekkultuur te bewaar en in die toekoms ook verder uit te bou.
Sion Messengers van Merweville
Southern Youth Choir of Namibia
Skurweberg Sekondêr