Skrywer: Alita Steenkamp
Die veertiende kykNET Fiëstas vereer twee legendes in die kunste
By vanjaar se kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid wat op 7 Maart by The Lookout in Kaapstad plaasvind, word al vanjaar se wenners aangekondig. Die Fiësta-toekennings vereer die talent van vermaaklikheidskunstenaars vir hulle optrede op een of meer van die ses grootste Afrikaanse kunstefeeste soos die Suidoosterfees, die KKNK, Innibos, Vrystaat Kunstefees, die Woordfees en die Momentum Beleggings Aardklop.
Tydens vanjaar se toekenningsgeleentheid, die veertiende een, word twee merkwaardige ikone ook spesiaal as legendes vereer vir die besondere bydrae wat elkeen in sy eie onderskeidelike veld gelewer het.
Hierdie legendes is die dramaturg en teater-ikoon dr. Ismail Mahomed en die akteur Tobie Cronjé.
Dr. Ismail Mahomed is ʼn veelbekroonde kunsadministrateur en gevestigde dramaturg. Hy het onder meer opgetree as die hoof- uitvoerende beampte van die Markteater Stigting, artistieke direkteur van die Nasionale kunstefees en as senior kulturele spesialis van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika. Hy beskik oor byna veertig jaar se ondervinding in kulturele leierskapsrolle. Hy dien ook op die raad van verskeie kunsorganisasies soos die KKNK en Kaapstad Stadsballet. Hy is die stigter van die Artfluence Human Rights Festival. Dr. Mahomed het op ʼn geleentheid die Chevalier des Arts des Lettres van die Franse regering ontvang vir die wyse waarop hy die Nasionale Kunstefees in Grahamstad uitgebrei en bevorder het. Hy is deur beide die Financial Mail- en The Star-koerante as onafhanklike denker en ʼn invloedryke beïnvloeder in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf se uitvoerende sektor aangewys.
Tobie Cronjé is seker een van die bekendste akteurs in Suid-Afrika en sy loopbaan strek al oor vyf dekades. Sy heel eerste filmrol was in 1974 in Katinka Heyns se Sersant en die Tiger Moth. Hy het homself uitstekend as komediant laat kwyt in rolle soos Willem, Kootjie Emmer en verskeie klugte. Tobie het egter deur die jare bewys dat hy nie bloot net komediant is nie, maar het ʼn verskeidenheid rolle aangepak waarin hy elke keer homself as akteur bewys het. Onlangs was hy te sien as Vasie in die rolprentweergawe van Hans steek die Rubicon oor. Tobie het op RSG boekvoorlesings uit hierdie boek van Rudie van Rensburg gedoen en was besonder gewild as Hans, maar met die rolprentweergawe wat toe ʼn werklikheid geword het, het hy voorgestel dat die vervaardigers van Pierre van Pletzen gebruik maak om die rol van Hans te vertolk. Tobie is deur die jare verskeie kere vereer vir sy spel in dramas, klugte en eenmanvertonings. Voorwaar ʼn legende.