Skrywer: Saamgestel uit mediapak.
Die rolprent, Frankie en Felipé, begin vandag (23 Februarie 2024) landswyd in rolprentteaters regoor die land draai. Dit is die jongste fliek van The Film Factory en Sturvy Pictures, in samewerking met kykNET Films en word deur Filmfinity (Edms) Bpk uitgereik.
Die storie in ’n neutedop
Franklin Blaze (Bradley Olivier), ‘n hardwerkende man uit ‘n verarmde agtergrond wat hy geheim hou vir sy kollegas en verloofde, Kim Fortuin (Kim Syster), besef sy opkomende troue en werk is op die spel wanneer sy biologiese halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), kom aanklop vir hulp. Felipé is ‘n passievolle, maar verlore siel wat dringend geld nodig het en dreig om Franklin se geheime te verklap as hy hom nie help om die geld terug te betaal wat hy verskuldig is aan ’n venynige geldskieter nie. Met sy rug teen die muur besluit Franklin om toevlug te bied vir sy broer en hom in te sluit by die troue, maar kort voor lank is hy spyt oor dié halsoorkop besluit… Kan Frankie en Felipé hul broederband tot voordeel van hulle albei laat herleef? Of sal hierdie fasade die troue van die jaar verwoes?

Met regie deur Marvin-Lee Beukes en Nick Burton Moore as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere in Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Terence Bridgett.
“Frankie en Felipé is ’n projek baie naby aan my hart. Ek, Bradley en die span het vier jaar lank aan die film gewerk, en nou kan die publiek uiteindelik ’n voorsmakie kry van wat hulle op 23 Februarie 2024 kan verwag. Ek is so opgewonde soos ’n kind op Kersdag!” – Solomon Cupido.
’n Gedeelde droom kry gestalte
“As jy ’n groot droom het en pligsgetrou werk om dit te bewaarheid, kan daardie droom ’n werklikheid word.”
Bradley Olivier en Solomon Cupido se reis het meer as twintig jaar gelede in die Paarl begin. Desjare het hulle gefokus op vertonings met twee karakters en hieruit het hul samewerking begin. Maar hulle droom was altyd om ’n film te maak.
Vier jaar gelede, by ’n kruispad in hul onderskeie lewens waar werkloosheid en vaderskap sy tol geëis het, het hulle koppe bymekaar gesit en ’n besluit gemaak om daarna te streef om hul lewens te verbeter.
Hulle het begin idees uitruil en besluit om ’n storie te skep met twee karakters uit verskillende wêrelde. Hulle doel was om die wêrelde deur hul skryfkuns te verenig en kykers ’n kykie te gee in die lewens van die twee karakters. Hulle wou hê dat die mense moes besef dat wat jy op die oppervlak sien nie noodwendig die hele storie vertel nie – die storie van die waarhede en werklikhede wat agter die ooglopende verskuil is. Die fliek dra ook die boodskap oor dat mens nooit hoef skaam te wees vir jou herkoms nie, maar om dit juis te beskou as ’n manier om struikelblokke te oorkom en jou lewe te verbeter.
Sê Marvin-Lee Beukes, regisseur: “Wat vir my lekker was, van die begin af, was hulle (Solly en Brad) se idee om die diverse realiteite van bruin mense in Suid-Afrika in die kollig te plaas. Maar ook om bruin mense te wys wat wen in die lewe, wat die stereotipe verkeerd bewys. Hulle wou ‘n storie vertel wat mense laat lag, maar ook laat huil, en ultimately dink ek wou ons almal ‘n storie vertel wat bruin mense sou trots maak op hul herkoms. Ek dink wat ons reggekry het met Frankie en Felipé is ‘n wonderwerk. Elke crew member het soveel liefde ingesit, en die harde werk en liefde wat van die begin af in die storie ingesit is, kan gevoel word wanneer mens die fliek kyk. Ek is baie trots om my deel te kon doen, en vir ewig dankbaar aan Brad en Solly.
Rolverdeling
- Lee-Ann van Rooi is Mev. Baadjies.
- Brendon Daniels is Roy.
- Melissa de Vries-Joseph is Jackie.

Bradley Olivier (1987 – 2023) en ook die skrywer en vervaardiger, is Franklin Blaze. Die film was sy eerste draaiboek en rolprent as vervaardiger sowel as akteur in ’n hoofrol. (Bradley is ongelukkig oorlede voordat die film vrygestel kon word.}

Solomon Cupido, skrywer en vervaardiger, is Felipé Baadjies.

Kim Syster is Kim Fortuin.

Bianca Flanders is Tracy Fortuin.

Ilse Klink is Evelyn Fortuin.

Zane Meas is Bernerd Fortuin.

Shimmy Isaacs is Bennas.

Danny Ross is Bevan.
Drie vinnige feite
- Die vervaardigers, skrywers, lynvervaardiger en regisseur is oorspronklik almal van die Paarl.
- Solomon Cupido is klaustrofobies, maar het dit reggekry om ’n toneel in ’n hysbak te verfilm.
- Omdat die eerste twee dae van verfilming by Media24 se kantore in Kaapstad plaasgevind het, het Solomon elke dag 26 vloere se trappe geklim om die hysbak te vermy.
Kyk die lokprent vir FRANKIE EN FELIPÉ hier!

