Skrywer: Alita Steenkamp
’n Opwindende naweek vir boekliefhebbers vind eerskomende naweek (23 – 25 Februarie) in die kusdorp Stilbaai plaas met die derde Stilbaai Boekefees wat mense van wyd en syd gaan lok.
Die organiseerder van die fees, Elna van der Merwe, sê die fees het nou die eerste venue, die Baptiste Kerksaal in Stilbaai-Oos, ontgroei en skuif nou oor na die Stilbaai Gemeenskapsaal wat baie meer mense kan huisves en ook spog met baie meer geriewe.
Bekroonde skrywers, joernaliste, mediapersoonlikhede en akademici gaan luister aan hierdie fees verleen. Dit sluit mense soos Louise Viljoen, Antjie Krog, Julian Jansen, Waldimar Pelser, Chris Karsten en Adriaan Basson in. Daar is heerlike boek- en aktuele gesprekke en poësievoorlesings en dit word aangevul met etes, wynverkope en toeriste-ontspanning.
Op Vrydag 23 Februarie open die fees met ʼn heerlike olyfolie-proesessie wanneer Ilse van der Merwe haar nuutste kookboek, Easy Al Fresco bekendstel. Vrydagmiddag word toegewy aan poësie. Prof. Louise Viljoen gesels uit ʼn akademiese oogpunt oor Antjie Krog se jongste digbundel Plunder terwyl Antjie later self uit die bundel sal voorlees. Antjie is nie die enigste digter wat gaan voorlees nie. Bibi Slippers en Tom Dreyer sal beide van hulle eie werke voorlees. In die tyd sal feesgangers die kans kry om heerlik agteroor te sit en net te luister na die woorde van die digters self. ʼn Glasie wyn vanaf die kontantkroeg en ʼn bordjie kaas sal die verrigtinge net soveel lekkerder maak.
Die aand volg daar ʼn interessante gesprek wanneer die joernaliste Qaanidah Hunter en Adriaan Basson met Waldimar Pelser gesels oor hulle boek Who will rule South Africa next?
Op Saterdag 24 Februarie kry die fiksieskrywers die geleentheid om meer te kom vertel oor hulle skryfwerk. Elsa Winckler (Perfekte formule) en Erla Diedericks skop die dag se gebeure af en gesels met Elna van der Merwe oor liefde, erotika en misdaad. Hierna gesels die skrywers Chris Karsten (Moormansgat) en Irna van Zyl (Kwaaiwater) met Wicus Pretorius, die redakteur van die leefstyltydskrif Tuis. Voor middagete gesels Morné Malan (Minder as water) en Nicole Jaekel Strauss (Deelfontein) met die aktrise Susan Beyers. Ná middagete kom die joernaliste Daniel Steyn en Julian Jansen aan die beurt wanneer hulle met die TV-aanbieder Kabous Meiring gesels oor die boek The Thabo Bester Story wat Steyn saam met Marecia Damons geskryf het. In ʼn volgende gesprek gesels die skrywer SJ Naudé en Louise Viljoen oor Naudé se boek Van Vaders en Vlugtelinge. Die dag en die fees se verrigtinge word op ʼn interessante noot afgesluit met ʼn gesprek oor rassisme. Hierdie gesprek, Rassisme in “veilige ruimtes”: Een tree vorentoe, twee treë terug? vind plaas tussen Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen en die mediapersoonlikheid Ingrid Jones is die gespreksleier.
Op Sondagoggend 25 Februarie is daar die geleentheid om saam met Nico Steenkamp in ʼn 8 km lange staptog die skoonheid van die Stilbaai-omgewing te verken.