Internasionale Moedertaaldag
Februarie is Moedertaalmaand en op 21 Februarie vier ons weer eens Internasionale Moedertaaldag. ‘n Dag wat deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ingestel is om op die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld en die impak wat dit op kultuur het, te fokus.
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die belangrikheid van moedertaalonderrig is opnuut op die voorgrond, veral in die lig van die verwikkelinge op regeringsvlak en die moontlike aanvaarding en promulgering van die *Bela-wet wat ’n direkte impak op gehalte onderrig en veral ook moedertaalonderrig sal hê.
Talle kinders sukkel reeds akademies en sosiaal om die mas op te kom omdat hulle noodgedwonge in hulle tweede of selfs derde taal moet skoolgaan. Die impak strek nog verder, want met ’n akademiese agterstand is dit moeilik om in te haal op tersiêre vlak en uiteindelik die arbeidsmark te betree en ’n volhoubare ekonomiese bydrae te lewer. Dit lei weer tot grootskaalse werkloosheid en natuurlik negatiewe sosio-ekonomiese gevolge.
Op skool-, sosiale en emosionele vlak
Dink self as jy wiskunde of wetenskap moet baasraak (wat reeds vir baie moeilik is) en dit word nie in jou moedertaal aangebied nie. Jy moet soveel harder werk om net die basiese konsepte te verstaan. Of jy bevind jou tussen medeleerders wat nie noodwendig jou moedertaal praat nie. Onmiddellik het dit ’n impak op jou selfvertroue, want veral as ’n mens ’n tiener is, wil jy tog nie soos ’n seer duim uitsteek nie, en hou jy dan liewer jou mond in geselskap. Dit geld ook vir deelname in die klas. Leerders wat in hulle moedertaal kan skoolgaan, het sommer meer selfvertroue, neem deel aan gesprekke en is bekkig in enige geselskap.
Niemoedertaalonderrig kan ook jou kind se emosionele ontwikkeling raak en dit kan lei tot probleme soos angstigheid, depressie, aggressie, frustrasie en sommer net ’n gevoel van “ek is nie goed genoeg nie”.
Lees met begrip
Dan is daar ook die netelige kwessie van ons leerders se leesbegrip. Volgens die 2023-PIRLS-verslag (Progress in International Reading Literacy Study) is dit bevestig dat Suid-Afrika met ’n groot krisis te make het. Slegs 19% van ons graad 4-leerders kan met begrip lees. Die ander 81% van hierdie leerders kan dus nie lees met begrip nie. Met ander woorde, hulle gaan ook sukkel om te leer, want hulle verstaan nie wat hulle lees nie. Toegegee, heelwat kinders kan lees, en dikwels heel vlot, maar dis nie waaroor dit gaan nie – daar moet seker gemaak word hulle verstaan wat hulle lees sodat hulle die inligting binne konteks kan interpreteer en toepas.
Voordele van moedertaalonderrig
Wêreldwye navorsing het getoon dat kinders wat tot ten minste graad 4, maar verkieslik langer, moedertaalonderrig ontvang, akademies beter in al hulle vakke presteer as kinders wat nie moedertaalonderrig ontvang het nie. Laasgenoemde onderpresteer dan ook dikwels. Tog glo baie ouers dat hulle hul kinders ’n voorsprong in die lewe gee en hulle beter voorberei vir die toekoms om hulle in Engels te laat skoolgaan, ongeag hul moedertaal. Daar is selfs navorsing wat aandui dat slegs sowat 62% van leerders verkies om in hulle moedertaal onderrig te word. Om egter onderrig in jou moedertaal of eerste taal te ontvang, is steeds eerste prys. Dit bly ’n feit: Moedertaalonderrig verbeter die gehalte van onderrig oor die algemeen en dit lei tot akademiese sukses. Moedertaalonderrig het ook die volgende voordele:
- Die kind of tiener voel hy pas in. Moedertaalonderrig bevorder leerders se identiteitsvorming en -besef, en dus ’n positiewe selfbeeld en selfvertroue wat deelname in die klas, op die sportveld en op kulturele vlak positief beï
- Moedertaal is goed gevestig en daarom is dit makliker om moeilike konsepte te verstaan en elders toe te pas. Omdat die leerder se moedertaal goed gevestig is, is sy vaardigheid op hoëfunksievlak in byvoorbeeld Engels soveel beter en gee dit hom ’n mededingende voordeel – ook op internasionale vlak.
- Leerders is soveel meer taalvaardig en kan hulself dus beter uitdruk. Dit verbeter leerders se luister- en begripsvaardighede en versterk hulle linguistieke ontwikkeling, redenasie- en probleemoplossingsvaardighede.
- Taalvermoë (sterk taalbeheersing) bepaal akademiese prestasie. Gedurende graad 1 tot 4 moet kinders basiese vaardighede soos lees, skryf en reken baasraak en as dit in hulle moedertaal kan plaasvind, soveel te beter, want hulle gaan dit net soveel beter verstaan. Swak taalbeheersing kan lei tot leerprobleme.
- Leer jou kind in sy moedertaal, maak jy hom eintlik slimmer. Dis makliker vir leerders om kennis en abstrakte konsepte wat hulle in hul moedertaal verwerf het, na tweede, derde en meer tale oor te dra, as andersom. Dit is omdat kognitiewe ontwikkeling met moedertaalonderrig verhoog word.
Slotsom
Vir ons kinders om ’n gelyke kans op akademiese prestasie te hê, moet hulle tot ten minste graad 4 die voorreg gegun word om in hulle moedertaal (hul eerste en sterkste taal) skool te gaan en dit sluit al elf amptelike tale in. Dink net: Kinders sal verstaan wat hulle leer, hulle taal- en syferbegrip sal soveel beter wees en hulle sal skool net soveel meer geniet. En uiteindelik sal Suid-Afrika die vrugte hiervan dra, want ons kinders sal kan spog met goeie matriekuitslae en sal oor die algemeen net beter toegerus wees vir die toekoms.
*Die Bela-wet – Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys is reeds hier rondom September 2023 in die parlementêre portefeuljekomitee aanvaar en na die nasionale vergadering verwys vir oorweging. Ofskoon die finale besluit nog nie geneem is nie, is daar reeds talle organisasies, onderwysinstansies en individue wat kapsie gemaak het en aangedui het dat hulle beslis hof toe gaan. Volgens hulle is die wet ‘n kaping van ons skole en ‘n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig met uiters nadelige gevolge vir die gehalte-onderrig in veral Afrikaanse eknkelmedium-, maar ook alle Suid-Afrikaanse skole.
Lees ook:
O moedertaal, o soetste taal … – Afrikaans.com
Die gawe van moedertaal – Afrikaans.com
Vir meer inligting oor die voordele van moedertaalonderrig, klik hier Moedertaalonderrig – Afrikaans.com