Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
’n Mens se IK (intelligensiekwosiënt) is nog altyd as deurslaggewend beskou vir kinders se prestasie, maar met tyd kom wysheid en deesdae lyk dit asof emosionele intelligensie (EI) al hoe meer gesien word as die belangrikste bepaler vir sukses. Emosionele intelligensie bevorder goeie en blywende verhoudings, leersukses en vooruitgang. Jy word nie daarmee gebore nie, maar dit kan beslis aangeleer en ontwikkel word. En dit is waar ouers, onderwysers en versorgers ’n groot rol kan speel om die kind te help om homself te leer ken, homself te aanvaar en positief oor homself te voel. Om nie bang te wees om te waag om dit waarna hy strewe te verwesenlik nie. Afrikaans.com vertel jou hoe lyk so ’n emosioneel intelligente kind en ook hoe jy te werk moet gaan om so ’n kind groot te maak.
Wat is emosionele intelligensie dan?
Dit is die vermoë om jou eie emosies te erken en te reguleer, maar ook om die emosies van ander rondom jou, te verstaan sodat jy met empatie kan reageer, jouself kan reguleer om by omstandighede aan te pas en stres te hanteer en veral om jouself te motiveer. Emosionele intelligensie dra ook by tot suksesvolle sosiale interaksie en konflikhantering.
’n Emosioneel intelligente persoon ken sy sterk en swak punte, maar het die insig en selfvertroue om dit te hanteer.
Hoe lyk ’n emosioneel stabiele kind?
’n Kind wie se emosionele intelligensie goed ontwikkel is, ken homself, kan sy gevoelens verwoord, het ’n goeie selfbeeld en weet hoe om met sy maats om te gaan. Hy kan sy beurt afwag, hy deel maklik sy speelgoed en hou daarvan om sy maats te help. Hy het gewoonlik ook die vermoë om konflik, hartseer, woede en teleurstelling te hanteer, juis omdat hy sy eie emosies verstaan en daarom oor die emosionele vaardighede beskik om homself te reguleer. Oor die algemeen is gedragsprobleme ook minder. So ’n kind het respek vir ander se gevoelens en waardes. Omdat die kind ook seker is van homself, sal hy nie maklik negatief beïnvloed word nie – en sal beslis nie in die vuur spring omdat sy maatjie dit doen nie. Kortom, ’n kind wat sy emosies onder beheer het, dink voordat hy doen.
Raad vir daardie eerste skooldag wanneer emosies hoogty vier
Selfs jou emosioneel stabiele kind het gerusstelling nodig wanneer omstandighede verander. Soos wanneer hy die eerste keer moet grootskool toe gaan. Daarom:
Wees voorbereid. Skool is iets om na uit te sien, maar die meeste kinders is bietjie bang en onseker. Daarom is dit belangrik dat hulle vooraf ingelig word oor wat om te verwag en hoe hulle dag sal verloop.
Betrek jou kind. Die dag voor die eerste skooldag aanbreek, is dit belangrik om rustig te bly en te gesels oor die nuwe fase wat aangebreek het. Laat jou kind saam met jou sy skoolklere regsit, besluit saam oor wat in die kosblik gepak gaan word en pak sy skooltas.
Angstigheid is normaal. Dit is te verstane as jou kind angstig voel om vir die eerste keer grootskool toe te gaan. Goeie raad as hy nie ’n troosspeelding/-voorwerp mag skool toe neem nie, is om met ’n kokipen ’n hartjie op sy hand te teken. Elke keer as hy dit sien, sal hy weet mamma en pappa dink aan hom en vanmiddag kom hulle hom weer haal. Of laat hy ’n ronde klippie in sy sak hou – dis iets om aan te vat as hy onseker voel en gee onmiddellik gerusstelling.
Hou emosies onder beheer. As mamma is dit moeilik om die trane te keer as jou ooilam die eerste keer grootskool toe gaan. Dit is egter belangrik om nie voor jou kind emosioneel te raak nie. Moenie draal buite die skool/klaskamer nie. Laai jou kind af, groet (moet nooit versuim om dit te doen nie) en gaan. Dis baie belangrik om nie net te verdwyn nie.
Ontwikkeling van emosie
Babas wys hul emosies deur te huil of te glimlag/lag. En hier teen drie maande trek hulle al heelwat gesiggies. Hoe jy op hierdie gesiguitdrukkings reageer, is belangrik en dra by tot jou baba se latere emosionele ontwikkeling. Jou baba het nog nie insig in jou reaksies en emosies nie – daarom is gereelde oogkontak en reaksie op sy emosies baie belangrik.
Koester julle saamwees. Spandeer soveel moontlik tyd saam met jou baba – gesels met hom, speel met hom, neem hom op uitstappies en maak dit prettig. Vertel hom hoe oulik hy is as hy iets nuut regkry. Hier van ses maande kan jy begin om sy gevoelens te verwoord deur bv te vra: “Is jy moeg?” “Is jy hartseer?” En hou maar by roetine, want dit dra ook by tot jou baba se emosionele ontwikkeling, juis omdat hy weet wat om te verwag en dus veilig voel. Jou baba moet deur jou reaksie voel dat sy emosies ook belangrik is en dat dit jou gelukkig maak om by hom te wees.
Kleuters kan van ongeveer twee jaar oud al sekere gevoelens verwoord, maar omdat hulle nog nie die woordeskat het nie, kan hulle steeds gefrustreerd voel en op “negatiewe” maniere reageer. Jou rol as ouer is nou belangriker as ooit, want jy wil sy gedrag hanteer, maar wil terselfdertyd hê hy moet leer daaruit. As jy self gefrustreerd of kwaad is, is dit raadsaam om eers self te kalmeer voordat jy die situasie hanteer. Moet nooit uit woede optree nie.
Jou vier- en vyfjarige het reeds talle emosies waaraan hy uiting gee. Hy lag uit sy maag uit, en as hy kwaad is, kan hoor en sien vergaan. Dit is dus baie belangrik dat hy nou geleer word wat aanvaarbare gedrag is en hoe lekker dit kan wees om gehoorsaam te wees en dan geprys te word.
Vrese is werklik. Jou vier- en vyfjarige kind begin ook agterkom wat reg en verkeerd is. Nog ‘n faktor wat bykom, is die verskillende vrese wat die kind kan beetpak. Hy is dalk bang vir die donker. Moet dit nie afmaak as twak nie – stel hom gerus dat dit oukei is om bang te wees, maar moedig hom aan om die donkermonster aan te vat, want jy is daar vir hom en hy is in ‘n veilige omgewing.
Op skoolgaande ouderdom is dit belangrik dat jou kind die geleentheid kry om sosiaal met ander kinders te verkeer, deel te neem in groepsaktiwiteite, en so meer. As hy goed doen, wil hy hê jy moet dit raaksien en bevestig. Wys hom dus jy is trots op wat hy regkry. Help hom ook om oor sy gevoelens te praat sodat hy kan verstaan hoekom hy so voel. Help hom dan om die gevoelens ’n naam te gee en te beheer.
Gee jou emosies woorde
Rol van die ouer. Dis is onmoontlik om jou kind en ander se emosies te erken alvorens jy nie self eers leer om jou emosies te verwoord nie.
Wys hoe jy voel. Jy mag maar emosie wys, al is dit ook negatiewe emosies. Hoe jy daarop reageer, is wat belangrik is, m.a.w. die gedrag wat jy openbaar moet steeds aanvaarbaar wees. Jy mag maar vir jou kind sê jy is kwaad en teleurgesteld, maar doen dit op ’n kalm wyse. Gil en skree is onaanvaarbaar en gaan beslis nie die beste uitkoms bewerkstellig nie.
Lees ander se emosies. Deur met insig na ander te kyk, kan jy jou kind leer om die verskillende emosies raak te sien. Blaai deur ’n tydskrif en vra jou kind om die mense op die foto/prentjie se emosies te beskryf. Hy moet ‘n rede gee vir sy antwoord. Of staan voor die spieël en trek gesigte wat verskillende emosies verteenwoordig. Dit kan nogal prettig raak!
Luister na jou kind. Maak seker jy luister mooi wanneer jou kind vir jou sê hoe hy voel sodat jy hom dan op ’n eenvoudige manier kan leer hoe om te reageer – selfs al is jy nie saam met hom in die situasie nie.
Leer hom stoom afblaas. Leer jou kind om eers te dink hoe om te reageer. Moedig hom aan om oplossings te kry en uiting te gee aan sy gevoelens. Dalk moet hy eers ’n bal gaan skop, of ’n ent gaan fiets ry om ontslae te raak van die liggaamlike reaksie op sy emosies. Daarna kan hy dan op ’n meer gepaste wyse reageer.
Negatiewe emosies is oukei. Leer jou kind dit is normaal om negatiewe emosies te ervaar en dat hy nie hoef skuldig te voel daaroor nie. Weereens … dis die manier waarop hy reageer wat saakmaak.
Watwou seuns mag nie emosie wys nie! Seuns moet juis aangemoedig word om te sê en te wys hoe hulle voel – hulle mag maar huil. As hulle gedwing word om hul emosies te onderdruk, kan dit nadelige gevolge hê en kan hulle sommer uit die bloute uit oorreageer.
Dus:
“Jy kan nie jou emosies kies nie, maar jy het wel ’n keuse hoe jy daardie emosies gaan gebruik en daarop gaan reageer.”
Wys en sê gerus wat en hoe jy voel, maar doen dit met insig en respek teenoor ander, en ook jouself.
Bronne:
Jou baba se emosionele intelligensie | Baba en Kleuter (netwerk24.com)
Emosionele ontwikkeling | Life (news24.com)
Lees ook:
’n Gesonde ouer-kindverhouding sorg vir ’n gelukkige huis en emosionele welstand. – Afrikaans.com
Skoolgereedheid: Is my kind gereed om die eise van groot skool te hanteer? – Afrikaans.com
Grootskool …Help jou kind om uit te sien na skool. – Afrikaans.com