Skrywer: Alita Steenkamp
Foto: Verskaf
Hy het die kuns bemeester om ʼn verwikkelde storielyn ragfyn inmekaar te weef sodat dit jou week na week op die punt van jou stoel hou.
Dit het sy reeks Trompoppie pas bewys. Etienne Fourie, storieverteller, maar ook prentjieman wat die hele wêreld in prentjies sien, is die brein agter Trompoppie. Vir Etienne was dit veral lekker om met Trompoppie nie net die storie te kon skryf nie, maar ook as die regisseur op te tree. Boonop was daar menige ander hoede wat hy opgesit het tydens die verfilming van hierdie reeks. So erg was die druk op hom dat hy in hierdie tydperk 12 kilo’s verloor het. Maar, gee hy toe: hy wag steeds vir iemand om vir hom te sê wat hy doen is bloot net nie goed genoeg nie.
Oor die inspirasie vir Trompoppie sê Etienne hy het eendag, terwyl hy besig was op ʼn ander stel waar dit soms maar moeilik gegaan het, gedink dat hy iets sal wil skep wat net pret is om te doen. Met die het die idee van Trompoppie gekom. Hy het in sy geestesoog ʼn meisie in ʼn kamer sien sit (Luna), maar dis nie haar kamer nie en sy is half ʼn indringer. Trompoppies was nog altyd vir hom iets besonder en hy het ook tong in die kies iets feministies probeer sê. Daarvoor het hy hierdie spesiale spasie nodig gehad en die spogskool Deacon College is gestig. Hierna het die hele skryfproses baie vinnig verloop. Daar was immers nie enigsins tyd om te veel te tob nie. In die vermaaklikheidswêreld is die wiel altyd aan die draai.
Etienne Fourie is besonder produktief en het al wonderlike bydraes tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gelewer. Hy het destyds die toneel betree met ʼn draaiboek vir die rolprent Klein-Karoo. Sedertdien was daar flieks soos Dis Koue Kos Skat (gebaseer op Marita van den Vyver se boek), Windpomp, Liewe Kersfeesvader, Stiekyt en Strikdas. Die baie suksesvolle televisiereeks Tydelik Terminaal is ook een van Etienne se skeppings. Benewens al die televisiereekse, kortflieks en rolprente, het hy in 2021 as romanskrywer gedebuteer met Man in die maan. Tans werk hy aan twee reekse Engelse kinderboeke vir Penguin sowel as die draaiboeke vir twee flieks. Altyd besig.
“Om stories te kan vertel, bly nou maar die heel lekkerste ding,” gesels Etienne uit sy woonplek in Mouillepunt, Kaapstad. “Dan hou ek veral daarvan om wêrelde te skep waar ek my eie reëls kan maak. Jy skep ʼn klein mikrokosmos en daarbinne het jy die beheer en kan jy dinge plooi soos jy wil. Voorbeelde hiervan is in Stiekyt en Die Windpomp. Die moeilikste ding bly maar om jou gehoor te ‘vang’ en seker te maak jy hou hulle gevange.”
Hy lag en sê hy het aanvanklik erge kritiek verwag op die fliek Stiekyt wat gaan oor ʼn man in ʼn heteroseksuele verhouding wat besluit om ekstra geld te maak deur as ʼn fopdosser te gaan dans in ʼn nagklub waar die fopdossers uithang. Tog nie, gee hy toe. Dit was vir hom geweldig interessant om te sien hoe oorsese gehore by van die filmfeeste honger is om meer van die Afrikaanse kultuur te leer. “Afrikaanse gehore het my baie meer kwalik geneem dat ek vir Annemart van der Merwe laat f@k sê het,” lag hy, “maar eintlik was dit in die script.”
Hy en Afrikaans stap ʼn interessante pad, sê hy. Toe hy ʼn kind was, het hy gevoel daar is niks Afrikaans waarna hy kon kyk of luister nie. Op universiteit het hy ervaar hoe die Engelse studente half neerkyk op die Afrikaanse studente en die musiek waarna hulle luister en die boeke wat hulle lees. In hierdie tyd het die groep Fokofpolisiekar op die toneel verskyn en het daar ʼn hele nuwe terrein oopgegaan wat musiek, drama en rolprente betref. Dis so half uit weerwraak teenoor die Engelse se houding wat hy sy werk op Afrikaans toegespits het en vandag is hy dankbaar hieroor.
“Die Engelse kinders het half neergekyk op ons, maar ná Fokofpolisiekar was daar skielik ʼn wending gewees. Op universiteit was my plan om Engelse stories te vertel, maar toe ek sien hoe die Engelse studente neerkyk op ons, het ek my gewip. “Ek sal julle wys!” het ek besluit, want ek was de duiwel in. Dit was dus meer uit moedswilligheid en moerigheid dat ek begin het om Afrikaanse goed te maak. Vandag is ek so dankbaar daaroor, want dit maak net sin vir my.
Jy druk jouself net anders en beter in jou moedertaal uit.
“Tog weet ek nie altyd waar ek met die Afrikaanse kultuur staan nie. Ek is te oud om na ʼn Jack Parow-konsert te gaan, want ek wil nege-uur by die huis wees. Dis tricky omdat ek nie altyd weet waar ek inpas nie. Met my werk probeer ek regtig om daardie gaping te vul. Iets soos Trompoppie is ʼn voorbeeld hiervan. Die dialoog is Afrikaans, maar dit kon net sowel in enige ander taal gewees het. Ek het nie probeer om die Afrikanerkultuur uit te beeld nie. Dis nie politiek nie, maar rêrig maar net vermaak en iets wat ek graag sou wou doen. Ek wou graag die beste doen wat ek kan doen en ek dink dit is waar ek inpas. Dis die enigste plek waar ek inpas in hierdie niche wat ek probeer bou.”
Om met iemand soos Etienne te gesels is vervullend, veral wanneer ʼn mens hoor hoe tevrede hy is met alles wat hy doen en sy lewensomstandighede. Daar was ʼn baie donker tydperk in sy lewe wat hy agter hom kon sit. Vandag is hy en Retief Scholtz, hoofskrywer van die televisiesepie Suidooster, dolgelukkig. Dis hierdie tevredenheid wat neerslag vind in sy werk, besef ʼn mens dan.
“Retief is die beste mens wat ek ken en hy is my mens. Die mens vir wie ek die liefste is op aarde. Ons dinge werk so goed uit, want in die bedryf waarin ons werk, het ons maar moeilike skedules. Tog het ons baie respek vir mekaar se tyd en skedules en so aan, dit is ʼn resep vir sukses. Ek het nooit gedink happiness gaan dit doen nie. Ek is meer kreatief en meer vry as wat ek ooit was. Daarom is ek so ongelooflik dankbaar vir die lewe wat ek het. Ek het nooit gedink ek gaan ʼn happy ending hê nie, maar elke dag is net vir my ʼn joy en dit is alles net te danke aan Retief.”







