Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Verandering van spyse gee eetlus.” In Engels sê ons “a change is as good as a holiday” – en wie hou nou nie van vakansie hou nie.
Tog is ons lugtig vir verandering – dis mos lekker en veilig in ons bekende bestaansborrel. Daar waar ons weet waar ons volgende salaris vandaan kom, waar ons ‘n vaste adres het, die pad werk toe ken en gemaklik voel tussen vriende en familie. As ons dus “gemaklik en veilig” voel, hoekom sukkel so baie van ons met angs, depressie, verveeldheid en uitbranding? Hoekom is ons nie altyd “bright eyed and bushy tailed” nie? Die kort antwoord is: Die lewe gebeur. Ons dink dalk ons kan alles beheer, maar ongelukkig nie. Omstandighede verander en ons moet noodgedwonge aanpas. En dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie.
In ‘n artikel in die jongste Sarie-tydskrif (Januarie/Februarie 2024, pp. 59 – 61) – Hoekom is ons so bang vir verandering? deur Riette Rust, sê prof. Salomé van Coller-Peter, hoof van leierskapbegeleiding aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, dat “die effek van verandering van mens tot mens verskil“. Party gryp verandering aan, “veral as jy maklik verveeld raak, nuuskierig van geaardheid is en die verandering as ‘n geleentheid en uitdaging beskou”. Diegene wat bang is vir verandering is volgens prof Van Coller-Peter nie noodwendig angstig oor “die verandering self nie, maar eerder wat dit van ons gaan verg en hoe dit ons gaan beïnvloed”. Jy doen afstand van die bekende en “word met nuwe omstandighede gekonfronteer”. Dit is wanneer ‘n mens maklik kan twyfel aan jou vermoëns en natuurlik is ‘n mens bang vir mislukking. Soos prof Van Coller-Peter tereg sê: “Ons is ‘gewoontediere’, nie bedraad vir verandering nie.”
Verandering is nodig
“Verandering het ‘n fisieke effek op die brein. Nuwe neurobane word gevorm en hoe meer jy by verandering aanpas, hoe meer is jy in staat daartoe.” Die slim mense reken dat wanneer dinge verander ons breine dink “iets is verkeerd” en die “emosionele sentrum in ons brein word geaktiveer – dit is daardie gedeelte wat ons veg-of-vlug-reaksie beheer”. Volgens prof Van Coller-Peter moet ons plek maak vir verandering om nie “agter te bly, te verarm en te vereensaam” nie. Ons moet daarom verandering as iets opwindends sien. Ja, ‘n mens voel onseker, maar as ons gesindheid positief ingestel is, sien ons dit as “’n geleentheid” en dit behoort dan nie “ons angsvlakke onnodig op te jaag nie”. Ons het almal die vermoë om te verander – onthou, jy maak die reëls, jy kies hoe en wat en wanneer iets moet gebeur.
Maak jouself gereed vir verandering
In genoemde Sarie-artikel gee prof Van Coller-Peter die volgende raad:
- Maak eers net klein veranderinge. Begin so bietjie anders dink en doen.
- Moenie afstand doen van roetine nie, want dit anker jou.
- Wees ontvanklik vir verandering – al voel jy jy weet niks van iets af nie – gee dit ‘n kans. Laai gerus daardie bank-app op jou foon af.
- Bly op hoogte van nuwe dinge. Wees ingelig en honger vir meer kennis. Gaan lees byvoorbeeld oor Kunsmatige Intelligensie (KI) en die 4de industriële rewolusie – jy sal verstom wees.
- Bly veerkragtig deur aktiewe deelname – aan gesprekke en dies meer. “Jou mening tel!”
- Sien om na jou gesondheid en algemene welstand – eet reg, oefen, rus genoeg.
- Wees voorbereid op die “moontlike finansiële terugslag en werksverlies”. Sorg vir ’n neseier.
- Stel ’n ondersteuningsnetwerk in plek. Ons het almal iemand nodig wat verstaan en op wie se skouer ons kan huil as die opdraande te steil word.
- Aanvaar dat jy gaan foute maak – moenie jouself daaroor kasty nie. Sien dit as ’n leerskool.
- Moenie jouself te ernstig opneem nie. Lag gereeld en uit jou maag uit.
Onthou, verandering is ’n reis, maar is nie iets wat binne ’n dag plaasvind nie – behalwe as dit verandering is waaroor ons nie beheer het nie, soos ’n natuurramp of die skielike dood van ’n geliefde. Verandering waaroor ons beheer het, verg beplanning, konsultasie en baie voetwerk. Maar neem gerus daardie eerste stappie en gee verandering ’n kans. Dit verg moed, aanpassing en dikwels ongemak, maar dit is ook ’n wonderlike manier om nuwe geleenthede te ontdek, ons uitkyk te verbreed en te groei. Gryp die dag!
Bron: Sarie-tydskrif: Januarie/Februarie 2024; Artikel: Hoekom is ons so bang vir verandering deur Riette Rust, pp. 59 – 61.