Gee vir jou geliefde ’n digbundel.
In die maand van die liefde fokus NB-Uitgewers op liefdesgedigte van vier bekende Afrikaanse digters, Bibi Slippers, Tom Dreyer, Pieter Odendaal en Antjie Krog. Lees net hoe mooi verwoord hulle die liefde en verlange.
Kyk ook gerus op NB Uitgewers se webblad vir hulle puik aanbod.
blousyselbos
Uit Soekenjin deur Bibi Slippers (Tafelberg, 2023)
blousyselbos
o blou dae van verlange na die tyd van ons begin
o blou bloeisels van ’n rein herinnering
ons staan soggens met ons rûe teen die rankplant
en blou blommetjies klou heeldag aan jou hemp.
ek pluk jou snags skoon soos ’n wyfiebobbejaan,
my vingers leer jou liggaam ken. ek kry jou klaar lief!
dis wedersyds te vinnig en te veel maar omdat ons
die dol gevoel deel is die waansin dalk verhaalbaar.
blousyselbos, bid ek toe die son weer oor ons opkom,
beskerm my teen weerlig en die bose, amen.
o blou belofte uit ’n mond wat van beter moet weet
o blou dae van verlange na die tyd van ons begin
plumbago? prewel ek met my vinger in jou bek,
as jy wil, wil ek,
as jy in is, is ek in.
midsomermiddag
Uit Nou in infrarooi deur Tom Dreyer (Kwela, 2023)
midsomermiddag
ek sien jou weer digby elgin
in ’n staning eikebome, helena langs
die dardanelle, te mooi vir die chroomstrips
van ’n renault se kajuit
jy kyk op na die trompe l’oeil
van takkies teen die son
ons gruispad is verlate
ons kothuis ’n weerkaatsing
jy druk jou langs my op
van jou vingerpunte af ’n knettering
van spier wat verby voorarm en elmboog
strek langs die monding van jou skouer
en van daar na jou lippe, jou hare
en die blink korona van jou besinnings
laat ander mense glo in ryke en siklusse
en dinge wat herhaal
ek droom
oor die presiese konfigurasie
van son en blare toe jy oor my leun:
“natuurlik is ons onvervangbaar”
dis lente, jy’s op pad
Uit Ontaard deur Pieter Odendaal (Tafelberg, 2023)
dis lente, jy’s op pad
makhanda, 8.10.21
erdwurms kom op vir asem
onder die bome – reusesuigstokkies
in die grond se deurweekte kieste
jou afwesigheid groei my toe
soos die katteklou teen die agterheining
ek kan jou nie deur die digtheid sien nie
jasmynblommetjies sneeu die oggend vol
ons klere netjies opgevou vir jou lyf
jy is al een wat maande lank skort
ek wag soos ’n kind op ’n post-kerk-sondag
vir die roomyskarretjie se klokkie
vir die smeltende somer van jou mond
om my breinfreeze beter te soen
dis wanneer ek weg van jou is
Uit Plunder deur Antjie Krog (Human & Rousseau, 2022)
dis wanneer ek weg van jou is
dis wanneer ek weg van jou is
dat ek skielik oorval word
deur ’n vrees: hoe sou my lewe
sonder jou wees?
want skielik sien ek jou van ver af
hoe jy nou by die huis
jou sekure onopvallende gang gaan
met die silwer poniestert op jou rug
en weet hoe ek my hele lewe lank nog
op jou kon vertrou
op jou oordeel
jou moerige morele kompas
jou onversetlike empatie
jou onbuigbare begrip en respek vir my
jou x-straalverstaan van my diepste verrottings
jou korte-mette-taalgebruik
jou sagte hart jou harde tong
en dat ek altyd en altyd
van waar ook al ná wat ook al
na jou kan terugkeer
en dat jy bly sal wees om my te sien
ek weet ook dat jou binnekant
vol kommer is en stres
jou magteloosheid wat jy vir jouself hou
en dat jy soms, as jy alleen is, dink
dat ek jou nog nooit lief genoeg gehad het nie . . .
dat ek jou gekies het as ’n heenkome
en nie as die volvoering van vurige liefde nie
ek omhels jou deur al die versperrings van die gedig
met sulke spytige verwyte het ek geen geduld nie
ek weier om argumente en bewyse daarteen uit te myn
ek weet net dat die blote gedagte aan jou êrens in die huis
my roosblaarlig tot rus bring
kom ons lê bymekaar en hou mekaar vas
en dink intens daaraan: ons het nog mekaar
hoe kosbaar dit is
dat geen ramp ons nog getref het nie
dat ons lywe hier bymekaar lê
oud, maar wonderlik ongeskonde
ek kan my hand oplig en jou vertroude wang skulp
ek kan my oë toemaak hier teen jou bors
jou palm met sy bekende naels
en geliefde vingers om my skouer
’n diepste woord kan ek sê
en jou skoon binnekant sal my antwoord
ons het nog mekaar ongeskonde
kom ons maak ons oë toe en kyk nie vooruit nie
belas ons nie met die voorafkwellinge van verlies nie
dink nie wie eerste sal wegval nie
gebruik nie die woord langslewende nie
die eensaamheid daarvan
laat ons gedagtes nie daar talm nie
kom ons lê bymekaar, ons lywe nog verhewe bo die dood