Skrywer: Alita Steenkamp
Daar is altyd ’n Afrikaanse woord of twee wat selfs die flinkste spelkampioen laat twyfel. Een es of twee esse? Een l of twee? Word hierdie woorde aanmekaar geskryf, of is dit juis altyd los.
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is bewus van hierdie probleemareas, en help graag taalgebruikers wat so goed as moontlik wil spel. In ʼn onlangse sosialemediaplasing is daar na die volgende tameletjies verwys:
Let daarop dat dadelik met een l geskryf word, maar onmiddellik met twee l’e. Moenie onmiddellik se tweede d vergeet nie.
Met vanaand is die “van” deel van die woord en dus vas. Van voor af word as drie los woorde geskryf. So ook van naby af, van hier af en so meer.
Satelliet het twee l’e. Moenie die tweede een vergeet nie.
Tameletjie het nie ʼn kappie nie. Mense is ook geneig om dit met ʼn a te wil skryf. Net een a en drie e’s is die korrekte manier.
Komitee met sy een m en een t verwar mense soms wanneer hulle sien kommissie het twee m’e en twee s’e. Dink maar daaraan dat ʼn komitee veel kleiner is as ʼn kommissie en dus nie die dubbel letters verdien nie.
Infaseer, baseer, formateer en dateer het al vier ʼn dubbel e aan die einde. Moenie van basis basseer probeer maak nie.
ʼn Woord wat mense soms uitvang is monnike. Ja, ʼn dubbel n maar net een k is die korrekte manier om dit te spel.
Die persoon wat ʼn kanon afvuur, word ʼn kanonnier genoem. Let wel die dubbel n.
Wanneer blok ʼn werkwoord word, kry dit ʼn dubbel k – blokkeer.
Jy het ʼn teenstander in ʼn tenniswedstryd. Net een a. Daarteenoor word staander soos blommestaander of plantstaander met ʼn dubbel a gespel.
Vir die alewige onsekerheid oor die woord toe saam met ʼn ander woord, gee dr. Wannie Carstens die volgende verduideliking wat hiermee sal help.
Daar is eintlik baie eenvoudige reëls onderliggend aan die skryfwyse hiervan:
- As “toe” in ʼn begrip verbind word met ʼn selfstandige naamwoord, word dit los geskryf. Altyd. Daarom skryf ons huis toe, dorp toe, skool toe, Kaap toe, fliek toe, ens.
- As “toe” verbind met ʼn bywoord, word dit vas geskryf, m.a.w. agtertoe, boontoe, binnetoe, buitetoe, soontoe, vorentoe, ens.
Kan nogal moeitlik wis
Ek is 65 jaar oud, en my agterent het op laerskool gebrand omdat ek nie kan spel nie. En op 65 weet ek nog steeds nie van esse en die elle nie. Dit is ver bo my begrip. Maar ek probeer…