Skrywer: Alita Steenkamp
’n Kaapse sterrekunde-erfenissentrum, die Centre for Astronomical Heritage, het in 2020 ’n projek van stapel gestuur om aan die verskillende volmane eg Suid-Afrikaanse name te gee. In ʼn berig wat op 31 Januarie in die Tygerburger verskyn het, word daar meer van hierdie projek vertel.
Die hele idee om name vir die verskillende volmane te gee, is iets wat eie is aan Noord-Amerika en dit is juis ook ʼn gebruik wat deur die inheemse bevolking van die streek begin is. Die sentrum het besluit dit sal baie meer gepas wees om name te gebruik wat eie is aan ons wonderlike en ryk kulturele erfenis. Daar is besluit om die eerste volmaan van die jaar, die sogenaamde Wolfmaan, te herdoop na die Bidsprinkaanmaan. Tradisioneel is hier nie wolwe in Suid-Afrika nie, maar ons weet almal hoe ʼn bidsprinkaan lyk. Van die ander name wat gebruik gaan word is Dassiemaan, Proteamaan en Heuningmaan. Die organisasie met lede van regoor die Kaap het die projek in 2020 van stapel gestuur en het reeds daarin geslaag dat die Afrikaanse Taalmonument eksklusief die name gebruik wanneer hulle saam met die Orion observasiegroep sterrekykgeleenthede en volmaanpieknieks op Paarlberg aanbied.
Hoe mooi is dit nie: Bidsprinkaanmaan.