Skrywer: Alita Steenkamp
Om laataand in ʼn restaurant te sit en kuier, bly maar altyd lekker. Soms word daar diep dinge gesels. Hartsake wat jy nie sommer op ʼn ander plek sal kwytraak nie. Ander kere gesels jy bloot nonsens, maar geniet dit in elk geval. Dit is die resep wat Rian van Heerden gebruik in sy programreeks Laataand by Rian. Rian nooi ʼn gas uit vir ʼn laataandgesprek in sy restaurant, Delizioso, in Doringkloof, Pretoria. ʼn Splinternuwe reeks van hierdie laataandkuiers het vroeg in Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) afgeskop. Rian vertel dat hy baie opgewonde is oor hierdie nuwe seisoen. Seisoen 1 het immers vir ʼn hele paar juwele gesorg.
“Ek het al soveel interviews gedoen in my lewe, ek het ophou tel, maar hierdie is anders. Dit is mense met wie ek wíl gesels. Daarby maak die feit dat ons dit in die restaurant opneem, die saak heeltemal anders. Mense is net baie meer ontspanne as wat hulle is wanneer ons in ʼn ateljee opneem. Hulle is baie meer openlik en bereid om te gesels. Ek dink reeds wanneer hulle daar instap voel hulle onmiddellik gemaklik. Die atmosfeer is baie warm en dit werk in daai restaurantjie van my. Wat dinge dan so interessant maak, is wanneer ons die tweede gas inbring, want dit neem altyd die gesprek bietjie na ʼn ander vlak toe. Dis altyd so lekker om die gas vir die aand se reaksie te sien wanneer die tweede gas instap,” sê Rian.
In die eerste episode van Laataand by Rian het hy gesels met die leier van die splinternuwe politieke party, Rise Mzansi. Songezo Zibi, leier van die party, het sy droom om president van die land te word met Rian gedeel. Sy verrassingsgas was Deon Ryx, ʼn spiritistiese medium (psychic) wat kom vertel het hoe groot Zibi se kans is om die posisie te beklee. Interessante kykstof!
Rian het aan die einde van verlede jaar aangekondig dat hy nie voortaan as radio-omroeper gaan werk nie. Dit was nogal ʼn groot teleurstelling vir baie van sy luisteraars. Rian trek bloot sy skouers op. “Ongelukkig is die medium nie meer wat dit was nie. Ek voel elke radiostasie neig nou meer in ʼn konserwatiewe rigting. Radio maak nou elke dag sagopoeding of blueberry muffins. Dieselfde vervelige storie op verskillende stasies. Die dae met mense met hulle eie vooropgestelde idees wat uitgedaag word deur die omroeper, daardie dae is verby. Ons moet dit nou op ander platforms doen. Tans is ek besig met ander dinge wat vir my heerlik is. Ons maak televisiereekse soos Laataand by Rian en dit het weer sy eie uitdagings, maar dis lekker,” verduidelik hy dan hierdie besluit van hom.
Rian is ook die aanbieder van die baie gewilde speletjiesprogram, Wie word ʼn Miljoenêr. Hy vertel dat dit iets is waaroor hy baie lank gedroom het: om aanbieder te wees van ʼn interessante en opwindende realiteitsreeks. Toe die geleentheid sy pad kruis om hierdie gewilde program aan te bied, het hy nie gehuiwer nie, selfs al is hy nie betrokke by die vervaardiging daarvan nie. Planne is in plek om in hierdie jaar met opnames vir die derde seisoen te begin. Dit is iets waarna hy baie uitsien.
“Daar is min programme op daai vlak en dit is wat dit so lekker maak. Dis ʼn massiewe show en wanneer jy daar op die stel staan en dis ligte en die temamusiek speel, dan klop jou hart vinniger met al die adrenalien. Alles gaan daar oor die regte antwoord en as aanbieder moet jy help om die spanning te laat opbou. Ek vind dit heerlik,” sê hy hieroor.
Tyd vir stilsit is daar nie meer vir Rian van Heerden nie. Soos hy self verduidelik: as hy nie in die oggende by die kantoor van sy produksiemaatskappy opdaag nie, sal die huur nie betaal kan word nie. Hy lag en sê hy slaap deesdae baie slegter as voorheen toe hy by die radio ʼn vaste werk gehad het. Nou moet hy sorg dat die dinge gebeur. Daar is opwindende dinge in plek vir die res van die jaar. Ook ʼn fliek, maar daaroor kan hy nou nog nie veel verklap nie. Dit gaan egter ʼn fliek wees wat die hoenderhok gaan skud, beloof Rian.
“Natuurlik kom dit met sy eie uitdagings, maar ek verkies dit so dat ek ook ʼn rol te speel het in die televisieprogram wat uiteindelik uitgaan. Daar is soveel elemente waarvan seker gemaak moet word en dinge moet op die regte manier bestuur word om seker te maak die produk gaan uit op die standaard wat ons verkies. Dan kies ek ook self my gaste en die verrassingsgaste en dis ʼn voorreg om dit te doen. Partykeer werk dit, ander kere nie. Dan is dit maar terug na die drawing board. Dan moet jy opkom met ander planne, maar dis juis wat dit so uitdagend maak. Ek het nog nooit nee gesê vir ʼn uitdaging nie.”