Skrywer: Alita Steenkamp
Foto’s: Netwerk 24 en Participate
Sy het kykers se harte gesteel as Bibi in Getroud met rugby. Die mooie Bibi wat soveel uitdagings in die lewe te bowe moes kom. Mense noem haar nou nog Bibi, maar daaraan steur sy haar nie te veel nie. Tans is Stephanie Baartman te sien as Lettie in kykNET se telenovelle Diepe Waters. Weer eens ʼn geliefde karakter, maar soos Stephanie sê: “Lettie se kop haak nou en dan maar lekker uit.” Oor hierdie opmerking lag sy spontaan en voeg dan by: “Dan dink ek altyd: O daar verloor ek nou weer honderde aanhangers.”
Stephanie kan egter van een ding verseker wees: Die getroue kykers van Diepe Waters vergewe Lettie Adonis keer op keer wanneer sy iewers ʼn dom besluit neem. “Ek is obsessed met Diepe Waters,” erken Stephanie dan. “Dis vir my baie lekker om te kyk wat die ander akteurs doen en wat in die ander storielyne aangaan. Omdat Lettie byna die hele tyd in haar kêffie is of by Henry in sy cottage, sien ek maar baie min wat met die ander akteurs aangaan. Daarom geniet ek dit deeglik om Diepe Waters te kyk.”
Vir Stephanie is dit besonder lekker dat Lettie, nes Bibi, so nou en dan kans kry om te sing. Stephanie beskik oor die mooiste sangstem en dis elke keer so lekker om na haar te luister. “Ek het onlangs met die vervaardiger van Diepe Waters, Roberta Durandt, gesels oor moontlikhede wat daar is om vir Lettie te laat sing. Die kykers het van hulle laat hoor en hulle geniet die singery. So hopelik is daar genoeg kans daarvoor in die nuwe jaar,” sê sy opgewonde.
Stephanie vertel hoe sy ná haar matriekjaar ʼn diensjaar vir Christus gedoen het in lande soos Duitsland, Portugal, Swaziland en Mosambiek. Sy en die res van die span het die Woord met musiek en drama verkondig en dis iets wat sy baie geniet het. Aan die einde van daardie jaar het sy ingeskryf vir drama-opleiding aan die Northlink Kollege in Kaapstad. Hier het Woutrine Theron haar raakgesien en haar gekeur om saam met ander studente aan die Technikon Pretoria drama te studeer. Sy moes die moeilike pad volg om met kinderteater te begin en sê as sy enige raad vir ʼn jong dramastudent kan gee, sal dit wees om kinderteater te doen. Dis ʼn wonderlike leerskool en glad nie so maklik soos wat dit dalk mag lyk nie.
Die geleentheid om Bibi te speel het onverwags gekom. Toe Deon Opperman en sy span akteurs begin soek het vir die dramareeks Getroud met Rugby wat in ʼn sepie verander het, het een van haar ou studentemaats, Lelia Etsebeth gehoor hulle soek ʼn swart aktrise wat goeie Afrikaans praat en sy het dadelik vir Stephanie voorgestel. Op daardie tydstip het Stephanie in die korporatiewe wêreld gewerk, maar die geleentheid aangegryp. Sy het immers op ʼn jong ouderdom besluit sy sal graag vir mense vreugde wil bring met musiek en toneelspel. Die rol van Bibi het haar soos ʼn handskoen gepas en die volgende paar jaar was gelukkige jare by hierdie sepie wat in 2022 tot ʼn einde gekom het.
Stephanie gesels graag oor haar kinders. “My dogter Symphony het in 2023 haar graad 9 jaar voltooi en sy is 15 jaar oud. My seuntjie is elf jaar oud en is hierdie jaar in graad 6. Sy volle Zulu-naam is Dumazeni, maar ons noem hom Duma. Ander dag het ek ʼn optrede by Garden World in Johannesburg gehad ten bate van die Teaterbystandsfonds en ek het besluit ek gaan my kinders vra om saam met my te sing. Dit was heerlik om die verhoog met hulle te deel. Behalwe dat die gehoor aangegaan het oor hierdie twee oulike kinders wat so pragtig sing, was dit net vir my so ʼn riem onder die hart om te kan sien dat my kinders die kunste net soveel geniet, en die uitdrukking op die audience se gesigte net soveel waardeer soos ek doen. Om te sien oukei, hulle verstaan dit. Hulle verstaan wat dit is om vreugde aan ander mense te bring en dis iets wat geld nie kan koop nie,” sê Stephanie.
Met haar eie sangloopbaan staan sy tans by ʼn kruispad sê sy dan. Sy moet besluit of sy in ʼn kommersiële rigting wil gaan en kyk of sy êrens ʼn kontrak by ʼn platemaatskappy kan kry. Dit beteken egter dat sy dan sal moet doen en sing wat hulle van haar vra. Die ander opsie is om die rigting in te slaan wat haar hart vir haar sê: die van kabaretkunstenaar wees. Sy wil soos Laurika Rauch musiek sing wat ʼn storie vertel. Sy is tans juis besig om te werk aan ʼn kabaret met die musiek waarvan sy hou. Stephanie het ook die afgelope jaar of twee saam met ʼn paar ander kunstenaars soos Anna Davel, Christo Davids, Jana Cilliers en Laurinda Hofmeyr deelgeneem aan ʼn wonderlike stuk musiekteater: Mixtape van die liefde waar poësie en musiek sjarmant ineengevleg word.
As daar een ding is wat Stephanie moedeloos maak, is dit wanneer iemand vir haar vra: “En waar het jy so mooi Afrikaans leer praat?” Op hierdie vraag is daar net een antwoord, sê sy: “Kleintyd, aan moedersknie daar in Humansdorp.”
“Afrikaans is die taal waarin ek droom. Ek het nog nie ʼn dag in my lewe gedink ek is Engels nie. In die Kaap is daar ʼn groot kultuur van Afrikaanse mense wat hulle kinders in Engelse skole sit omdat hulle dink dit gaan die kinders help om verder te gaan in die lewe. Dis nie baie wys nie. As jy na my kyk sien jy iemand vir wie Afrikaans die grootste voordeel ooit was. Ek is verskriklik lief vir my taal en is so bly dat Duma nou in ʼn Afrikaanse skool is waar hy uitstekend aangepas het. In die huis praat ons Afrikaans met mekaar,” sê Stephanie.
Vra jy vir Stephanie oor groot drome wat sy koester, lag sy net. Sy is tans bloot te besig om net te oorleef. Tyd vir drome droom is daar nie, sê sy dan. Benewens haar werk by Diepe Waters werk sy ook as ʼn regisseur by een van E-tv se telenovelles. Sy is ook die stem van een van die karakters in Skerpioen, ʼn telenovelle wat tans op kykNET en kie uitgesaai word.
“Die een droom wat ek beslis nie kan ontken nie is my droom om na Turkye te gaan. Ek en my lewensmaat is hard besig om daarvoor te spaar. Ons het al ʼn hele lysie plekke wat ons wil besoek en dinge wat ons in Turkye wil doen. Met my werk op die Turkse reekse het ek my hart op Turkye verloor,” vertel sy.
Sy het haar loopbaan as akteur en musikant begin met ʼn diensjaar vir Christus. God staan steeds sentraal in die lewe en loopbaan van Stephanie Baartman.
“Ek kan niks sonder Hom doen nie,” sê sy dan. “Een ding waaraan ek myself elke dag herinner is: ek lewe, ek haal asem. Dan vra ek: ‘Here, wys my wat is jou doel vir my vandag, anders sou ek immers nie hier gewees het nie.’ Ek sien sy hand in elke liewe area van my lewe raak en ek is heeltemal verlore sonder Hom. Hy is my anker.”