Skrywer: Alita Steenkamp
Foto: Netwerk 24
Vir die volgende paar weke gaan Maandagaande beslis nie vervelig wees vir kykNET-kykers nie.
Magda Louw en haar man Erhard sorg vir heerlike humor in die reeks Magda Louw wat op Maandagaande uitgesaai word.
In die eerste seisoen van hierdie heerlike reeks het ons gesien hoe Magda Louw, ʼn middeljarige vrou, eensklaps deel word van ʼn realiteitsreeks waar kameras haar daaglikse lewe volg. Ons het vir Erhard, haar stugge man leer ken wat alewig met die hond, Giel, op sy skoot sit. Dan het ons ook kennis gemaak met die ywerige jong man Shaun (Gershwin Mias) wat moet seker maak dat die opnames van die realiteitsreeks seepglad verloop. Iets wat nooit gebeur nie, want Magda is daarvoor heeltemal te onvoorspelbaar en impulsief.
Die twee akteurs wat die rolle van Magda en Erhard vertolk, Desiré Gardner en Hannes van Wyk, slaag albei uitstekend in hulle uitbeelding van hierdie twee karakters wat natuurlik heelwat ouer is as wat hulle is. Aan die begin van Seisoen II staan die twee voor ʼn splinternuwe uitdaging: hulle huis is verkoop, die eenheid by die ouetehuis waarheen hulle moet trek is nog bloot net bouplanne en die enigste opsie is om in hul seun Baltus (Bennie Fourie) se tuinwoonstel in te trek. Dit sou dalk nie so problematies gewees het indien Magda nie so fyngevoelig was oor die idee om in haar kinders se oë te moet kyk nie. Iets wat sy gesweer het sy nooit sal doen nie.
In ʼn artikel wat in SARIE verskyn het, het Desiré verduidelik dat die idee van hierdie televisieprogram, wat begin het as ʼn eenvroutoneelstuk die onvermydelikheid van oudword is. “Dis ʼn tong-in-die-kies en knop-in-die-keel kykie na die onvermydelike dinge in die lewe soos oudword, tyd en die feit dat ons niks kan doen om dit waarmee Vader Tyd woeker, te keer nie.
“Dit gee ook ʼn blik op die uitdagings wat ma-wees bied, huweliksprobleme, hoe om jou lewenspad saam met een mens te stap, menopouse, die uitdagings van die middeljare, Botoxs en jaloesie.”
Sy het ook gesê dat hierdie projek van die begin af vir haar ʼn passie-projek was. Sy was bloot ʼn jong meisie toe sy destyds die teks vir die eenvrouvertoning geskryf het. Alhoewel die karakter Magda nie bloot net op een persoon gebaseer is nie, was Desiré se ma ʼn groot inspirasie.
“My ma is vreeslik snaaks, maar sy besef dit nie altyd nie. Middeljarige vrouens in die geheel inspireer my,” sê sy.
Die nuwe reeks beloof om weer vir heerlike kykgenot te sorg. Magda en Erhard moet nou ook die uitdagings van sosiale media te bowe kom, en ʼn mens kan maar net wonder waarmee Magda alles vorendag gaan kom op Facebook!
Skakel Maandagaande om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) om al Magda en Erhard se avonture te beleef.