Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Elke jaar hier teen die begin van Desember (soms sommer enkele dae voor Kersfees) sit en wonder baie van ons wat om nou weer vir wie te koop hierdie Kersfees. Party mense is maklik – gee vir hulle ’n boek of geskenkbewys of badsout en die Kaap is Hollands, maar ander is nie so maklik nie, veral nie met ’n beperkte begroting nie. Afrikaans.com het besluit om te gaan loer na eg Suid-Afrikaanse produkte vanjaar – oulike en oorspronklike geskenke vir die Kerskous wat jy sommer aanlyn kan bestel. Van party het jy al gehoor en ander is dalk nuut. Nietemin, hoop jy raak vinnig geholpe.
Vir oulike dekoritems, geskenke en so meer, is Streepsak nommerpas. Alles is handgemaak en eg Suid-Afrikaans. Kies uit handsakke, strandsakke, tafellopers, iPad-sakke, voorskote en meer.
Gaan loer by: Streepsak – Welcome / Welkom
Hierdie aanlyn winkel het sowaar iets vir almal. Daar is die oulikste geskenke vir die kinders, armbande, sakke, notaboekies, lieflike huisdekoritems soos houthasies, bederfboksies vir ’n heerlike pamperlangsessie, en nog vele meer. Besoek gerus hulle webtuiste by SKOONSUS | ELEGANT. OUTENTIEK. SKOON – Skoonsus SS
Hierdie produkte sit beslis die “spice” terug in die lewe! Kies uit speserye, geskenkbokse, byewaspapier, heuning, olyfolie en meer – alles verpak in die oulikste houers, flessies en blikkies. Die ontvanger van so ’n geskenk se kos sal nie anders kan as vorentoe smaak nie. ’n Gereg met hierdie wonderlike plaasvars, kruiegevulde soute en speserye kan mos net lekker wees. Gaan kyk hier Funky ouma – Funky Ouma (funky-ouma.co.za)
Bederf jou geliefde of jouself met iets uit hierdie klerekas! As jy kan, kies uit die oulikste klere, handsakke, skoene en bykomstighede en durf die wêreld aan met ’n swaai van jou heupe en ’n huppel in jou stap. Dié mense het voorwaar styl! Boonop is elke item deurweef met ons unieke Suid-Afrikaanse ontwerpstyl wat spreek van ons kleurvolle kultuur en pragtige landskap. Vier die lewe en bestel iets by Klerekas.com klerekas.com
Nou ja, die manne onder ons en dalk van ons rowwer dames kan mos doen met so ’n ietsie uit Buffelsfontein se stoor. Soos hulle webtuiste tereg sê: “Soms in die lewe gaan dit nie alles oor jou nie. Bederf iemand anders en kry die perfekte geskenk wat sal seker maak selfs jou skoonma sal jou wil terugnooi!” Produkte sluit in brandewyn, koffie, baardolie en -sjampoe, braaisout, plakkies, T-hemde, sokkies, koffiebekers, kepse, plaastrappers en nog vele meer. Gaan kyk sommer nou hier Buffelsfontein Baard-Olie – Buffelstoor
Ons wil jou nou nie in ’n blik druk nie, maar dié geblikte geskenke is regtig iets anders! Dis uniek en maak jy jou blikkie oop om by jou geskenk uit te kom, is dit elke keer ’n verrassing. Gaan kyk gerus na die moontlikhede van so ’n geblikte geskenk. Klik hier Home – Blikit.co.za of kontak hulle op Facebook.
Van die mooiste en oulikste geskenke kom nie altyd in groot bokse of sakke nie – partykeer is dit klein, maar presies wat jy wou gehad het. Tjirp se kleurvolle juweliersware is handgemaak van klei en weerspieël die uniekheid, speelsheid en kreatiwiteit wat in elkeen van ons skuil – iets wat ontwerper Jacorien Swart so goed regkry om in haar oorbelle vas te vang en ’n item wat jy met trots aan jou ore kan hang. Gaan kyk gerus hier Tuis | TJiRP of maak kontak op Facebook.
Wat is die lewe as ’n mens nie kan lag nie? Die meeste van ons geniet Kobus Galloway se Idees vol vrees-strokiesprente, maar die res van die produkte in die aanlyn winkel sal beslis die norsste persoon laat glimlag of ten minste sy lip laat lig of sy snor laat bewe. Kies en keur uit T-hemde, koffiebekers, babafrokkies (-vests vir diegene wat nie weet wat ’n frokkie is nie 😊), keppies en meer – vir ma, ouma, pa, wederhelf, die kinders en selfs diegene oorsee – alles met ’n pittige en raak sêding en illustrasie daarop gedruk. Kyk hier en bestel sommer vandag. ideesvolvrees.com – Afrikaanse t-hemde / Funny South African T-shirts
Gee ’n boek – jy kan dit direk by die uitgewers bestel.
’n Boek of boekgeskenkbewys bly steeds een van die lekkerste geskenke in ’n Kerskous en as daar nie ’n goeie boekwinkel naby aan jou is nie, kan jy die boek sommer aanlyn bestel. Gaan kyk gerus op die volgende webtuistes vir ’n keur van boeke in verskillende genres en wat in elkeen se smaak sal val. Al koop jy nie sommer aanlyn nie, sal jy vinnig ’n idee kry van wat is nuut op die boekefront en maak dit jou keuse sommer nog makliker.
Die vakansie kan nogal uitputtend wees en hier in Januarie is die meeste van ons dames gereed vir ’n pamperlangsessie by ’n goeie skoonheidsalon. Oorweeg dit dus om die spesiale persoon in jou lewe met so ’n geskenkbewys te bederf. Jy kan kies uit gesigsbehandelings, pedikure, manikure, masserings, aromaterapie en nog meer. Skoonheidsalonne is deesdae oral – kies een naby aan die persoon se huis. Al wat sy moet doen, is om die afspraak te maak en haar geskenk te gaan geniet.