Skrywer: Alita Steenkamp
Hooffoto: Facebook
Foto’s: Pinterest
ʼn Kykie na van die foto’s wat LeSonne Forbes al geneem het, neem ʼn mens op ʼn visuele reis van emosies.
Daar is iets magies in haar foto’s. Sy het die wonderlike vermoë om lig en donker in haar foto’s te gebruik om hierdie unieke beelde vas te vang. LeSonne was onlangs ʼn top-5-finalis in AfriForum se Entrepreneur van die Jaar 2023-kompetisie.
Eintlik is sy maar net ʼn kaalvoetkind wat in Mosselbaai grootgeword het, lag LeSonne. Haar fotografiese reis is ʼn baie interessante een, verklap sy dan. Ná skool het sy in die toerismebedryf gewerk en daar die geleentheid gekry om baie met mense te werk. Hier het sy waardevolle vaardighede opgebou wat sy vandag goed gebruik wanneer sy mense fotografeer. Sy was ook later ʼn persoonlike assistent en op ʼn dag het ʼn vriendin van haar haar gevra of sy nie sou belangstel om foto’s van minerale te neem nie. Sy het nie gehuiwer nie, die kamera opgetel en begin eksperimenteer met al die kristalle wat sy moes afneem. Tot 30 per dag. Dit is dan daarna op e-bay geplaas om verkoop te word. Uiteindelik het al hoe meer mense haar gevra of sy nie vir hulle wil foto’s neem nie. Juis omdat elkeen van die foto’s van die kristalle uniek en merkwaardig was. Na ʼn paar jaar het sy besluit om haar eie kamera te koop en haar eie onderneming te begin.
Die heel eerste ding wat sy moes doen, was om ʼn naam vir haar onderneming te kry. Omdat sy altyd kaalvoet loop, was die naam The Kaalvoet Photographer ʼn doodlogiese keuse.
“Ek is sommer net die kaalvoet klonkie wat besluit het om te werk as The Kaalvoet Photographer. My besigheid het agt jaar gelede begin en dit het nou mooi begin vlamvat. Selfs my Engelse kliënte weet nou al wat my naam beteken. Ek het vriende wie se voete witter is as sneeu en wat glad nie kan verstaan hoe ek dit regkry om altyd kaalvoet te wees nie. Dit is egter vir my wonderlik wanneer van my kliënte in Dubai vir my foto’s stuur waar hulle kinders kaalvoet op die lughawe is.
“Om kaalvoet te loop is ʼn manier om energie vry te laat. Wanneer ons met skoene loop, raak ons voete nooit die grond nie en dan loop ons elke dag met al daardie opgehoopte energie binne-in ons. Jy kan net daarvan ontslae raak deur kaalvoet buite op die gras te gaan staan sodat jou opgehoopte energie in die aarde kan gaan en uit jou lyf kan trek.”
Haar gunstelingdeel van haar werk is vir LeSonne om portretstudies van mense te doen. Sy het gou besef mense verlang na ʼn persoonlike en unieke ervaring met ʼn fotograaf wat hulle storie kan vertel op ʼn manier wat hul eie persoonlikheid en passies weerspieël. Sy sê ʼn siel praat vinnig met haar en sy kan oombliklik agterkom wie is gemaklik en wie is ongemaklik voor die kamera. Dan gebruik sy haar spesiale aanslag om die ongemaklikstes ook rustig voor die kamera te kry. LeSonne kom uit ʼn baie kunstige familie en vir haar is portretstudies van mense ook ʼn kunsvorm. Sy voel daar is ʼn baie diep storie in iemand se gesig en vir haar is dit dan ʼn uitdaging om hierdie storie met haar foto’s vas te vang.
Benewens portretstudies doen sy ook baie troufotografie en werk vir tydskrifte. LeSonne lag bloot oor die vraag of sy al vreemde dinge teëgekom het wanneer sy ʼn bruid moes afneem.
“O daar was al ʼn runaway bride! Die perdekar wat haar moes kom haal was ʼn paar minute laat. Toe ons weer sien staan sy met haar motorsleutels in haar hande. Gereed om weg te ry en beslis nie na die trouvenue nie. Dit het mooipraat gekos om haar te oortuig om net nog ʼn bietjie te wag. Die ongelooflikste ervaring wat ek as troufotograaf beleef het, was met ʼn troue wat ons in Covid-tyd afgeneem het. Dit was ʼn baie klein intieme troue weens die Covid-regulasies. Een van die egpaar het voor in die kerk gestaan en hy was geblinddoek. Sy maat het ingestap na hom toe op die maat van musiek met ʼn definitiewe hartklop daarin. Daar was baie kerse en hierdie musiek het die hele kerk gevul. Toe hy voor kom het hy ook sy blinddoek aangesit en sy maat se hande gevat. Hulle het seker vir twee minute so gestaan terwyl die musiek bly speel het. Vir daardie twee minute kon ek byna nie my werk as fotograaf verrig nie. Dit was die mooiste ding wat ek al ooit in my lewe beleef het. So mens kry sulke oomblikke, en dan kry jy aan die ander kant soms bruide wat net met niks tevrede is nie.”
Daar was soms uitdagings op haar pad. Sy het van ʼn jong ouderdom af gesukkel met haar skildklier. Ná een skoolvakansie het sy 32 kilo’s verloor en niemand by die skool het haar herken nie. In 2015 het sy ʼn ernstige tiroïedstorm of te wel ʼn skildklierkrisis beleef. Sy is met ʼn hemelhoë hartklop na die hospitaal gejaag en toe sy by haar bewussyn kom, was daar nege dokters om haar bed. Hierna het die dokter haar gewaarsku dat sy vroeg gaan doodgaan aan ʼn hartaanval indien sy nie die nodige operasie kry nie. Sy het besluit om op Facebook ʼn fondsinsamelingsveldtog te begin om vir die nodige operasie te betaal. Gelukkig vir haar het een van haar vriende aangebied om vir die operasie te betaal. Hy het self weens die goedheid van iemand wat haar oor hom ontferm het, die nodige kankerbehandeling gekry wat hom gered het en hy wou graag teruggee. Na ʼn tweede skildklierkrisis het Wayne vir haar gesê hulle moenie langer wag nie en die operasie is gedoen.
“Ek het alleen in die hospitaal gelê en ʼn gesprek met die Here gehad,” vertel LeSonne. “Vir ʼn hele week lank het ons met mekaar gepraat. Ek het vir Hom gesê as Hy my lewendig gaan uitbring, sal ek my hele lewe omdraai. Die Here het dit gedoen en op sy verjaarsdag, op Kersdag, het ons by die hospitaal uitgestap. Ek drink vandag net een pilletjie, maar ek het ophou rook en ophou drink en al die ander slegte dinge gelos. My hele lewe het daar verander en ek het net daar besluit ek gaan nie wegsteek wie ek is nie. Die dag toe ek in my ware self instap, toe gaan al my deure oop. Alles is net goed, alles is net lig. Ek gee ook alle eer aan die Here en dit is hoekom ek kaalvoet loop. Ek voel ek loop op Heilige grond en daarom kan dit nie anders nie.”