ʼn Rockmusiekgroep wat die afgelope paar jaar ʼn enorme gevolg opgebou het, is Spoegwolf, die groep uit Stellenbosch. Hierdie vier jong mans, Danie en Moskou du Toit, Chris von Wielligh en Albert van der Merwe maak sedert 2012 musiek onder die naam Spoegwolf. Elf jaar later is hulle bekend as een van Suid-Afrika en Afrikaans se suksesvolste groepe en trek hulle skares van Kaapstad na Pretoria, Auckland na Amsterdam.
In ʼn dokumentêre program op Saterdag 9 Desember word hierdie groep van nader bekyk en kan kykers ook meer oor hulle leer.
In hierdie dokumentêr gesels Niel van Deventer, regisseur en vervaardiger van die dokkie met die vier manne van Spoegwolf. Die menings van die Du Toit-broers se kunstenaar-ma Tertia du Toit, die joernaliste Riaan Grobler en Danie Marais en die musikante Francois van Coke, Hunter Kennedy, Deon Meiring en David Kramer word ook gehoor. Van die vrae wat in die dokumentêr beantwoord gaan word, is hoekom Spoegwolf so ʼn groot impak op Afrikaanse musiek gemaak het en hoe hulle dit reggekry het om met hulle eiesoortige musiek so ʼn groot gevolg op te bou. Hierdie dokumentêr behoort ʼn honger by bestaande ondersteuners te stil, maar sal ook ʼn deur oopmaak vir mense wat hulle nog nie ken nie, beloof Niel van Deventer. Spoegwolf word op Saterdag 9 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.