In hierdie boekekeur kan lesers hul verlekker in nog ’n keur van topgehalte boeke – en dit maak sommer die dilemma oor wat koop ek vir wie hierdie Kersfees makliker.
Kyk gerus op NB Uitgewers se webblad vir hulle puik aanbod.
JY KAN WEN!
Een gelukkige leser staan die kans om weg te stap met Leo deur Deon Meyer.
Deel die plasing oor hierdie leeslys op Facebook in die kommentaarveld om in aanmerking vir die prys (’n lekker meevallertjie in Januarie) te kom.
Die Desember-kompetisie sluit 10 Januarie 2024.
Die skuiling
Helena Hugo
ISBN-13: 9780796323163
Die jongste roman van die gewilde skrywer Helena Hugo, vertel die verhaal van Berdine. Haar lewe in Johannesburg is verby en verhoudings wat sy jare lank afgeskeep het, word herstel. Haar ouma se nalatenskap om ander te dien en liefde vir haar medemens, lei daartoe dat sy haar droom van ’n kliniek en skuililng vir mishandelde vroue en meisies verwesenlik. Sy leer ken mense met dieselfde ideale en Dieter Daneel bly in die voorgrond. Tydens die naamgewingseremonie word haar wêreld egter op sy kop gedraai en is sy verplig om ‘n moeilike keuse te maak.
Die pad na ware wysheid
Lizette Murray
ISBN-13: 9780796323095
Wysheid is die vermoë om ʼn sinvolle lewe te lei. Ons kom almal wysheid kort, ons almal smag daarna. Maar hoe bekom ons dit? Hoe kry ons dit reg om met wysheid te leef? Daar is geen towerformule om wysheid te bekom nie, daar is nie een oomblik se helder insig nie. Om met wysheid te kan leef verg selfdissipline. Dit vra ʼn leeftyd se dag-tot-dag-toewyding en soeke na die ware wysheid. Dit vra dat ons met ons oor op die grond sal leef, in afwagting op God se stem wat ons leer hoe om ware wysheid – die wysheid wat van Hom kom – te verkry. In hierdie 366 dagstukkies neem bekende skrywer Lizette Murray ons hand en lei ons na Hom toe, die bron van Wysheid, en help ons om met wysheid te leef in ons alledaagse bestaan.
Psalms vir kleingoed
Wendy Maartens
ISBN-13: 9780796323088
Die Psalms het oor die eeue heen nog altyd die vermoë gehad om die mens se emosies – van vreugde tot spyt – akkuraat te weerspieël. Hierdie versameling van geparafraseerde psalms deur geliefde kinderboekskrywer Wendy Maartens help kinders om met God te praat, om al hul emosies uit te stort in ’n taal wat eie is aan hulle. Met lieflike illustrasies deur Zinelda McDonald is hierdie boek ’n aanwins op enige kind se boekrak.
Leo
Deon Meyer
ISBN-13: 9780798183383
Benna, dis crazy. Ons werk vir ’n no-name, no-prestige outfit, ons moet lieg soos criminals, en ons jaag spoke van twaalf jaar terug. Ek sê jou, dis die end times dié.
’n Student se dood in die berg by Stellenbosch lyk verdag. ’n Oud-recce vermoor as ’n boodskap. Aan iemand: Hou julle bekke. ’n Korrupte politikus se lyk in die sandkuil van Arabella se sestiende
putjie. Met ’n onontsyferbare kode daarby. ’n Mooi veldgids, gewerf as ’n heuningwip vir die grootste dollarrooftog in die land se geskiedenis. En staatskapers wat elkeen van die ondersoeke saboteer. Jy’t ’n koel kop nodig om dit alles te ontrafel, om die enorme druk te kan hanteer. Jy moet kalm en gefokus en nugter wees. Maar Bennie Griessel se kop is nie koel nie. Hy’s bedruk. Bekommerd. Bevrees. Want op 12 Junie moet hy trou, ’n datum wat op hom afkom soos ’n sneltrein. En hy’s glad nie reg vir dié ding nie. Dis ’n resep vir ’n ramp. Griessel en Cupido is terug. Hier kom moeilikheid, GROOT moeilikheid.
Laaste kans
Marita van der Vyver
ISBN-13: 9780624094043
Dis ’n outydse kleurfoto op glanspapier, ’n buigbare, skeurbare, opfrommelbare voorwerp uit ’n era voordat almal hulle herinneringe op slimfone bewaar het. Dit was die laaste keer dat hulle almal saam gekuier het . . .
’n Groep vriende kom die eerste keer in vyf-en-twintig jaar bymekaar om Adriaan se verjaardag te vier. Een vir een maak die gaste hul opwagting by Adriaan en Yvette se strandhuis aan die Weskus.
Sommige bring hul kinders en die uitbundige gelag van kleinkinders saam. Sedert hulle mekaar laas gesien het, moes party van lewensmaats en drome afskeid neem; ander het nuwe liefde en betekenis gevind. En dan is daar Yvette wat haarself nie sover kan kry om vir almal van háár reis te vertel nie. Laaste kans is ’n roman oor vriendskap wat die tyd deurstaan het. Marita van der Vyver skryf met haar kenmerkende insig en humor oor ontheemde mense, die komplekse verhouding tussen ouer en kind, en die eise wat die tyd aan menswees stel.
Die melkweg en die miskruier
Jeanette Ferreira
ISBN-13: 9780624094630
In 2020, tien jaar nadat Sëabine uit die Laeveld weggesteier het, keer sy terug om nog net een maal weer hulle familieplaas Donkerhoek te sien en ’n neersitplek te soek vir die bondel wat sy al so lank saamdra. Sy het egter nie ’n telefoonnommer vir die nuwe eienaar nie en Google Maps weet nie van so ’n plek nie. In tien jaar het die aarde hierlangs geswig voor grondeise en armoede en die media berig van ’n onbekende virus wat reeds dood op die planeet begin saai het. ’n Raps meer as ’n eeu gelede is haar ouma Henrietta ook inderhaas terug Donkerhoek toe om weg te kom voor die Groot Griep wat tydens die Eerste Wêreldoorlog ’n doodskleed oor die mensdom uitgesprei het. Toe en nou het die mensgemaakte virus van mag en geweld in ieder geval reeds hier gemaai. In die stilte van klip woon eeue se kennis en pyn.
Help, help
Stories
Nataniël
ISBN-13: 9780798184083
Nataniël is op sy stukke – wéér. In dié versameling van 29 stories (5 Engels, 24 Afrikaans) neem Nataniël ons op reis na die surrealistiese wêreld van gastehuise op die platteland, lapwinkels met geen mooi lap in sig nie, ’n toonbank met die mees asembenewende olyfolie, geglasuurde, kristalhelder koemkwats en vlesige vanieljepeule, en Kersfees in klein dorpies wat lyk soos ’n mini-heelal. Verskeie van die stukke maak oorspronklik deel uit van Nataniël-produksies oor ’n periode van drie jaar: Butterfly, Lovesick Tim, Moscow, Six in a Boat, Die Smitstraat Suite, Rome ’62 en Passi Passio.
Mosela en die drie koninkryke
Luke Calder
ISBN-13: 9780798183796
Wanneer Mosela se stad vernietig word deur wreedaardige seerowerpikkewyne, moet die jong meerkat ’n gevaarlike reis aandurf om die Muiskoning te waarsku. Volgens ’n profesie moet sy die Uitverkorene vind wat bestem is om die Drie Koninkryke te verenig en Rodentia te red. Khova, die magtige Toweruil wat sy op pad na Ovidivo ontmoet, het al die regte kenmerke. Daar is net een probleem: Khova is die irriterendste, mees arrogante dier wat Mosela nog ooit ontmoet het! Sal hulle Mosela se gesin kan red en die koninkryke oortuig om saam te staan teen die vyand?
Lotta se lewe 14: Red die eekhorings!
Alice Pantermuller
ISBN-13: 9780798183970
Vir die 9- tot 12-jariges. Lotta is só opgewonde! Dis ’n nuwe skooljaar en hulle het ’n nuwe klasonderwyser. Sy naam is meneer Haarhoff (hy is baie harig!) en sy klasse is baaaaaie lekkerder as mevrou Knacker s’n. Hulle huiswerk is om ’n videokanaal op die internet te begin. Lotta weet gelukkig hoe dit werk, want Mamma het ’n paar weke gelede begin met haar eie TV-program waarop sy allerhande produkte uittoets (SANDRA SE WÊRELD op kanaal 987). Maar Lotta en Chantelle se PRODUKTASTIESE PRODUKTOETSERS-kanaal is ongelukkig nie so gewild nie. So hulle gaan nie meer smaakmakers word nie, maar eerder betoog om diere te beskerm. Elke Dinsdag. Hulle is mos mal oor diere!
Speurhond Willem in die Amasone
Elizabeth Wasserman, Chris Venter
ISBN-13: 9780624094388
Ons 9- tot 12-jariges kan weer naderstaan! Die aartsskelm Brummel is weer op vrye voet, en op die spoor van ‘n sampioen wat in die Amasone groei en glo ‘n wonderkrag het: Die mens wat dit eet, raak net slimmer en slimmer. Die avonturier William Travis wil dit eerste vind, maar vir weke het niemand van hom gehoor nie. Het die oerwoud hom ingesluk? Dis immers vol gevare: anakondas, poemas, krokodille . . . Brummel besluit hy’t hulp nodig, en wie beter om aan sy kant te kry as die slimste hond op Aarde? Maar Willem maak nie ‘n gewoonte daarvan om saam met boewe te werk nie. Hy moet Brummel eers oortuig hy’s aan sy kant, en so beland Adriaan ook in Manaus, die poort na die Amasone. Gelukkig het hulle vir Tito as gids en die apie Gonzales om hulle te help. Want die laaste ding wat die internasionale boewewêreld nodig het, is dat Brummel nog slimmer en sluwer word as wat die geslepe ou skelm reeds is.