Skrywer: Alita Steenkamp
“’n Alles-in-een-naslaanbron” – so beskryf Joan Hambidge die nuwe Senior tweetalige skoolwoordeboek wat by Pharos verskyn het in haar resensie op Netwerk 24. Die woordeboek het meer as 50 000 trefwoorde, uitdrukkings, frases, idiome en spreekwoorde. Hier sal jy ook homonieme, homofone, antonieme, sinonieme, intensiewe vorme, vaste uitdrukkings, samestellings en afleidings vind. Die belangrikste bydrae van die Senior tweetalige skoolwoordeboek volgens Hambidge is dat dit tred gehou het met die tyd en jy sal moderne woorde soos anoreksie, koronavirus, blitskursus, soekenjin en GPS tussen die inskrywings vind. Hambidge skryf onder meer: “Die gebruiksriglyne is hier in die kol. Die leser kan woordfamilies bepaal, en daar is verwysings na woordsoorte, styl- en taalkundige etikette. Die geografie is hier soos vaketikette. Nodeloos om te sê, sal elke onderwyser en leerling iets wys kan word. Bouquet, boutique, chauffeur is weer geskaai uit die Frans en bredie is eg Suid-Afrikaans. Nes stoep en veld. Chickpea is in Afrikaans kekerertjie. Raai waar kom cheetah vandaan? Chess het geen meervoud in Engels nie, maar chessboards wel. Gekoloniseer is hier, soos gekodeer. Afrikaans as ʼn mengeltaal met invloede word hier duidelik gestel.” Beslis ʼn woordeboek wat enige leerder in sy skooltas moet hê. Lees die volledige resensie by https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/vir-leerlinge-en-onderwysers-20231126