Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Goeie joernalistiek behels soveel meer as net jou feite agtermekaar kry, die storie skryf en publiseer. Dit verg insig, ’n uitgebreide algemene kennis, soms ’n vel wat dikker is as die van ’n renoster en uithouvermoë. Die joernalis se hooftaak is om sonder skroom in te lig en op te voed. Met die ontploffing van aanlyn media het baie meer gebruikers deesdae toegang tot inligting, maar wat glo jy, wat neem jy met ’n knippie sout en wat ignoreer jy? Dit is om die rede dat die ATKV weer vanjaar erkenning aan ondersoekende joernalistiek gegee het. Om as’t ware “die koring van die kaf te skei”.
Daar was drie kategorieë om in deel te neem, naamlik Lees, Luister en Kyk – en met prysgeld van altesaam R30 000 was daar talle inskrywings.
“Ons was op soek na joernaliste wat nie bang was om moeilike vrae te vra of diegene in magsposisies se aksies – of gebrek daaraan – bloot te lê nie. Vreeslose joernalistiek is immers een van die hoekstene van ons demokrasie en iets wat Suid-Afrika van talle ander lande onderskei,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.
Algehele wenner
Anneliese Burgess van Vrye Weekblad
Haar werk is deur die beoordelaars beskryf as “besonderse ondersoekende joernalistiek, en ’n goeie voorbeeld van dapper en uitdagende joernalistiek. Die werk van ’n vaardige én ervare joernalis wat sonder skroom ’n vyandige en nogal wrede wêreld invaar en die antwoorde kry op uitdagende vrae.”
Oor haar “Spesiale verslag | Die anatomie van ’n mislukte munisipaliteit” (oor Komani, voorheen bekend as Queenstown) sê beoordelaars dat Burgess se skryfwerk “krap aan jou siel tot die sug uit die wonde sypel. Haar woorde laat hulle nie keer nie, dit spreek duidelik tot elkeen en laat jou dit aan jou eie vel voel.” Burgess ontvang R15 000 as prys.

Tweede plek
Willemien Brümmer, spesialis-joernalis van Netwerk24
Die beoordelaars meen Brümmer se verslaggewing “vra moeilike vrae sonder om maklike antwoorde te probeer gee, maar dui terselfdertyd op diepgaande bemoeienis met haar onderwerp.” Brümmer ontvang R10 000.
(Fotokrediet: Liza van Deventer)

Derde plek
Vryskutjoernalis De Wet Potgieter
Oor sy artikel “Onder die sekelmaan” (oor die aktiwiteite van die terreurgroep Isis in Mosambiek en ook in Mpumalanga) sê die beoordelaars die volgende: “De Wet Potgieter stel die plaaslike trawante van Isis in sy DEKAT-artikel aan ons voor sonder vrees vir enige nagevolge. Hy volg vorige navorsing op met die jongste inligting, wys die kontakte, hul meesters en hul pionne. Hierdie is ’n smeulende kruitvat wat niemand durf ignoreer nie. Dis ’n lêer wat duidelik ernstig opgeneem behoort te word.” Potgieter ontvang R5 000.

Lees gerus hier verder: ATKV bekroon ondersoekende joernaliste