In hierdie boekekeur kan lesers hul verlekker in alles en nog wat.
Daar is fiksie, niefiksie, ‘n kookboek en selfs boeke vir die jeug en jongspan. Kyk gerus op NB Uitgewers se webblad vir hulle puik aanbod.
JY KAN WEN!
Een gelukkige leser staan die kans om weg te stap met Die ware storie van die Liefling van Loftus: Derick Hougaard deur Brenden Nel.
Deel die plasing oor hierdie leeslys op Facebook in die kommentaarveld om in aanmerking vir die prys te kom.
Die November-kompetisie sluit 10 Desember 2023.

Kanniedood – Branderjaer-sage #3
Joha van Dyk
ISBN-13:9780798183802
Heerlike leesstof vir die 14-plussers. Dis die Branderjaers se matriekjaar en Ben “Kannie” Palmer was van plan om sy kop laag te hou. Maar dinge loop van die begin af vir hom skeef. ’n Ou bendeleier is terug in Breekwater en Ben en sy suster Kalla word gekonfronteer met ’n legacy waarvoor hulle nooit gevra het nie – en ‘n oorlog wat die gemeenskap in chaos dompel. Kalla kon nog nooit die verlede afskud nie. Die nag wat sy in Niemandsland aangeval is, het haar lewe verander. Nou het sy dalk ‘n kans om dinge reg te stel. Om seker te maak daar is nie nog ’n slagoffer nie. Al moet sy alles om haar afbrand.

Kwaaiwater
Irna van Zyl
ISBN-13: 9780798183727
Nog ’n heerlike speurroman uit die pen van die gewilde Irna van Zyl. Speuradjudant Storm van der Merwe is terug vir die grootste uitdaging van haar loopbaan, al is sy steeds besig om haar pa se dood twee jaar tevore te verwerk. Intussen hou Hermanus ’n eerste skrywersfees. Deel van Storm se afgesaagde verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou voor die laaste Covid-regulasies uiteindelik opgehef word. Maar toe daag Isa du Bois, die sterskrywer van die dorp, nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word dieselfde oggend nog in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. Vier en twintig uur later kom ’n visserman af op nóg ’n lyk – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer, ’n belangrike kulturele rolspeler op die dorp. Drie dae, drie vroue. Hoekom drie, hoekom hierdie drie? Storm is so toegegooi onder werk, sy is skoon bly oor oudkollega Andreas Moerdyk se knaende aanbod om haar te help. En al sukkel sy om dit aan haarself te erken, is dit nogal lekker om ’n slag weer spanmaats te wees . . .

Derick Hougaard
Die ware storie van die Liefling van Loftus
Brenden Nel
ISBN-13: 9780624093879
“Dié seun is vir groot dinge bestem . . .” Só het Derick Hougaard se afrigters by Hoër Landbouskool Boland sedert sy hoërskooldae geglo. Op die bloedjong ouderdom van 19 verower hy die Curriebeker vir die Blou Bulle én verbeter die skopkoning, Naas Botha, se eindstryd-punterekord. Maar toe begin die dobbelstene verkeerd val vir die liefling van Loftus. Harsingskudding, Kamp Staaldraad, beserings en ’n allesverterende pilverslawing het hom laat steier. Sy sprokieshuwelik is verwoes en sy beroepslewe en geldsake is in ’n warboel gelaat . . . Dié boek delf diep in Derick se rugbydae en die dramas wat hom op voorblaaie laat beland het. Dit onthul ook vriende en vertrouelinge se vergeefse pogings om Derick uit die kloue van verslawing los te wikkel en hul vrees toe hy vir byna twee weke in ’n koma gedompel is. Dis ’n diep menslike verhaal oor die fyn lyn tussen sukses en mislukking, en hoe maklik selfs die grootste helde op hul knieë kan beland die dag as die skare stil raak.

In die Nimmer-Immer-Bos
Fiona Moodie, oorvertel deur Linda Rode
ISBN-13: 9780624047674
Heerlike verhale vir die 6 – 9-jarige lesers. Reis saam na die Nimmer-Immer-Bos, waar ‘n wêreld van stories wag! Hier is sestig tydlose verhale, byeengesoek en oorvertel deur Linda Rode, sprokiesliefhebber en skepper van immergroen bundels soos Goue lint, my storie begint en Stories vir die vaak. Hierdie versameling beloof om lesers jonk en oud opnuut te betower. Kort brokkies kommentaar aan die einde van elke storie dui die lande van oorsprong aan en plaas die verhale uit Afrika, Europa, die Ooste en ander wêrelddele in konteks met mekaar. Fiona Moodie (veral bekend vir Fynbosfeetjies en Vetplantfeetjies, saam met Antjie Krog) se illustrasies is handgeverfde droënaaldetse en maak van die boek ‘n kunsskat om te waardeer en te bewaar.

Siembamba
Madelein Rust
ISBN-13: 9780798183765
In hierdie naelbyt-riller beleef die leser weer Madelein Rust op haar beste. Desember 2022, Bloemfontein: Mindie Rochebrandt is swanger met haar en advokaat Marius se eersgeborene – erfgenaam van die Rochebrandt-fortuin. Maar ná die onsmaaklike insident tydens haar ooievaarstee, die een waarheen háár mense nie genooi was nie, het Mindie besef sy moet ’n streep trek. Van Marius en sy buie het sy genoeg gehad. Sodra sy geboorte geskenk het, gaan sy sak en pak trek en met haar kind ’n nuwe lewe op De Rust begin. Enkele dae later bel Mindie se ma, Eona, hoogs beswaard. Mandelien, Mindie se tweelingsuster, ook swanger met haar en Sebastiaan se eersteling, antwoord nie haar oproepe nie. In Mandelien se meenthuis kom Mindie af op ’n gruwelike toneel: In die klein badkamer lê haar suster se verminkte liggaam – uitgesprei soos ’n gevalle engel. Wie verniel ’n swanger vrou en haar ongebore baba so wreedaardig? En hoekom? Siembamba, is angswekkend, aksiebelaaid en propvol familiesages en onvoorspelbare intriges.

Kultusse in Suid-Afrika
Jana Marx
ISBN-13: 9780796322951
In hierdie niefiksie-boek, bestudeer die bekende joernalis, Jana Marx, kultusse: Van antieke kultusse, die verskil tussen ‘n sekte en ‘n kultus, wie word in ‘n kultus ingetrek en die kenmerke van ‘n kultusleier. Kultusse word in verskillende onderafdelings ingedeel en sy bekyk plaaslike en internasionale kultusse binne elkeen van hierdie indelings. Sy wys ook hoe om ‘n kultus uit te ken. Laastens gee sy riglyne oor wat om te doen as ‘n geliefde in ‘n kultus vasgekeer is.

Die Suid-Afrikaanse lugbraaier kookboek 2
Louisa Holst
Vinnig, flatervry en perfek vir Suid-Afrikaanse gesinne!
ISBN-13: 9780798184113
Topverkoperskrywer Louisa Holst weet wat die lugbraaiermark wil hê en het weer plaaslike geure na vore gebring! Resepte sluit in springbokkie-kaaskoek, brandewyn-en-coke-hoendervlerkies, snoek-en-appelkoos-filodeegsamosas, en ‘n visvinger-Gatsby vir die honger kinders wat hulle self kan opslaan. Peri-peri-hoenderpastei, gammon (ja – dit kan in die lugbraaier gedoen word), gebraaide lam, karringmelkbeskuit, pavlova en mini-vrugtekoeke is nog van die watertandgeregte in die boek waarna jy kan uitsien.

Onbeskryflike genade
Stefaans Coetzee
ISBN-13: 9780796323286
“Tussen hierdie bladsye klop ’n dapper mens se ontblote hart. Trap saggies, die grond is heilig.” – Anchen Conradie
Bettina Wyngaard skryf in ’n resensie op LitNET dat “Stefaans, brugbouer, jou anders oor die lewe gaan laat dink”. In sy boek, Onbeskryflike genade, “probeer Coetzee sin maak uit sy lewe nadat hy in Julie 2015 op parool vrygelaat is, maar kyk hy ook terug op die omstandighede wat hom gelei het tot by ’n straat in Worcester waar hy op Oukersdag 1996 ’n daad pleeg wat sy eie lewe, asook die lewens van baie ander mense, omkeer.”

Hoe gril ek nou!
François Bloemhof, De Wet Hugo
ISBN-13: 9780798184076
Ons 9 – 12-jariges gaan weer eens hierdie bundel verslind. Van ’n teddiebeer wat lewend word, tot ’n snotmonster wat ’n koshuis terroriseer en ’n spookmeisie wat in die middel van die nag in jou oor fluister. Hierdie bundel bevat 11 naelkou-lekker kortverhale deur twee skrywers wat presiés weet hoe om al die hare op jou kop regop te laat staan. Die laaste storie is boonop ekstra spannend en onvoorspelbaar, aangesien dit as ’n aflosverhaal geskryf is – een hoofstuk elk, afwisselend deur hierdie twee grilverhaal-meesters.

Outopsie
Bloed vertel ‘n storie
Hestelle van Staden
ISBN-13: 9780624093619
“’n Boeiende boek wat die onbesonge helde, wat noodsaaklik is om misdadigers vas te trek, vier.” – Mike van Aardt
Dr. Hestelle van Staden is ’n mediese dokter en forensiese patoloog. Sy sien daagliks die skadukant van die mens. Uit die meer as 7 000 outopsies wat sy tot op hede behartig het, is die meerderheid mense aan onnatuurlike oorsake dood. In hierdie boek werp sy lig op nege lykskouings wat haar bybly. Van Staden deel die tragiese verhaal van baba Letitia Meyer, wie se ma volgehou het dat die kind bloot uit haar stootwaentjie geval het; die hoëprofielondersoek na die skietdood van die bekende reggaester Lucky Dube; en die outopsie van ’n jong, swanger vrou wie se dood medici laat kopkrap het… Outopsie bied ’n nugter blik op die lewe van ’n forensiese patoloog in Suid-Afrika en die uitdagings wat met hierdie spesialisveld gepaard gaan.