Skrywer: Alita Steenkamp
Hy was sommer net ʼn klein graadeenseuntjie toe Matthew Blauw besef het as ʼn mens die regte produk het, wil iemand anders dit graag hê en so kan jy daarmee geld maak. Dit was nadat sy pa aan hom ʼn paar plakkers gegee het wat hy aan sy klasmaats verkoop en verruil het. Later het hy ook begin om ysies te verkoop en dit was gou duidelik dat hier ʼn entrepreneur in wording is.
Vandag bestuur die 17-jarige Matthew saam met sy broer Owen ʼn besigheid: Chick-chick. Een wat bevrore hoenderprodukte koop en verkoop. Tans is hulle in die proses om ook uit te brei na ander vars hoenderprodukte soos burgers wat by markte beskikbaar sal wees.
Matthew is ʼn gefokusde jong man en gesels vol entoesiasme oor die manier waarop hy as ʼn jong entrepreneur ontwikkel het. Hy was verlede jaar die wenner in Albert van Wyk se Maak my ‘n Miljoenêr (millionaireat22.com)-kompetisie.
Matthew is vanjaar in graad 11 aan Hoërskool Oos-Moot, ʼn skool in die Moot-area van Pretoria. Hy vertel dat hy, toe hy jonger was, nogal belanggestel het in kultuur en selfs in die orkes saksofoon gespeel het. “Ek het in graad 9 met my besigheid begin om energiedrankies by die skool te verkoop. Die skool se snoepie mag dit toe nie meer verkoop het nie, en daar was ʼn groot mark daarvoor, want almal hou mos maar van energy drinks. Ek moes toe daar en dan besluit het om my kultuur en al die ander dinge weg te sit en al my tyd aan my besigheid toe te wy. Nou het hierdie besigheid al uitgebrei met Chick-chick wat bygekom het en dit is nou waar my fokus lê,” sê hy.
Matthew vertel dat Albert van Wyk hulle skool verlede jaar aan die begin van die jaar besoek het om kinders meer oor entrepreneurskap en entrepreneursgeleenthede te vertel. Hy lag en sê sy maters het almal dadelik regop gesit en vir hom gesê om vir die Maak my ʼn miljoenêr-kompetisie in te skryf. Dit was toe immers al algemene kennis dat Matthew hard aan die werk was met sy eie besigheid. Hy het so gemaak, is as een van die semifinaliste aangewys wat ʼn agt maande lange mentorskapsprogram in entrepreneurskap ondergaan het, en uiteindelik is hy verlede jaar gekroon as 2022 se wenner. Sy prysgeld was ʼn wonderlike R10 000, ʼn 12 dae lange toer na Amerika en dan ook die mentorskap wat nooit in geldwaarde bereken kan word nie.
“Een van die groot goed waarop Albert altyd fokus, is dat ons moet boeke lees,” vertel Matthew. “Aan die begin het ek dit nie te ernstig opgeneem nie, maar nadat ek sy raad begin volg het, het ek die vrugte gepluk. Dit is alles besigheidsboeke wat hy op sy lys het en ek het nou al drie gelees wat my soveel meer van entrepreneurskap geleer het. Die eerste is Think and grow rich van Napoleon Hill, dan ook The richest man in Babylon, George Samuel Clason se bekende boek met finansiële wenke uit die Bybelse tyd. Die derde boek is Albert van Wyk se eie boek: Millionaire 22 – ʼn superbriljante boek propvol wenke.”
Oor die hele idee van entrepreneurskap, sê Matthew dit is iets waaraan hy nooit te veel gedink het nie voordat hy nie self een geword het nie. Dit is nie noodwendig in almal se gene nie, maar dis vir enigeen moontlik om ʼn entrepreneur te wees, mits ʼn mens bereid is om hard te werk, teleurstelling te hanteer en gefokus te bly. Vir hom en Owen is dit nou belangrik om op dieselfde tyd elke dag hulle produkte te lewer, en altyd beskikbaar te wees. Entrepreneurskap beteken ook jy moet lojaal wees aan jou kliënte en die mense wat jou lojaal ondersteun. Daardie lojaliteit is ononderhandelbaar.
Iets wat gewis sy lewe verander het, is sy ontmoeting met Albert van Wyk. Hy het van die begin af opgekyk na Albert, wat self in die Moot grootgeword het en by ʼn naburige skool, John Vorster, gematrikuleer het. Albert het van onder af begin, en uiteindelik met harde werk dit reggekry om bo uit te kom. Op 22 was Albert self ʼn miljoenêr, maar vandag ploeg hy sy kennis terug om ander jongmense te inspireer om ook suksesvol te wees. Om te sien so iets was moontlik vir ʼn ander jong man daar uit sy grootwordarea, het vir Matthew baie geïnspireer.
“Dit het ʼn baie groot impak op my lewe gehad” sê hy dan. “Ek ken vir Albert nou al baie beter as daar aan die begin, maar hy het definitief ʼn baie groot bydrae gelewer tot my huidige sukses en hoe ver ek nou al gekom het in die besigheidswêreld.
“My heel beste raad vir enigeen wat droom van ʼn geleentheid om as entrepreneur iewers sy lewe te verander, is om nie te veel daaroor te dink nie. Gryp die geleentheid aan, sonder om te veel te bekommer oor enigiets wat dalk kan skeefloop. As jy regtig graag jou lewe wil verander, behoort niks jou terug te hou nie.
My heel beste raad is om net te begin, vat die eerste stap, werk hard en kyk waar is jy oor ʼn jaar van nou af.”