Skrywer: De Wet Potgieter
ʼn Feestelike naweek wag in Bloemfontein by NALN as afsluiting van die herdenking van hulle vyftigste bestaansjaar in 2023.
Drie besonderse geleenthede word beplan vir hierdie afsluitingsnaweek. Die eerste van hierdie geleenthede is die sanger Coert Grobbelaar wat sy fokus op die kunslied gaan laat val. Dié konsert, So sing ook die hart, word op Donderdagaand 16 November om 18:00 aangebied. Die program bied ʼn oorsig op die Afrikaanse kunslied, van die eerste kunsliedere wat in Afrikaans geskryf is, tot nou. Grobbelaar word op die klavier begelei deur die pianis Rudolf Geldenhuis. Getoonsette gedigte wat hy op die NALN-viering sal sing is van Gideon Fagan, Lourens Faul, Maria van der Mark, Rosa Nepgen, Hans Endler en S. Le Roux Marais. Grobbelaar is ook ʼn vaardige vertolker van Oostenrykse operette, die Duitse kunslied, Italiaanse antieke arias en Italiaanse canzoni wat meestal die liefde besing. Hy het al verskeie pryse vir sy bydrae tot die Afrikaanse musikale landskap verower. Dit beloof om ʼn besonderse geleentheid te wees.
Nog iets om na uit te sien op hierdie spesiale naweek is die skrywer Leon van Nierop wat oor sy nuutste spanningsverhaal, Duiwelsroos sal kom gesels. Die verhaal vertel die storie van die privaatspeurder Beer Henning wat op ʼn roosplaas beland. Daar kom hy af op pikswart rose met ʼn dodelike geheim. Leon is bekend vir sy uitstekende skryfwerk en meer as 50 verhale het al sy pen verskyn. Duiwelsroos sal nie teleurstel nie en sal gaan lesers boei van begin tot die einde. Hierdie boekgesprek vind op Saterdag 18 November om 10:00 by NALN plaas.
Die ander rede om nie die geleentheid mis te loop nie is die wonderlike boekverkoping wat ook op Saterdag 18 November, vanaf 11:30 tot 14:00 gaan plaasvind. Kom maak jou keuse uit rakke vol storieboeke, biografieë, resepteboeke, kinderboeke, digbundels en dramatekste in Engels en Afrikaans. Hierdie halfprysuitverkoping, Halfeeu – Halfprys beloof sommer propvol winskopies te wees.
NALN en die personeel sien uit daarna om die feestelikhede van 2023 op hierdie besonderse manier af te sluit.
Al die geleenthede kan gratis bygewoon word, maar laat weet asseblief vir Annelien per e-pos indien jy teenwoordig gaan wees annelien.naln@gmail.com