Boeliery in die digitale era is ’n groot bekommernis vir ouers soos wat al hoe meer kinders en tieners die internet en sosiale media gebruik. Die anonimiteit en rykwydte van die internet kan dit makliker maak vir boelies om hulle slagoffers te teiken en moeiliker vir ouers en onderwysers om dit te identifiseer en in te gryp. Hierdie soort boeliery, bekend as kuberboeliery, kan selfs meer skadelik wees as tradisionele boeliery omdat dit heeldag en aldag kan voorkom en ’n baie wyer gehoor bereik.
Dit is daarom belangrik dat jy as ouer met jou kinders oor boeliery en die gevare om daaraan deel te neem of om dit te ignoreer, sal praat.
Help hulle om te verstaan dat boeliery nooit aanvaarbaar is nie, en dat hulle die mag het om daarteen op te staan en om ander wat geboelie word, te ondersteun. Moedig jou kinders aan om daaroor te praat en om vir iemand wat hulle vertrou, daarvan te vertel – hetsy dit hulle self is wat geboelie word, of as hulle sien iemand anders word geboelie.
Hier is ’n paar bykomende wenke vir ouers oor hoe om kuberboeliery te hanteer:
- Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit: Bly op hoogte van jou kind se sosialemediarekeninge en met wie hulle aanlyn kommunikeer. Dit kan jou help om enige potensiële boeliegedrag te identifiseer en in te tree voordat dit ’n ernstiger probleem word.
- Leer jou kind oor internetveiligheid: Wys jou kind op die belangrikheid van aanlyn privaatheid en hoe om hulle persoonlike inligting te beskerm. Moedig hulle aan om eers te dink voordat hulle ’n plasing maak, en om na te dink oor die impak wat hulle woorde en optrede op ander kan hê.
- Beperk tegnologiegebruik: Plaas beperkings op die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn en op hulle toestelle spandeer, en oorweeg dit om beperkings te plaas op sekere webtuistes of apps wat dalk meer geneig is tot boeliery.
- Moedig persoonlike kommunikasie aan: Moedig jou kind aan om van aangesig tot aangesig met hulle vriende en eweknieë te kommunikeer, eerder as om hoofsaaklik op digitale kommunikasie staat te maak. Dit kan help om misverstande te voorkom en die risiko van kuberboeliery verminder.
- Gesels met jou kind oor empatie: Help jou kind om die perspektief/siening van ander te verstaan en om empatie te ontwikkel vir diegene wat dalk anders as hulle is. Dit kan help om die moontlikheid dat jou kind dalk by boeliegedrag betrokke raak, verminder.
Deur hierdie stappe te volg en oop en eerlike gesprekke met jou kind oor boeliery te hê, kan jy help om ’n veiliger en meer positiewe aanlyn omgewing vir jou kind en vir alle kinders, te skep.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
Lees ook: Kuberboeliery – Die gevaar op ons kinders se vingerpunte – Leerhulp (afrikaans.com)
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
