As ouers is ons dikwels geneig om onsself tussen ons kinders en mislukking te plaas. Ons wil hulle beskerm teen die seerkry, verleentheid, hartseer en bitterheid. Maar die ironie is dat jou beskermende skild meer skade as goed kan doen, ongeag jou beste voornemens. Om nie jou kind bloot te stel aan mislukking en die emosies wat daarmee gepaard gaan nie, en die proses deurgaans te beheer, kan daartoe lei dat hulle sal begin glo dat hulle geen beheer daaroor het om ’n situasie te verander nie. Daarom probeer hulle dit nie eers doen nie. Ons noem dit aangeleerde hulpeloosheid.
Dit is belangrik om die lewe se struikelblokke op ’n gesonde manier te omarm, sodat jou kind op ’n bewustelike, maar ook onbewustelike vlak kan groei. Hier is drie belangrike maniere om doeltreffend met mislukking om te gaan.
Om jou kind teen mislukking te beskerm, lei tot meer angstigheid
Doen liewer die volgende: Leer jou kind oor mislukking, hoe dit voel en hoe om dit te benader; ons was al almal in so ’n situasie. Dit maak nie saak hoe gering die insident van mislukking is nie, negatiewe emosies soos teleurstelling, frustrasie en angstigheid, is deel van die pakket. Kinders moet in staat wees om hierdie gevoelens te erken, doeltreffend te kommunikeer wat hulle voel, en dan die probleem op hande hanteer. Deur mislukking onder die mat in te vee, ontneem jy jou kind van waardevolle lewensvaardighede wat in volwassenheid tot hulle voordeel kan strek.
Kinders moet leer dat hulle optrede gevolge inhou
Daar is positiewe en negatiewe gevolge verbonde aan elke optrede of besluit wat ons neem. ’n Kind moet leer dat hulle pogings/probeerslae ’n invloed op die verlangde uitkoms sal hê. Byvoorbeeld, jy sal druip as jy nie leer vir ’n toets nie. Dit sal jou kind leer om persoonlik verantwoordelikheid en self-dissipline toe te pas en terselfdertyd kreatiwiteit en ambisie bevorder. Sodra ’n kind besef dat om op ’n sekere manier op te tree, binne hulle beheer is, is daar min dinge wat in hulle pad kan staan.
Foute help kinders groei
Om foute te maak, is ’n fundamentele deel van jou kind se ontwikkeling. Jou kind sal nooit leer as hy nie toegelaat word om foute te maak nie. Soos reeds genoem, ’n fout kan lei tot negatiewe emosies soos verleentheid, om skuldig te voel en in hulleself te twyfel, maar dit is steeds noodsaaklik dat jou kind hierdie emosies doeltreffend sal hanteer. Daarbenewens, foute sal jou kind leer om kreatief te dink, te prosesseer en oor iets na te dink, voordat hulle in die toekoms oorgaan tot aksie, wat later in die lewe ’n waardevolle vaardigheid is om te hê.
Die belangrikste ding wat ouers vir hulle kinders op hulle lewensreis kan gee, is ’n veilige plek waarnatoe hulle kan terugkeer indien hulle sou struikel. Deur jou kind toe te laat om te misluk, beteken nie dat jou kind jou minder nodig het nie; die teenoorgestelde is eerder waar. ’n Kind wat grootgemaak word in ’n omgewing van onvoorwaardelike aanvaarding, is meer geneig om hulle ouers te vertrou en hulle om raad te vra, as ’n kind wat voel dat hulle uitgelag of gespot sal word oor hulle mislukkings.
“Stepping aside and realising that no real harm is being done to them or you is the first step in understanding that you don’t really have to say no to everything that they attempt to do.” – Georgina Watson
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
