Ons wil mos maar almal die beste vir ons kinders hê. Of dit nou is om hulle te leer om hulle skoenveters vas te maak, of met hulle skoolwerk te help, dit is natuurlik om hulle te wil beskerm en te lei. Maar het jy al die gesegde gehoor: “Te veel van ’n goeie ding, kan sleg wees”? Nou ja, dit geld vir ouerskap ook, veral as dit by “te” kom, of dan oorbetrokke ouerskap.
Stel jou voor: Jy is ’n superheldouer wat ingevlieg of gestorm kom om jou kind te red van elke uitdaging waarvoor hy te staan kom. Klink wonderlik, nè? Wel, dit is dalk nie so wonderlik soos wat dit lyk nie. Oorbetrokke ouerskap, dikwels ook na verwys as helikopter-ouerskap, kan inderwaarheid jou kind se groei en onafhanklikheid belemmer.
Wanneer ons alles vir ons kinders doen, dra ons onbewustelik die boodskap oor dat hulle nie in staat is om dinge op hul eie te kan hanteer nie. Ons bedoel dus goed, maar dit kan lei tot sogenaamde “aangeleerde hulpeloosheid/onbeholpenheid”. Dit beteten dat hulle begin glo dat hulle nie in staat is om probleme op te los sonder konstante ingryping nie.
Hoekom dit saak maak dat hulle hul eie probleme oplos
- Bou veerkragtigheid: Die lewe verloop nie altyd seepglad nie. Deur jou kinders toe te laat om hul eie probleme aan te pak, of dit nou met ’n skoolprojek of vriendskapskwessie te make het, help jy hulle om veerkragtigheid te ontwikkel. Hulle sal leer dat terugslae deel van die lewe is, en dat hulle altyd weer kan terugbons en weer probeer.
- Gee selfvertroue ’n hupstoot: Onthou jy die eerste keer toe jy fiets sonder kantwieletjies gery het? Daardie gevoel van prestasie en trots is iets wat ons ons kinders ook gun en wil laat ervaar. Wanneer hulle uitdagings op hul eie oorkom, groei hul selfvertroue.
- Ontwikkel kritiese denkvaardighede: Wanneer kinders voor probleme te staan kom, moet hulle krities daaoor kan dink en met oplossings vorendag kom. Hierdie vaardigheid is van onskatbare waarde in die werklike lewe waar hulle uitdagings sal teëkom en jy nie noodwendig byderhand gaan wees om dit op te los nie.
- Onafhanklikheid vir die toekoms: Eendag gaan jou kinders volwassenes wees en die wye wêreld op hulle eie ingaan. Deur hulle nou toe te laat om hulle eie probleme op te los, berei jy hulle voor om onafhanklik te wees sodat hulle die lewe later suksesvol sal kan navigeer.
Hoe om onafhanklikheid te bevorder
- Gee leiding, moenie oorneem nie: In plaas daarvan om oor te neem, lei eerder jou kind deur die proses van probleemoplossing. Vra vrae op so ‘n manier dat dit hulle aanmoedig om na te dink oor die moontlike oplossings.
- Bemagtig besluitneming: Laat hulle toe om keuses binne veilige grense te maak. Of dit nou is om hulle eie klere te kies of om oor buitemuurse aktiwiteite te besluit, dit help hulle om verantwoordelikheid aan te leer.
- Leer hulle oor emosionele regulering: Help jou kinders om hulle emosies te bestuur wanneer dinge nie soos beplan verloop nie. Hierdie vaardigheid sal hulle goed te pas kom wanneer hulle stres en teleurstelling moet hanteer.
- Vier probeerslae en moeite, nie die uitkoms nie: Prys hulle as hulle probeer en werk maak van iets en nie die uitkoms nie. Dit moedig hulle aan om aan te hou probeer, selfs wanneer dinge moeilik raak.
- Voorsien ’n veiligheidsnet: Hoewel jy onafhanklikheid aanmoedig, is dit belangrik om in gedagte te hou dat jy steeds daar is om ondersteuning te bied wanneer jou kinders dit werklik nodig het. Sê vir hulle dat dit heeltemal in die haak is om hulp te vra.
In ’n wêreld waar ons kinders omring word deur inligting en tegnologie, het dit nou meer as ooit noodsaaklik geword om hulle vermoë om probleme op te los, te bevorder. Laat jou kind dus toe om die balans te vind tussen die tye wat jy daar is vir hulle en die tye wanneer hulle hulle vlerke op hulle eie kan sprei. Deur dit te doen, berei ons hulle voor op ’n toekoms waar hulle met selfvertroue enige uitdaging waarvoor hulle te staan kom, die hoof kan bied.Onthou, jou rol as ouer is om te lei en te bemagtig, nie om alles vir jou kind te doen nie.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.