Jou kind en stres
Stres is ’n normale reaksie op verandering en uitdagings. En ons almal weet, dit is volop, selfs in die lewens van kinders. Hoewel ouers nie elke ontstellende gebeurtenis waaraan ons kinders blootgestel word, kan voorkom nie, kan hulle leer om bewus te raak van die moontlike stressors en die kind leer hoe om hulle emosies te erken en te bestuur. Hier is ’n paar situasies wat tot jou kind se verhoogde stresvlakke kan bydra.
Om van ’n ouer geskei te wees
Die vrees om weg te wees van ’n ouer, is ’n normale ontwikkelingsproses. Jy kan nie altyd fisies daar wees vir jou kind nie, maar jou kind se persepsie van jou as ’n baken van vertroue, kan wel wees. Daarom is dit so belangrik om vanaf ’n baie jong ouderdom die vertrouensband tussen jou en jou kind te bewerkstellig. Hoe? Deur te reageer wanneer jou kind in nood verkeer, daar te wees in tye van onsekerheid, en om erkenning te gee aan die emosies wat jou kind nog nie verbaal kan oordra nie. Jy kan jou kind help om opgewasse te voel wanneer hulle hulself in ’n omgewing gaan bevind sonder jou, deur hulle voor te berei op die gevoelens en emosies wat hulle waarskynlik gaan ervaar. Bespreek wat sal gebeur, wie die kind sal ontmoet, hoe die kind sal voel en die belangrikste, wanneer jy terug sal wees. Dit sal tyd neem, en party dae sal beter wees as ander, maar moenie moed verloor nie. *Indien jou kind se skeidingsangs baie ernstig is en inmeng met sy lewe, oorweeg dit dan om ’n professionele persoon se hulp in te roep.
Media, speletjies en tegnologie
Gewelddadige en ontstellende beelde dring onbewustelik op die veilige ruimte van ’n kind in. ’n Kind kan nie onderskei tussen wat werklik is en wat nie. Boonop sien ’n kind dikwels dat misdadige gedrag beloon word via die media wat hulle gebruik. Verwarrende en vernietigende boodskappe kan stres en ongemak veroorsaak. Dit kan lei tot irrasionele vrese en twyfel oor die wêreld daar buite en lei tot ’n konstante toestand van bekommernis binne die kind.
Jy moet grense stel oor watter media jou kind gebruik en watter speletjies hulle speel – daar is ’n rede waarom daar dikwels ’n ouderdomsbeperking daarop is! Praat met jou kind oor wat hulle sien en hoor, en wees bedag op wat hulle sê sodat jy hulle kan help om tussen feit en fiksie te onderskei.
Siekte en dood
Praat altyd eerlik met jou kind oor siekte en dood (maar hou dit ouderdomsgepas). Stel jou kind gerus dat jy begrip het vir hulle bekommernisse en moet nooit hulle gevoelens as irrasioneel of onvanpas afmaak nie. Skep ’n veilige spasie vir jou kind, sonder oordeel en spot, wat hulle sal aanmoedig om vrae te vra.
Help jou kind om stres te hanteer deur hulle meer te leer oor emosies en te praat oor die dinge wat hierdie emosies kan veroorsaak. So saam-saam kan julle oplossings vind en leer hoe om uitdagende tye te hanteer.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.