Bydrae: Alita Steenkamp
Het jy geweet dat die blok in die uitdrukking ‘Tjok en blok’ verwys na die blok wat voor die wiel van ʼn vliegtuig geplaas word om seker te maak dit beweeg nie vorentoe nie? Wel, dit is een van die interessante inskrywings in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal waarvan die letter T pas afgehandel is. Die Woordeboek van die Afrikaanse taal is ʼn leksikografiese produk wat die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang dokumenteer. Dit strek van die letter A tot die letter Z. Daar is reeds in 1951 met die letter A begin en die letter T is pas afgehandel.
Tydens ʼn gesprek by die Woordfees het vier lede van hierdie span leksikograwe gesels oor die werk aan hierdie woordeboek. Phillip Louw is die hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Alet Cloete ʼn senior mederedakteur en Andre du Plessis ook ʼn mederedakteur. Hulle het met Naomi Bruwer, wat ook ʼn mederedakteur is, gesels oor wat alles wag in die toekoms. Die belangrikste aankondiging was natuurlik dat die deel waarin die letter T opgeneem is, nou afgehandel is. Dit het bloot aanlyn verskyn, en nie ook in die gedrukte formaat soos voorheen nie. Stygende kostes en die enorme menslike hulpbronkapasiteit wat die totstandkom van ʼn gedrukte uitgawe verg, het hierdie besluit genoodsaak. Tog is die WAT in goeie geselskap want die nuwe uitgawes van die Oxford English Dictionary verskyn ook deesdae bloot aanlyn.
Taal is dinamies en verander die hele tyd en daarom maak dit sin om dit bloot digitaal uit te gee. Op daardie wyse kan dit die hele tyd aangepas word, soos wat taal verander.
Daarby maak dit soektogte vir die gebruiker soveel makliker. Alet Cloete het gesê daar is 14885 afsonderlike beskrywings aangeteken vir die letter T. Altesaam 30664 semantiese definisies met gebruikervoorbeelde met behulp van aanhalings uit ander bronne. Daar is ook 1102 vaste uitdrukkings aangeteken wat met die letter T begin. Van die interessante inskrywings by die letter T is woorde soos taf vir die Engelse tough en têkkel vir tackle. Het jy al ooit iemand hoor wat na sy sitvlak as sy tabernakel verwys? Gaan sit op jou tabernakel is definitief Afrikaans! Dan is daar ook die oulike tropsluiter wat laatlammetjie beteken. ʼn Telegraafpaal is iemand wat baie lank en maer is en dan ken ons almal iemand wat sê hy gaan net gou op die troon sit wanneer hy of sy toilet toe gaan. Van die ander interessante woorde wat by T aangeteken is, is die leenwoorde tjaila wat klaar gewerk het beteken en die Japannese woord teriyake wat na ʼn visdis verwys. Van die wonderlike nuutskeppings wat nou ook deel is van Afrikaans is tegnofoob wat na iemand verwys wat ʼn onnatuurlike vrees het vir enigiets tegnies, tuisknoppie wat verwys na die knoppie waarop geklik moet word wanneer jy na die Tuisblad van ʼn webblad wil terugkeer.
Van die ander interessante uitdrukkings wat onder die letter T opgeneem is, staan die volgende klompie uit:
Iemand maak trane bymekaar. Dit is iemand wat homself bejammer.
Iemand se tabak is te sterk. Hierdie persoon is dronk.
Ta Dorie skud haar rokkie. Dit beteken die wind waai lekker sterk.
In tinktinkie se kerk getroud. Hierdie verwys na ʼn paartjie wat saambly sonder dat hulle wettiglik in die eg verbind is.
Iemand se garetolletjie is afgerol. Dit verwys na iemand wat sy invloed verloor het of dood is.