Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Oktober tot November loop die gemoedere hoog en hang baie ouers en kinders se senuwees aan ‘n draadjie. Dit is eksamentyd.
Ons matrieks skryf sonder twyfel een van die belangrikste eksamens van hulle 12 jaar lange skoolloopbaan – ‘n mens verstaan dus die trane, humeure en histeriese lagbuie. Maar … eintlik hoef dit nie so te wees nie. Ja, dis belangrik dat ‘n mens jou voorbereiding en hersiening vroeg genoeg begin, die tyd insit sodat jy met selfvertroue in die eksamenlokaal kan gaan sit, maar daar is soveel meer wat ‘n mens kan doen. Afrikaans.com het gaan loer na wenke en lys die wat vir ons uitstaan. Doen dit en haal diep asem en kort voor lank is jul huis so kalm soos die Middellandse See.
- Werk volgens ‘n plan en behoorlike studierooster.
- Begin hersiening en voorbereiding vroeg genoeg. Leer deur herhaling bly steeds die beste.
- Maak gebruik van studiemetodes wat vir jou werk, bv. breinkaarte en opsommings.
- Moenie die hersieningsessies te lank maak nie. Onthou: Hoe eet ‘n mens ‘n olifant? Stukkie vir stukkie.
- Laai vorige vraestelle en memorandums af by afrikaans.com se leerhulpafdeling of by https://www.education.gov.za – beantwoord die vraestelle en vergelyk jou antwoorde met die memorandums. Op die manier leer jy uit jou foute.
- Identifiseer betyds waarmee jy sukkel, lig jou ouers in en kry hulp.
- Hou die leerklimaat rustig en kalm en maak seker die studiehoekie is stil sodat jy sonder onderbrekings kan studeer.
- Sorg dat alles notas, opsommings, hulpbronne en riglyne bymekaar geliasseer is – jy moet maklik daarby kan uitkom.
- Toegang tot die internet en genoeg data is nou belangrik sodat gratis hulpbronne afgelaai kan word.
- Eet gesond en gebalanseerd – ‘n mens het energie nodig om te studeer. Gebruik aanvullings indien nodig.
- Slaap en rus genoeg.
- Neem gereelde pouses en doen iets anders. Stap in die tuin, swem ‘n paar lengtes, gaan draf of ry fiets.
- Wees bedag op angs en depressie en tree betyds op. Raadpleeg ‘n kundige.
- Doen gereeld asemhalingsoefeninge, veral as die spanning en/of angs hoog raak.
- Vyf asemteue deur die neus, hou elke asemteug vyf tellings lank in en blaas dan stadig uit deur die mond. Doen dit so ‘n paar keer.
- Wees betyds by die eksamenlokaal en probeer om nie met maats te gesels voordat julle die eksamenlokaal binnegaan nie. ‘n Maat se stres kan maklik na jou toe oorgedra word.
Maar die heel belangrikste: Geniet die eksamen en lekker leer.
Lees ook:
Matrieks: Handige wenke vir die eindeksamen – Afrikaans.com
Sit eksamenstres ore aan – Afrikaans.com
Eksamenstres – Gebruik dit tot jou voordeel – Afrikaans.com
Graad 12’s – dis nou of nooit! Hier is wenke, skakels en studiehulp. – Afrikaans.com