Kinders sal gereeld die negatiewe en positiewe dinge in die lewe moet hanteer. Een van die ergste uitdagings is om met ’n boelie in aanraking te kom. Boeliery gaan gepaard met emosies vir beide kinders en ouers. As ’n ouer, is jou eerste instink om te beskerm, maar om in te gryp en eienaarskap van jou kind se probleem te neem, kan hulle ontneem van ’n belangrike geleentheid om waardevolle lewensvaardighede aan te leer oor hoe om hulle te beskerm teen die boelies wat hulle in alle fases van die lewe sal teëkom.
Kinders sal baie sterk gevoelens, gedagtes of probleme hê en as ’n ouer is dit nie altyd maklik om te bepaal op watter stadium om in te tree nie. Maar, jy was al daar, jy weet wat die oplossings is, en jy wil die lewe makliker maak vir jou kind, of wil nie hê hulle moet deur dieselfde pyn gaan nie. Hier onder is noodsaaklike kommunikasievaardighede om na jou kind te luister wanneer hulle ’n probleem het.
Bly kalm en luister
Dit is moeilik om nie oorweldig, kwaad en emosioneel te reageer wanneer jy hoor jou kind word geboelie nie. Wat belangrik is, is om kalm, rasioneel en objektief te bly sodat jy werklik kan luister en verstaan watter emosies jou kind ervaar – jou kind moet veilig voel en in staat wees om met jou te deel wat aan die gebeur is.
Moenie onderbreek nie! Laat jou kind toe om emosies te ervaar. Jou nieverbale reaksies soos gesigsuitdrukkings en lyftaal sal noodsaaklik wees om te wys dat jy ingestel is op elke woord wat jou kind uiter.
Onthou om jou goeie oordeel te gebruik om tussen boeliery en die meer algemene kindergedrag te onderskei. Byvoorbeeld, veral meisies kan katterig wees met mekaar, maar die nie noodwendig boeliery nie. Soms is dit bloot nodig om jou kind toe te rus met hanterings- en kommunikasievaardighede om hom te help om sy selfbeeld te verbeter en sosiale probleme in sy omgewing te hanteer.
Kry ’n duidelike prentjie van wat besig is om te gebeur
Jou kind is dalk oorweldig met emosies, kan bang voel, kwaad en angstig, wat dit moeilik maak om die feite van die emosie los te maak. Onthou net, dis normaal vir kinders om hierdie emosies te ervaar en om verward te wees. Dit is ’n goeie idee om met onderwysers en ander ouers te gesels as jy agterkom jou kind sukkel om te reguleer en as hierdie emosies herhaaldelik voorkom. Maak seker jou kind is so duidelik as moontlik oor wat aan die gang is, voordat jy besluit hoe om op te tree.
Help jou kind om selfvertroue te kweek en verhoudingsvaardighede aan te leer
’n Sterk gewaarwording van die self – om te weet wie ek is, waar ek inpas, wat my grense is, en hoe om te kommunikeer, is noodsaaklike lewensvaardighede wat jou kind kan help om probleme op te los en gesonde vriendskappe binne hulle omgewing te smee en in stand te hou. Daarbenewens, om te weet dat hulle altyd kan staatmaak op ’n liefdevolle, ondersteunende huislike omgewing waar hulle nie geoordeel sal word nie, sal hulle help om hierdie uitdagende kinderlewe die hoof te bied.
Belangrik: Moet nooit passief wees nie. As jy vermoed jou kind word aanlyn lastig geval of dat die boeliery grens aan ernstige antisosiale gedrag (bv. doodsdreigemente, skending van privaatheid, fisiese en geestelike mishandeling), moet jy onmiddellik optree. Kry die skool betrokke, asook ander ouers, sodat julle saam kan besluit hoe om die saak vorentoe te hanteer.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
Lees ook:
Mites en feite oor boeliery – Leerhulp (afrikaans.com)
Boeliery – Die nare werklikheid in ons midde – Leerhulp (afrikaans.com)
Kuberboeliery – Die gevaar op ons kinders se vingerpunte – Leerhulp (afrikaans.com)
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
