Om tieners groot te maak, kan ’n uitdaging wees en is beslis nie vir sissies nie, veral as hulle met tye gemoedskommelings ondervind, nukkerig raak en gereeld emosionele uitbarstings het. ’n Mens wil natuurlik dikwels kwaad raak en voel gefrustreerd, maar dis belangrik om te onthou dat hierdie gedrag en gemoedskommelings ’n normale deel uitmaak van grootword. Die beste raad is om kalm te bly en die situasie met empatie en begrip te benader – en so te verseker dat julle verhouding nie skade ly nie.
Hier is ’n paar wenke om dit positief te hanteer wanneer jou tiener ineenstort:
- Luister aktief: Wanneer jou tiener onsteld is, gee hulle jou volle aandag. Laat hulle toe om hulle gevoelens uit te druk sonder om hulle in die rede te val of te oordeel. Wys dat jy omgee en verstaan deur erkenning te gee aan hulle perspektief/siening.
- Bevestig hulle gevoelens: Laat weet jou tiener dat hulle emosies geldig en belangrik is. Daardeur kan jy hulle laat voel dat hulle gehoor en verstaan word, wat daartoe kan bydra dat hulle minder gestres en gefrustreerd voel.
- Gee hulle spasie: As jou tiener ’n oomblik nodig het om te kalmeer, gee hulle die nodige spasie. Moenie probeer om die situasie onmiddellik reg te stel nie en gee hulle kans om hulle gevoelens te prosesseer.
- Bly kalm: Moeiliker gesê as gedoen wanneer jou tiener ontsteld is, maar probeer geduldig en vol begrip wees. Moenie verdedigend optree of kwaad word nie, aangesien dit die situasie kan vererger en julle verhouding kan skaad.
- Bied ondersteuning: Nadat jou tiener kalmeer het, kan jy jou ondersteuning aanbied. Laat hulle weet dat jy daar is vir hulle en dat jy omgee oor hulle welstand.
- Vind saam ’n oplossing: Wanneer jou tiener gereed is, probeer om saam ’n oplossing vir die probleem te vind. Moedig hulle aan om hulle gedagtes en idees uit te druk en werk as ’n span saam om ’n oplossing te vind wat vir almal werk.
Ten slotte, om tieners se gemoedskommelings en ineenstortings te hanteer kan uitdagend wees, maar deur die situasie met empatie, begrip en geduld te benader, kan jou tiener voel dat hulle gehoor en ondersteun word en boonop help dit om ’n sterk verhouding met hulle in stand te hou. Onthou dus om ’n positiewe en ondersteunende ouer te wees sodat jou tiener kan floreer.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
