Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wat is in ’n paar syfers of persentasies? Maak dit regtig so ’n groot verskil? Die antwoord is “Beslis!” Dit is juis hierdie syfers waarop belangrike besluite gebaseer word. Besluite soos begrotings en die beplanning van infrastruktuurprojekte, soos byvoorbeeld hoeveel en waar vir skole wat moedertaalonderrig aanbied, begroot gaan word.
In ‘n vorige artikel (Die stand van Afrikaans volgens Sensus 2022) het Afrikaans.com genoem dat volgens Sensus 2022 se bevindings, wit mense in Suid-Afrika al hoe minder raak en dat daar 4,53 miljoen wit mense in Suid-Afrika is, m.a.w. daar is 70 000 minder wit mense in die land in vergeleke met die 2011-sensus. Daar is ook genoem dat die enigste provinsie wat genoeg groei in sy wit bevolking ervaar het, die Wes-Kaap is. Volgens Statistiek Suid-Afrika was daar dan ook ‘n “noemenswaardige afname in die persentasie mense in die land wat Afrikaans as hooftaal praat. Van 14,5% van die bevolking wat dit as hooftaal in 1996 gebruik het, staan die persentasie nou op net 10,6%.
Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut het toe reeds gesê dat dit belangrik is om te onthou dat die sensus slegs uitwys dat Afrikaanssprekendes as ‘n persentasie van die algehele bevolking in Suid-Afrika afgeneem het en dat dit nie noodwendig “beteken dat Afrikaanssprekendes minder word nie, maar dat die aantal mense wat Zoeloe en Xhosa praat in vergelyking meer toegeneem het”. Mulder het ook melding gemaak van die mense wat nie in die Wes-Kaap en Gauteng getel is nie – die provinsies met die meeste Afrikaanssprekendes. Die vraag na Afrikaanse skole en dienste sal dus waarskynlik groter word, maar die ondertellings sal tot gevolg hê dat besluite rakende begrotings en infrastruktuurprojekte geraak sal word.
Geloofwaardigheid van Sensus 2022 word betwyfel: Een uit drie mense is nie getel nie
Volgens Connie Mulder staan hierdie ondertelling op 31%, met ander woorde een uit drie mense is nie getel nie. Beduidend meer in vergelyking met die vorige 2011-sensus toe dit 14,7% was en toe reeds as kommerwekkend beskou is. Mulder sê dat ons eerder sit met ’n meningsopname en nie ’n behoorlike sensusopname nie.
So lyk die ondertellings:
Bevolkingsgroep | Ondertelling in % |
Swart | 36.74 |
Bruin | 44.93 |
Indiër/Asiaties | 72.30 |
Wit | 61.64 |
Ander | 65.05 |
Gemeet aan bogenoemde persentasies is talle mense nie getel nie en sê Mulder dat “ses uit tien wit mense en sewe uit tien Indiërs nie getel is nie. Absurd in sensusterme!”
’n Ontleding van die ondertellings dui ook daarop dat die verspreiding oor provinsies en bevolkingsgroepe heen oneweredig is. Ofskoon dr Pali Lehohla, voormalige statistikus-generaal reken dat die sensus geslaagd was en “statistiese gereedskap wat aangewend is daarvoor (die ondertellings) kompenseer”, is kenners van mening dat ’n ondertelling van meer as 20% wel rede tot kommer is, afgesien daarvan dat daar nie internasionale maatstawwe bestaan vir aanvaarbare ondertellings nie.
Provinsie | Ondertelling |
Gauteng | 30.79 |
Wes-Kaap | 35.58 |
Oos-Kaap | 32.40 |
Noord-Kaap | 33.41 |
Vrystaat | 20.95 |
KwaZulu-Natal | 34.67 |
Noordwes | 23.33 |
Mpumalanga | 35.26 |
Limpopo | 23.53 |
Suid-Afrika | 31.06 |
Stats SA sê dat die ondertellings van die jongste sensusopname onder veral die minderheidsgroepe toegeskryf kan word “aan die covid-19-pandemie, die oorstromings in KZN en die 2021-onluste in Gauteng wat veldwerkers se taak bemoeilik het”. Daarmee saam het sensuswerkers ook “groot uitdagings in omheinde en sekuriteitsgemeenskappe ervaar, wat dit nog moeiliker maak om vraelyste ingevul te kry”. Mulder sê dat toe Stats SA besef het dat hulle van projeksie en wegings gebruik sou moes maak, hulle “moeite moes gedoen het om te verseker die data waarvan hulle werk is wel verteenwoordigend”. Die probleem is nou dat die skewe syfers vir die volgende 10 jaar “die amptelik aanvaarde basisdata is”. Solidariteit het in 2022 hul eie mini-sensus onderneem en die data sal deel uitmaak van die derde weergawe van Solidariteit se Demografieprojek wat na die 2024-verkiesing vrygstel sal word.
Bron en lees meer:
Sensus: Klein jakkalsies knou geloofwaardigheid | Maroela Media
Op en wakker – 16 Oktober 2023
Die sensussyfers moet met ‘n sak sout geneem word, sê Connie Mulder van die Solidariteit Navorsingsinstituut. Volgens Mulder is Afrikaanssprekende mense (wit én bruin) waarskynlik meer as wat Statistieke Suid-Afrika se sensussyfer wys. Klik hier om na die potgooi te luister.