PERSVERKLARING
22 September 2023
Die skrywer, vertaler, visuele kunstenaar en joernalis Kirby van der Merwe het twee kykNET-Rapport-boekpryse losgeskryf met sy lang verwagte tweede roman, Eugene.
Van der Merwe is Saterdagaand 23 September 2023 op ’n funksie by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad aangewys as vanjaar se wenner van sowel die kykNET-Rapportprys vir fiksie as die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke.
Naas verskeie vertalings die afgelope jare is Eugene Van der Merwe se eerste boek sedert die verskyning van sy hoog aangeskrewe debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, in 1999. Eugene is vroeër vanjaar ook met die Eugène Marais-prys bekroon.
Die kykNET-Rapportpryse, wat altesaam R1 miljoen beloop, is Saterdag vir die tiende keer oorhandig. Met dié pryse word jaarliks erkenning gegee aan uitnemende Afrikaanse boeke en resensies wat die vorige kalenderjaar verskyn het. Benewens die kykNET-Rapportprys vir fiksie en Jan Rabie-Rapportprys is die volgende pryse toegeken: die kykNET-Rapportprys vir niefiksie, die kykNET-Rapport Herman Binge-prys vir ’n fiksie- of niefiksiewerk met filmpotensiaal, en twee pryse vir resensies van Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik.
Die niefiksieprys is gewen deur Eunice Visser vir Die Kaapse slawe 1652-1838, wat by Protea Boekhuis verskyn het, en wat vanjaar ook met die LW Hiemstraprys en die ATKV-prys vir niefiksie bekroon is. Die filmprys gaan na Chris Karsten vir Op pad na Moormansgat, wat – soos Eugene – deur Human & Rousseau gepubliseer is. Karsten is ook pas aangekondig as die wenner van vanjaar se ATKV-prosaprys vir dié roman.
Die fiksiekeurders het Eugene, ’n roman oor “’n gentleman-skollie wat sy helder verstand op die smokkeljaarts, langstoepe en in die vuilhoeke van die killing fields gekry het”, uitgesonder as ’n waagmoedige werk wat ’n aanslag op jou kop en ingewande maak. “Dit is veral Kirby van der Merwe se uitsonderlike slag met woorde wat die leser bybly: die vlugvoetigheid waarmee hy sy register na gelang van tyd en omstandigheid afwissel; hoe hy soms skaamteloos met digterlike beskrywings en helder beelde flikflooi; hoe hy ’n mens met sy humor ontwapen en verlei; net om nou en dan – wanneer jy dit die minste verwag – met ’n verpletterende uitklophou te verras. ’n Sjarmante smoelslaner wat die mat, by wyse van spreke, onder jou voete uitruk.”
Ander boeke op die kortlys vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was Op pad na Moormansgat deur Chris Karsten (Human & Rousseau) en Cas Wepener se Roman (Protea Boekhuis). Ook benoem vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke was Dianne Du Toit Albertze vir bottelnek breek bek (Human & Rousseau) en Ruan Kemp vir Wit leuen (Tafelberg).
By niefiksie is Eunice Visser se boek oor die Kaapse slawe van 1652 tot 1838 deur die keurders geloof as “’n inklusiewe komvandaanstorie van die groter ons in Suid-Afrika, met al sy uiteenlopende, maar tog saamvloeiende kwaste en greine. Deur die prisma van haar besonder vars kulturele invalshoek belig sy die lewenswêreld van die slawe met seminale pitkos oor wat ons in Kaaps bedoel met die gesegde ‘alles-en-wat-wat’. Dit beteken dat sy nie lukraak veralgemeen en versamel het nie, maar forensies tot op die hibriede substraat van die slawewêreld gedelf het. Om te leen van ons slawevoorouers: boenting met vars insigte vir die sekolah van die toekoms.”
Ander boeke op die niefiksiekortlys was Wieg deur Joan Kruger (Litera) en Retoervloot deur Dan Sleigh (Tafelberg).
“Filmgoud,” is hoe die filmkeurders Chris Karsten se verhaal van Billy Foster en Koos de la Rey beskryf. “’n Verhaal wat reeds al die bestanddele vir ’n spanningsvolle boek én film bied, is nie genoeg vir Karsten nie. Soos die kraai vlieg, trek Op pad na Moormansgat ons oor tyd en plek om ’n reliëfbeeld van ’n uiters plofbare tyd in Suid-Afrika uit te beeld. In swiep en omvang het ons hier te make met oorlog, politiek, misdaad en selfs groter sosiologiese onderstrominge. Karsten is egter nie ’n kraai wat vlieg nie, maar ’n jagter, wat sy karakters se spore oor berge en dale bekruip en van naderby bestudeer in ’n veerkragtige verhaal met ’n geheelbeeld van ’n universele tema: ons verweefheid as mense. Akteurs sal vuisslaan om karakters soos Nonnie de la Rey (in haar gebroke Afrikaans), Tapiwa Mahlangu, met sy droë humorsin, of die stokstywe Isak Heyns te vertolk.”
Ook op die kortlys vir die filmprys was As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela) en Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen-Wessels (Penguin).
Tydens die funksie is ook erkenning gegee aan die reusebydrae wat deur die Jakes Gerwel Stigting en sy vennote gelewer word om die Afrikaanse letterkunde te verryk en verruim, onder meer met skrywersresidensies, mentorskapsprogramme en drama- en kortverhaalprojekte. Sedert 2019 het 48 Afrikaanse skrywers, baie van hulle jonk en opkomend, tyd deurgebring by die Stigting se skrywershuis in Somerset-Oos. Vyf van hierdie skrywers, onder wie Kirby van der Merwe, verskyn op vanjaar se kortlyste, twee aan resensiekant.
Resensies
Vanjaar se wenners van die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is:
- Fiksie: Deborah Steinmair: “Antjie plunder met twee nuwe bundels: Die Vorstin van Vers laat ons binneste ruk deur die sublieme” oor Plunder en Vetplantfeetjies deur Antjie Krog in Vrye Weekblad, 21 Oktober 2022.
Vrye Weekblad – Antjie plunder met twee nuwe bundels
- Niefiksie: Theodore Rossouw: “Twee lewens deur Elise Bishop, ’n resensie”, LitNet, 21 November 2022
LitNet – “Twee lewens” deur Elise Bishop, ‘n resensie
Dit is die tweede keer dat Deborah Steinmair ’n resensieprys wen.
Die ander benoemde resensente by fiksie was Louise Viljoen en Elodi Troskie. By resensies van niefiksie is Lindie Koorts en Ronelda Kamfer ook benoem.
Die individuele prysgeld beloop R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensieprys vir fiksie en niefiksie onderskeidelik.
Die keurpanele vir die onderskeie boekpryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Louise Viljoen, Beer Adriaanse, Thys Human en Steward van Wyk; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Anne-Marie Mischke, Jeremy Vearey en Kerneels Breytenbach; kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys: Wikus du Toit (M-Net), Beer Adriaanse en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys: Alida Potgieter, Ryan Pedro en Andries Bezuidenhout; kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar: Bibi Slippers (sameroeper), Azille Coetzee en Kirby van der Merwe.
Inligting oor deelname aan die pryse vir 2024 word binnekort bekend gemaak.
Navrae oor die kykNET-Rapport Boekpryse (fiksie, niefiksie en film) kan gerig word aan Hettie Scholtz by 084 583 0272 of scholtz5@mweb.co.za.
Vir meer inligting oor die pryse vir Boekresensent van die Jaar en die Jan Rabie-Rapportprys, kontak Anita van Zyl by 083 709 6677 of anita@vanzylpr.co.za.