Mediavrystelling
Die Proscenium Dramakompetisie is ’n splinternuwe inisiatief van die Tribuo Fonds, wat die doelwit nastreef om bemagtigting in die kunste te bevorder.
Dr Leslie van Rooi, ’n direkteur van Tribuo, verduidelik: “Die Fonds is tydens die Covid-19-pandemie gebore uit die behoefte om noodbystand te verleen aan werkers in die vermaaklikheidsbedryf. Noudat die pandemie-krisis grootliks verby is, is Tribuo se doelwit om as ’n blywende hulpbron steeds fondse in te samel en projekte van stapel te stuur om kunstenaars regoor Suid-Afrika te dien.”
Tribuo se missie is om uitvoerende kunstenaars en tegniese ondersteuningspersoneel te bemagtig deur werk te help skep vir ’n volhoubare toekoms, sê Van Rooi. Die Proscenium Dramakompetisie is een so ’n projek wat nou van stapel gestuur word.
Karen Meiring, Tribuo se uitvoerende voorsitter, beaam Leslie van Rooi se woorde. “’n Belangrike oogmerk is om in die toekoms en die gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf te belê, en juis daarom die jeug bekend te stel aan die wêreld van die uitvoerende kunste. Kulturele belewing speel ’n deurslaggewende rol in die vorming van volronde jongmense wat ’n bydrae tot die samelewing gaan lewer.”
Meiring sê dat deelname aan die Proscenium Dramakompetisie vir hoërskoolleerders van graad 8 tot 12 sal help om ingeligte loopbaanbesluite te maak. “Die ekosisteem in die kunste is baie belangrik en daarom verseker ons dat hierdie kompetisie deelnemers blootstel aan verskeie fasette van die vermaaklikheidsbedryf soos teater, televisie, radio en oorklanking.”
Dié veeltalige kompetisie skep vir deelnemers die geleentheid om individueel in te skryf en hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef. Hoërskoolleerders kan self inskryf, óf deur hul skole óf onafhanklike drama-opleidingsinstansies.
Organiseerders aan die stuur van die kompetisie beskik oor meer as 30 jaar se ondervinding in drama-opleiding en het al baie soortgelyke kompetisies suksesvol aangebied. Herman van der Westhuizen, wat by Proscenium-reëlings betrokke is, sê: “Mentorskap en opleiding speel ’n groot rol in die kompetisie.
“Deelnemers ontmoet suksesvolle professionele akteurs en ervare mentors, en hulle gaan skouers skuur met eendersdenkende kulturele en diverse uitblinkers in die land. Tydens die finale rondes wat in Kaapstad se Kunstekaap teatersentrum gaan plaasvind, sal daar beslis vriendskapsbande gesmee word, en skoliere gaan deel word van nuwe kreatiewe netwerke wat oor die hele land strek.”
Inskrywings open op 1 September 2023 en word aanlyn gedoen by www.proscenium.pro. Inskrywingsfooie beloop R200 per item. Die sluitingsdatum is 26 Januarie 2024. Einde Februarie 2024 skop die uitdunrondes in verskeie sentra in al nege provinsies af, waarna die finaal van 9 tot 11 Mei 2024 in Kunstekaap plaasvind.
Wenners word die aand van 11 Mei tydens ’n prysuitdeling aangekondig.
Sertifikate, medaljes en kontantpryse is op die spel, en RSG en kykNET kies ook uitblinkers onder die finaliste om in ’n radiodrama te speel en ’n gasverskyning in ’n TV-sepie te maak. Overklank ateljees gaan ’n belowende finalis nooi om aan ’n oorklankingsprojek deel te neem.
Graad 12-finaliste kan ook aansoek doen vir ’n WOW-studiebeurs aan die Universiteit Stellenbosch, en daar is ook ’n beurs vir studie aan Northlink Kollege beskikbaar. Nog ’n hoogtepunt waarna finaliste kan uitsien, is om ingesluit te word in die geselskap van ’n verhoogproduksie wat onder leiding van ’n professionele regisseur by ’n kunstefees opgevoer gaan word.
Cornelia Faasen, hoof van NATi en ook ’n Tribuo-direksielid, moedig hoërskoolleerders aan om van dié opwindende geleentheid gebruik te maak. “Die Proscenium Dramakompetisie fokus op die individu se talent en tegniese vermoëns, en nie soseer op ensemble-werk soos in die geval met baie ander kompetisies nie. Skryf nou in en word deel van ’n onvergeetlike ervaring.”
Inskrywings: www.proscenium.pro Navrae: info@proscenium.pro