Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
As daar nou een sportsoort is wat Suid-Afrikaners se verbeelding aangryp en harte raak, is dit rugby, en veral Springbokrugby.
Dit is ook so dat ondersteuners nie doekies omdraai wanneer dit kom by kritiek op die spelers, afrigters of skeidsregter nie, maar al gaan dit broekskeur, volgende week is hulle maar weer voor die televisieskerm of langs die veld en is hulle voor in die koor met die raad, want ons weet mos … die beste stuurman staan aan wal! Speel die manne goed, is daar nie ’n lojaler ondersteuner as ’n Suid-Afrikaanse ondersteuner nie, maar wee die manne as hulle droogmaak!
Nou is dit weer Wêreldbekertyd in Frankryk en daarom gepas dat NB-Uitgewers onlangs die boek, Rapport 30 beste Bokke uitgegee het. Die boek is saamgestel deur Dawie Boonzaaier en lesers kan hulle regmaak vir interessante statistiek, foto’s, staaltjies, onderhoude deur toprugbyskrywers, asook die menings van ’n gesaghebbende paneel van voormalige Bokafrigters. Hulle beantwoord onder andere vrae soos: “Wie is die beste Springbok van die moderne era? Hoe kies jy tussen Bakkies Botha en Eben Etzebeth? Moet Os du Randt of Beast Mtawarira jou skrum anker?”
Neem deel en WEN!
Ons nooi lesers om deel te neem aan ’n kompetisie op sosiale media en die kans te staan om een van drie boeke te wen.
Al wat jy moet doen, is om in die kommentaarafdeling op Afrikaans.com se Facebook-blad vir ons te vertel hoe jy die Bokke tydens die Wêreldbeker vier.
Stuur vir ons ’n storie en/of foto en wie weet, jy is dalk een van drie gelukkige lesers om ’n eksemplaar van hierdie interessante boek te wen.
Kompetisie sluit 15 November 2023.
Hier is so ’n lusmakertjie uit die boek, soos geneem uit ’n uittreksel op NB-Uitgewers se webtuiste.
Albert Heenop skryf soos volg oor Pieter-Steph du Toit:
In die Wêreldbeker-eindstryd, kort ná rustyd met die telling op 12-6 in die Bokke se guns, het die Engelse losskakel George Ford se grootste nagmerrie waar geword. Want in rustyd sou sy afrigter, Eddie Jones, vir Ford vra om vir die volgende 15 minute te verseker dat Engeland sy ritme op die aanval vind – ’n kernbeginsel van enige Jones-span. Ná nege minute moes Ford egter die veld verlaat omdat ene Pieter-Steph du Toit fase na fase meedoënloos gejag het. Ford (1,75 m en 87 kg) sou skaars opstaan of Du Toit – al 2 m en 120 kg van hom – sou weer op hom afpeil. Hierdie vertoning was die kroonjuweel tot dusver in Du Toit se loopbaan. Hy was een van die sterre in die Bokke se skok-oorwinning oor die All Blacks in Wellington in 2018, voordat hy in 2019 – toe die Bokke die Wêreldbeker en die Rugbykampioenskap gewen het – as Wêreldrugby se Speler van die Jaar aangewys is. Hy is een van slegs drie Bokke wat al hierdie eer te beurt geval het.
So vertel Pieter-Steph: “Ek het as seuntjie eendag my pa, Pieter, wat vir Riebeek-Kasteel se dorpspan gespeel het, se ou rugbystewels in ’n kas ontdek en aangetrek. Toe ek boonop daarna op foto’s en ou Springbok-truie van my oupa afkom, het dit meer as net ’n droom geword om eendag self die Groen-en-goud oor my kop te trek.”
Du Toit het sy droom verwesenlik en sedert sy buiging in 2013 so uitgeblink dat hy nr. 12 op Rapport se lys van die Top-30-Bokke van die afgelope drie dekades is. Nóg belangriker is dat hy in 2019 slegs die derde Bok geword het om as Wêreldrugby se Speler van die Jaar aangewys te word, naas Schalk Burger (2004) en Bryan Habana (2007). Nes Burger, loop die rugbybloed deur Du Toit se are. Sy oupa was Piet “Spiere” du Toit, wat Suid-Afrika in 14 toetse verteenwoordig het (1958–’61) en deur dr. Danie Craven beskryf is as een van die sterkste spelers om ooit in die Bok-voorry te sak. “Pa het vir ons heelwat stories vertel van Oupa se rugbydae, en ons het van jongs af die Bokke ondersteun.
Dit is die meeste seuns se droom om eendag Springbok te speel, en dit was myne ook. Oupa het daardie droom help realiseer. Ek het begin redeneer: As hy dit kon doen, dan kan ek ook.”
Benewens sy Bok-oupa, het Du Toit ook ander rugbyhelde gehad. “Flanke soos Schalk Burger, Juan Smith en die All Black Richie McCaw, wat die bestes was in hul posisies in die wêreld . . . Ek wou altyd ’n losvoorspeler wees en het hulle beny.” Ná skool het hy in die Haai-tenk gaan draai, waar hy as slot spoedig naam gemaak het. “Namate die droom meer realisties begin raak het, het ek die geleenthede aangegryp wat na my kant toe gekom het. Nadat ek Cravenweek gespeel het, het die Blou Bulle my ook genader, maar die Haaie het my eerste raakgesien. Ma het saam met my opgevlieg Durban toe, en dit was ’n vreemde wêreld vir my. Dit was die eerste keer ooit dat ek Durban gesien het. Dit was ’n kwaai aanpassing, maar die Haaie het dit gerieflik gemaak vir my. Ek was nog ’n redelike maer outjie gewees, want ek het nooit voorheen in die gimnasium geoefen nie. Dit was toe dat André Volsteedt, destydse krag-en-kondisioneringsafrigter van die Haaie-akademie, my onder sy vlerk geneem het. Ek het lyf begin aansit, klubrugby begin speel vir College Rovers, waar Robin Swanepoel my afgerig het, en Sean Everitt het my by die o.21’s ingetrek.” Dit was in 2011, en skaars twee jaar later is Du Toit as Speler van die Wedstryd aangewys ná die Haaie se klinkende sege van 33-19 oor WP in die Curriebeker-eindstryd van 2013 op Nuweland. Presies twee weke later, op 9 November 2013, het Du Toit sy kinderdroom van onder die Swartlandse sterrehemel verwesenlik toe hy as plaasvervanger opgedraf het vir Eben Etzebeth in Suid-Afrika se oorwinning van 24-15 oor Wallis voor bykans 70 000 toeskouers in Cardiff – waar “Oupa Piet” 53 jaar vantevore ook kragte gemeet het met die Walliesers.
“Eben het, toe hy afkom, vir my gesê: ‘Hier’s dit nou, geniet dit!’” onthou Du Toit. “Terwyl ek opdraf, kon ek nie ophou lag nie. Ek was in die wolke. Dit was die grootste ding wat nog met my gebeur het. My droom het waar geword.”
Oor Joost van der Weshuizen – Meneer X-faktor:
Joost van der Westhuizen was so ’n goeie rugbyspeler dat hy heel waarskynlik toetsrugby in elke posisie in die agterlyn sou kon speel. Hy het hom egter toegespits op skrumskakel, en vanaf 1995 tot 1999 was daar kwalik ’n beter skrumskakel op aarde. Van der Westhuizen het die rol van skrumskakel – gewoonlik ’n speler wat slegs moet seker maak dat sy agterlyn skoon en vinnige balle kry – verander in ’n dodelike aanvalswapen wat rondom afbreekpunte verskeie hoofbrekens kon besorg aan verdedigers. Sy driedrukrekord in dié posisie is fenomenaal. Geen skrumskakel het al meer as sy 38 toetsdrieë gedruk nie. Van der Westhuizen se impak op skrumskakel is grootliks die rede hoekom meeste Suid-Afrikaanse spanne steeds hul skrumskakel as spelskepper in plaas van hul losskakel gebruik. Hy was die Bokke se skrumskakel tydens die Wêreldbeker-oorwinning in 1995, en het sy land in 89 toetse verteenwoordig, waarvan 10 as kaptein. Benewens sy Wêreldbeker-sege in 1995, spog Van der Westhuizen ook met ’n Drienasies-titel in 1998.
Skryf Albert Heenop: Een van Joost van der Westhuizen se uitstaande eienskappe was sy vermoë om áltyd ’n plan te kon beraam – ongeag die situasie op die veld.
Só onthou Rassie Erasmus, wat die meerderheid van sy 36 toetse tussen 1997 en 2001 saam met dié kwiksilwer-skrumskakel gespeel het. “Joost het alles gegee vir die span en hy het enorme trots gehad in die Bok-trui, wat as geweldige inspirasie vir sy spanmaats gedien het.” Van der Westhuizen, wat in 2017 oorlede is ná ’n lang stryd teen motorneuronsiekte, is nr. 2 op Rapport se lys van die Top-30-Bokke van die afgelope drie dekades. Van der Westhuizen was nie net een van die “grootste” Bokke ooit nie, maar ook een van die beste toetsspelers nog. Hy het die handleiding vir skrumskakelspel radikaal herskryf. Die 38 drieë wat hy in sy 89 toetse ingeryg het, is die meeste deur ’n toetsskrumskakel. Nieu-Seeland se Justin Marshall is naasbeste met 24, terwyl die legendariese Gareth Edwards van Wallis 20 drieë gedruk het. Die eerste van sy 38 drieë het Van der Westhuizen reeds in sy toetsdebuut, op 6 November 1993 teen Argentinië in Buenos Aires, aangeteken. Sy skakelmaat daardie dag was Joel Stransky. “Joost het oor enorme talent en ’n ongelooflike vaardigheidstel beskik,” sê Stransky. “Hy was van dag een af bestem om groot hoogtes op toetsvlak te bereik. Fisies was hy lank, gespierd en sterk, en blitsvinnig, met ’n venynige systap. As ’n spanman was Joost nietemin ’n taamlike stout bliksem, ondeund en altyd reg om nonsens aan te jaag. Hy het voluit geleef. Hy was trots Suid-Afrikaans en passievol oor die Groen-en-goud, oor die Bok-embleem, en sou alles in die stryd werp vir sy land. En Joost was flippen dapper. Die moedige wyse waarop hy die stryd met motorneuronsiekte aangepak het, was inspirerend. Selfs toe hy al ernstig siek was, het hy steeds geglimlag en die positiewe raakgesien.”
Gaan kyk gerus op NB-Uitgewers se webtuiste (https://www.nb.co.za) om die boek te bestel of besoek enige goeie boekwinkel.
ISBN: 9780624094166
Uitgewer: Tafelberg
Datum vrygestel: Julie 2023
Prys: R350-00
Sagteband 192 bladsye








