Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Niamh dring deur na die semifinaal van die Junior Eurovision Song Contest in Ierland.”
Vroeër die jaar het ons ’n artikel geplaas waarin ons lesers meer vertel het oor die jong Suid-Afrikaner, Niamh Beatrix (Smith), wat deesdae saam met haar gesin in Ierland bly en opslae maak met haar sang. Haar musiekvideo van die Heuwels Fantasties-treffer, Klein Tambotieboom, het jonk en oud betower en intussen gaan die talentvolle jonge dame met die ouwêreldse voorkoms en engelstem voort om Suid-Afrika se naam hoog te hou en grense te verskuif.
Ar scáth a chéile a mhaireann na daoine – “Mense leef in mekaar se skaduwees.”
Dít is die inskripsie op Niamh se tweede liedjie wat op 11 September ten bate van Make-a-Wish Ireland vrygestel is. Dié treffer van Snow Patrol, Chasing Cars, en wat Niamh soos altyd haar eie maak, is net nog ’n bewys dat ons nog lank die naam, Niamh Beatrix gaan hoor. Sê Niamh: “Dit beteken mense word deur mekaar teen die son beskerm en ek het dit gekies, want vir my gaan hierdie liedjie daaroor om tyd deur te bring in die skuiling van diegene vir wie ons lief is.”
Haar eerste vrystelling ten bate van hierdie liefdadigheidsorganisasie, Klein Tambotieboom, is meer as 2 000 keer gestroom en meer as 21 000 keer in minder as ’n maand op YouTube gekyk. Beide Chasing Cars en Klein Tambotieboom kan vanaf groot platforms gestroom word en die musiekvideo’s, met pragtige beeldmateriaal van die Ierse landskap, kan op Niamh se YouTube-kanaal @NiamhB gekyk word.
Eerste Suid-Afrikaner in uitdunne vir Junior Eurovision-sangkompetisie in Ierland
Soos ons nou reeds weet, is Niamh baie bedrywig en goeie nuus is dat die pragtige sangeres met haar groot hart en stem vroeër vanjaar uit duisende gekies is vir die Junior Eurovision Song Contest Éire-uitdunne. Niamh het op 18 September deurgedring na die semifinaal wat op 1 Oktober uitgesaai word. Sy het OneRepublic se Counting Stars in Iers gesing.
Kom ons hou duim vas! Wie weet, as sy deurdring na die finaal, is sy dalk uiteindelik die sanger wat Ierland in Frankryk gaan verteenwoordig.
Om Niamh se vordering te volg, besoek haar Instagramblad by @niamhbeatrix.
Kyk en geniet gerus die video van Niamh se vertolking van Chasing Cars hier:
Lees ook:
Niamh Beatrix straal deur haar sang in Ierland – Afrikaans.com
Foto’s wat tydens die Junior Eurovision-uitdunne in Ierland geneem is en waarna Niamh deurgedring het na die semifinale rondte.