Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Navorsing wys dat ouers ’n kind se IK kan verhoog deur die regte voorskoolse stimulasie. Met die regte breinstimulasie kan jy daartoe bydra dat jou kind beter of bogemiddeld presteer. Alle kinders het breinstimulasie nodig, ongeag hoe “slim” hy is.” – Brand van Dyk, remediërende leeskenner (Groeipyne op RSG)
Die meeste van ons het al gesê: “’n Mens is nooit te oud om te leer nie!” Net so is ’n mens ook nooit te jonk om te leer nie. Trouens, hoe vroeër ons breine ingespan word en op die regte maniere gestimuleer word, hoe beter vir ons kognitiewe ontwikkeling.
Navorsing het reeds bewys dat vroeë breinstimulering daartoe bydra om jou kind as’t ware slimmer te maak. Veral in die eerste vyf jaar, is ons kinders se breine soos sponse en elkeen van die 100 triljoen selle waaruit die brein bestaan, smag daarna om gestimuleer te word. Die selle stuur en ontvang boodskappe en tydens die proses word verbindings tussen die senuselle gevorm waarlangs inligting oorgedra word. Die brein is ongelooflik en kan met reg beskou word as die liggaam se beheerkamer. Denke, beweging, taal en gevoelens word beheer vanuit hierdie sentrale punt. En teen drie jaar oud, is die brein al 80% van sy uiteindelike volwassse grootte. En dis juis om dié rede dat ouers aangemoedig word om sommer vroeg-vroeg (so jonk as drie maande) met breinstimulasie te begin. Dit is immers die ouers wat die grootste rol in hulle kinders se ontwikkeling speel.
Aanvanklik ervaar jou baba net kalmte of spanning, maar hier teen 18 maande is die brein gereed vir taalontwikkeling en dis veral in die tweede jaar dat kommunikasie ‘n belangrike rol speel.
Maak jou kind se brein slim
“Kruip veral is belangrik en wanneer jou kind arm- en beenbewegings uitvoer wat die middellyn oorsteek, word die twee kante van die brein gedwing om te kommunikeer en versterk die senuweepaadjies wat die kante van die brein verbind. Dit help later met lees en skryf.”

Let op die volgende, maar onthou om dit ouderdomsgepas te hou:
- Sintuiglike stimulasie. Stel jou baba bloot aan klanke, smake, reuke, visuele beelde of vorms.
- Beweging is noodsaaklik. Jou kleinding moet kruip, loop, klim en klouter. Hoe meer hoe beter. Om op ’n klimraam te klouter is veral nuttig om “sy brein terugvoer te gee oor sy posisie in die ruimte en sy sin vir rigting en is veral ook goed vir middellynkruising en balansoefeninge”.
- Lees vir jou kind. Vanaf drie maande oud. Dit doen wondere vir jou kind se taalontwikkeling.
- Noem ’n ding op sy naam en gesels met jou kind – vertel hom waarmee jy besig is en benoem kleure en voorwerpe.
- Speel musiek, sing liedjies en kleuterrympies, en dans sommer saam. So word albei kante van die brein gebruik.
- Gee jou kind verf, kwasse, kryte en dies meer en laat hy teken, plak en knip.
- Klei en blokkies. Klei speel en blokkies bou is “uitstekende heelbreinoefening omdat albei handjies moet saamwerk”. Boonop stimuleer dit logiese denke en hope kreatiwiteit.
- Verbeeldingspel. Daardie boks vol klere en interessante voorwerpe is ideaal om jou kind se verbeelding te prikkel. Fantasiespel stimuleer laterale denke.
- Kinders moet speel. Alleen en saam met maatjies. Hierdie sosiale interaksie is noodsaaklik. Dit ontwikkel jou kind se “emosies, lyfie, woordeskat en denke”.
- Ouditiewe geheue. Speel speletjies om dit te oefen, soos om ’n ritme te klap en hom te vra om dit te herhaal. Dit sal help dat opdragte (veral in die skoolopset) later makliker uitgevoer kan word.
- Visuele geheue. “Pak voorwerpe uit en laat hom daarna kyk. Verwyder een en kyk of hy weet watter een weg is.” Of gooi die voorwerpe toe en kyk of hy hulle kan opnoem. Hierdie tipe stimulasie help ook later met spelling.
- Vertel stories. Jou kind kan die storie agterna terugvertel of moedig hom aan om sy eie storie op te maak. In laasgenoemde geval is boekies met prente, en sonder woorde, aangewese.
- Vra is vry. Kinders vra baie vrae en ouers moet maar geduldig bly en soveel moontlik van hul vrae beantwoord. ’n Nuuskierige kind is ’n leergierige kind.
- Moedig hom aan om met kreatiewe antwoorde vorendag te kom. Dit is goeie stimulasie vir die regterbrein.
- Kamma lees. Die beweging van die oë van links na regs en bo na onder en veral wanneer hy simbole begin herken, is uitstekende oefening vir die linkerbrein. “Die visualisering van beelde en ervaring van emosies oefen weer die regterbrein.”
- ’n Gesonde dieet is nodig sodat die brein na behore kan ontwikkel. Veral omega 3-vetsure (in vis soos salm en sardientjies) is net die olie wat die brein nodig het.
Oorstimulasie kan lei tot afsluiting
Dit bly mos maar waar – alles met ’n “te” vooraan, is ook nie goed nie. Daarom is dit “belangrik om ’n balans te vind tussen te min en te veel stimulasie”. Wanneer ’n kind oorstimuleer word, sit jy later met ’n ongelukkige, prikkelbare kind wat sukkel om te konsentreer, nie wil saam “leer” of speel nie en sukkel om te slaap. Moet nooit jou kind dwing om iets saam met jou te doen as hy onwillig lyk en wegdraai nie. “Dit is dikwels ’n teken dat hy genoeg gehad het.”
Breingroei word negatief geraak deur die volgende:
Stres. Die brein werk op oorlewingsvlak en raak minder ontvanklik vir leer.
Gebrek aan aanraking. Leerervarings hou daarmee verband. Daarom is aanraking so uiters belangrik vir ontwikkeling.
Geen stimulasie. “Studies toon dat doeltreffende stimulasie die struktuur, grootte en chemiese werking van ’n kind se brein kan verander.”
Wanvoeding. Veral in die eerste twee jaar na geboorte is voeding belangrik vir die ontwikkeling van die brein. “’n Ondervoede kind se brein sal waarskynlik kleiner wees as normaal en sy IK sal laer en sy taalontwikkeling swakker wees.”

Wenke vir ouers om briljantheid by hul kinders te kweek
Remediërende leeskenner, Brand van Dyk, gee in die program Groeipyne op RSG, die volgende wenke (sien skakels onderaan artikel):
Een-tot-een stimulasie: Daardie intense fokus tussen die ouer en die kind is een van die belangrikste redes hoekom kinders uitstyg.
Gebruik jou tyd optimaal en begin reeds van voor die kind se geboorte om stimulasiemateriaal bymekaar te maak. Dit sluit ouderdomsgepaste flitskaarte in. Flitskaarte kan reeds vanaf drie maande oud gebruik word.
Onderrig begin by die huis. Dit is veral by die huis waar die kind alleen saam met die ouer kan fokus wanneer daar gekommunikeer word en sy woordeskat so uitgebrei word. Dit is ook waar dat ‘n kind wie se brein op prettige wyse gestimuleer word, daarna uitsien om nog meer te leer.
Leer jou kind om taalvaardig te wees. As jy as ouer se taalvermoë ontwikkel is, en jy ’n uitgebreide woordeskat en algemene kennis het, is die kanse soveel beter dat jou kind se taalvermoë en begrip bogemiddeld sal wees. Probeer om nie babataal met jou baba te praat nie.
Speel met jou kind. Deur balle te gooi, te rol, in die sandput of met water te speel, stimuleer jy jou kind se brein en bevorder jy sy hand-oog-koördinasie. Speletjies speel, liedjies sing en dans (beweging) is net so voordelig vir jou kind se brein en konsentrasievermoë. Jou kind se lyf moet aan die gang bly.
Boeke. Sorg vir genoeg ouderdomsgepaste boeke, asook boeke binne die belangstellingsveld van jou kind en lees gereeld vir jou kind voor.
Getalbegrip. Taalvaardigheid sluit getalbegrip in en dra grootliks daartoe by dat jou kind later wiskunde kan baasraak. Tel dus alles terwyl julle kommunikeer, bv. “Hier is drie koekies in die blik. Ek gaan een vir Pappa gee en jy kan een eet. Hoeveel koekies is oor?”
Praat, praat, praat. Die manier waarop ouers met hulle kinders kommunikeer, is belangrik – die toon, intonasie, die tipe woorde, die gesigsuitdrukking – dra alles daartoe by dat jou kind leer hoe om ander mense se woorde te interpreteer en selfs hoe om in sekere situasies op te tree.

Rede vir flitskaarte
Flitskaarte fokus die kind se aandag. Navorsing het ook gewys dat stimulering deur middle van flitskaarte – eers enke woorde en later kombinasiewoorde – beslis tot leesvaardigheid en -begrip bydra.
Daarom begin ‘n mens eenvoudig. Aan die begin wys jy vir die kind ‘n eendimensionele prentjie – hy hoef net op een ding te konsentreer, want … “elke breinsel kan net een diskrete feit op ‘n slag hanteer”. Soos wat die kind groter word, kan ‘n mens meer komplekse flitskaarte begin gebruik, bv. ‘n hond en ‘n boom – en dan later, die letter “h” en die woord: “hond” ook byvoeg.
Flitskaarte kan kreatief gebruik word, is maklik om sommer self te maak of kan gekoop word. Hou dit interaktief – dit is daarom ‘n goeie idee om die kaarte te lamineer sodat die kind daaraan kan raak.
Kry verskillende stelle flitskaarte – vir taal, vir wiskunde, ens. – en dra dit saam met jou. Onderwerpe kan insluit: liggaamsdele, ons huis, my kamer, wilde diere, plaasdiere, kleure, vorms en so meer.

Ten slotte:
‘n Kind wat met insig van babatyd reeds gestimuleer word – sonder om uit die oog te verloor dat kinders ook toegelaat moet word om vry en op hulle eie te speel – ontwikkel in ’n volronde mens. Dit is die kind met ’n goeie selfbeeld, genoeg selfvertroue, en ’n verantwoordelikheidsin. “Jou deelnemende kind wat ‘n aanwins vir die gemeenskap is.”
Sê Brand van Dyk: “Jy as ouer het die mees kreatiewe taak en is besig om iemand voor te berei wat uiteindelik sy eie toekomsdrome moet najaag. Ouers moet besef dat hulle ‘n rol te speel het in hulle kinders se fondasievaardighede. Ons as ouers moet ons kind die vaardighede leer en dit vestig sodat die kind dit dan later self kan ontdek.”
Bronne:
Stimuleer jou kind se brein optimaal | Baba en Kleuter (netwerk24.com)
Groeipyne, RSG: 18 en 25 Mei 2023: Gaan luister gerus na die volgende twee potgooie op RSG:
Groeipyne: 18 Mei 2023 Remediërende leeskenner, Brand van Dyk, gesels oor verantwoordelike ouerskap en breinstimulering – https://omny.fm/shows/groeipyne/groeipyne-18-mei-2023
Groeipyne: 25 Mei 2023 Gesprek oor breinstimulasie en taalontwikkeling word voortgesit –