So midde-in al die rugby waarmee ons deesdae toegegooi word, is daar opwindende nuus vir diegene wat daarvan hou om met ’n storie weggevoer te word na ʼn verbeelde werklikheid.
RSG se splinternuwe radiovervolgverhaal, Dor, word vanaf Maandag 18 September weeksmiddae om 14:45 uitgesaai.
Dor, sê die woordeboek, is uitgedroog, waterloos, maar beteken op ʼn figuurlike vlak ook dood of nie lewendig nie en al hierdie elemente word vasgevang in hierdie radiovervolgverhaal. Dor is ’n aksiedrama geskryf deur die ervare Anton Treurnicht en dit speel in die toekoms af. Die agtergrond is Suid-Afrika se ergste droogte in menseheugenis. Die inwoners van ’n dorpie in die Klein-Karoo is vasgevang in ’n wêreld wat beheer word deur ’n drakoniese staatstelsel en vlak 5-waterbeperkings lê die samelewing lam. Riviere en damme het lankal opgedroog en die dors na die volgende sluk water oorheers alles. Elke druppel tel, want daar is beslis nie genoeg vir almal nie.
Johny Klein, stemkunstenaar en akteur, is die regisseur van hierdie radiodrama. Hy vertel dat daar vyf hoofkarakters in Dor is en ervare stemkunstenaars soos Karen Wessels, Vinette Ebrahim, James Borthwick, Claudia Jones en Phillru van Achterbergh vertolk hierdie rolle. Ander bekendes sal ook in die loop van die verhaal deel vorm van die storie. Dit sluit mense soos Rika Sennett, Mortimer Williams, Bertha Le Roux-Wahl, Botha Enslin en Kevin Smith in.
Vir Johny is dit ʼn heerlike ervaring om agter die stuur van hierdie produksie te staan. Daar word Saterdae-oggende opgeneem aan die 60 episodes waaruit Dor bestaan en die werk sal eers teen vroeg November afgehandel wees. Om met so ʼn groot span vryskutte te werk en seker te maak dat almal wat nodig is vir sekere episodes wel daar is, verg soms fyn beplanning, sê Johny. Tog verloop dinge glad met die opnames, en kan ons uitsien na iets besonders. Kom luister saam, jy sal nie teleurgesteld wees nie! Elke weeksmiddag van 14:45 tot 15:00 op RSG.