Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Kinders se werk is om te speel.” – Karyna le Roux, kinderkinetikus (Groeipyne op RSG, 24 Augustus 2023)
Min dinge is so lekker om na te luister as kinders wat lag en speel. Daardie gejil, geklouter en rondhardloop klink dalk vir party van ons soos geraas, maar die waarde van speel kan nie misgekyk word nie. Deur te speel, ontwikkel ’n kind nie net hulle spiere nie, maar ook hulle breine. Kruip, swaai, hardloop, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak, klim en klouter, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou kind se groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Daardie vaardighede wat nodig is om onder andere regop te sit, ’n potlood vas te hou, met ’n skêr te knip en ’n bal te vang. Daarmee saam kom die kognitiewe en kreatiewe ontwikkeling en help dit sommer ook met die kind se gesondheid. So spelenderwys leer die kind ook hoe om op sosiale vlak met ander te verkeer en hoe om byvoorbeeld konflik op te los en te onderhandel. Hou maar gerus so ’n spelery dop, daar is gewoonlik ’n leier, die volgers en die skameriges, maar uiteindelik speel almal heerlik saam.
Afrikaans.com het die volgende artikel saamgestel oor hoekom jou kind moet speel om te kan ontwikkel.
Speel = ontwikkeling
Die kinderkinetikus, Karyna le Roux, sê dat speel en oefen die manier is “hoe kinders die wêreld rondom hulle waarneem, hulle lyfies ontdek en uitvind waartoe daardie lyf in staat is”. So kom hulle gou agter hoe hoog hulle kan klim of hoe vinnig hulle kan hardloop en raak hulle bewus van hulle vinnige hartklop en asemhaling nadat hulle ’n resies gehardloop het.
Kinders wat nie speel nie en dus nie die genoegsame stimulasie kry nie, gaan waarskynlik sukkel met ander vaardighede en om te leer. Hulle het dikwels ’n agterstand ten opsigte van die aanleer van taal en woordeskat, getalbegrip, en so meer – hoofsaaklik omdat die kind nie die geleentheid gehad het om spesifieke vaardighede te oefen nie en die paadjies in die brein nie genoegsame konneksies gemaak het nie. Karyna noem ’n voorbeeld waar ’n kind wat byvoorbeeld nooit geswaai het nie, of bal geskop en gevang het nie, kan sukkel om op die bord te kyk en reg af te skryf, want hy het nie die nodige beheer van sy oogspiere nie en die hand-oog-koördinasie is dus nie na wense nie, of vind baie stadig plaas.
Voordele van speel
“Gewone speletjies is die sleutel tot gelukkige, gesonde, vaardige en goed aangepaste kinders.” – Anys Rossouw, opvoedkundige sielkundige (Rooi Rose, 23-11-2019)
- Bevorder fisieke gesondheid en fiksheid
- Verbeter groot- en fynmotoriese ontwikkeling
- Bou verbeelding en kreatiwiteit
- Bevorder kognitiewe ontwikkeling (breinfunksie)
- Verbeter geletterdheid
- Help met probleemoplossing
- Help met emosionele gedrag
- Ontwikkel selfvertroue en selfbeeld
- Help om sosiale vaardighede te ontwikkel en te verbeter
- Verlig stres en angstigheid

Wat het geword van verbeeldingryke spel?
In ’n artikel in Rooi Rose (23-11-2019) noem die opvoedkundige sielkundige Anys Rossouw die volgende redes waarom kinders nie meer verbeeldingryk en vry speel nie:
- Kinders neem deel aan georganiseerde sport en ander aktiwiteite, want albei ouers werk voldag, en is dikwels in nasorgsentrums. Daar is dus nie genoegsame geleentheid vir vrye spel nie.
- Kinders kan nie meer sonder toesig gelaat word om in die park met hulle maats te gaan speel nie.
- Verrykings- en ontwikkelingsaktiwiteite. Kinders se dag word gevul met georganiseerde aktiwiteite wat volgens die ouers se persepsie bydra tot verwesenliking van hulle potensiaal en sodoende word geleentheid vir gewone speeltyd beperk.
- Oorvol programme. Kinders is bloot te moeg en sal liewer passiewe vermaak kies, soos televisie kyk, rekenaarspeletjies speel, ens.
- Te veel speelgoed. Speelgoed bepaal dikwels wat en hoe daar gespeel word, sodat die verbeelding nie meer ingespan hoef te word nie.
- Hedendaagse leefwyse. Kinders wil deurentyd vermaak en besig gehou word. Ontbreek die vermaak, raak hulle verveeld, want hulle het nie geleer om hulleself besig te hou nie.

Spel wat noodsaaklik is
Anys Rossouw sê in dieselfde artikel dat die volgende soort spel belangrik is:
Fisiek aktiewe en motoriese spel. Klim, klouter, hardloop, ens. Ontwikkel en versterk spiere en die liggaam en integreer senwee- en brienontwikkeling.
“Onaktiewe kinders is lomp en het ’n onderontwikkelde neurologiese, vestibulêre balansstelsel. Hul liggaamsbewustheid en visueel-ruimtelike oriëntasie verswak terwyl dit krities belangrik is vir lees, skryf en sekere wiskundige en wetenskaplike vaardighede.” Aldus Rossouw.
Konstruktiewe spel. Deur met verskillende materiale dinge te skep of bou, “leer kinders oorsaak en gevolg deur te probeer, en ontwikkel fynmotoriese vaardighede. Hulle kry bevrediging omdat hulle iets regkry en so verhoog hul selfvertroue, selfbeeld en waagmoed.”
Sosiale speel. Deur met ander kinders te speel, leer kinders “bedagsaamheid, om te deel, te onderhandel, te wag, beurte te maak, in groepsverband saam te werk, konflik en kritiek te hanteer, asook emosionele selfregulering”.
Fantasie- of verbeeldingspel. “Kinders gebruik hul verbeelding, maak planne en ontwikkel kreatiewe denke en probleemoplossing. Dit maak hulle leergierig en meer gereed vir die eise wat die skool op alle vlakke aan hulle stel.”
Ten slotte: Moenie die waarde van speel onderskat nie.
Ons weet ouers is besig en sorg dat die kinders elke oomblik van die dag besig is met een of ander aktiwiteit, maar … dalk is hulle so besig dat hulle glad nie tyd het om net te speel nie.
Laat jou kind toe om net kind te wees. Laat hulle kaalvoet buite speel en hulle eie speelgoed praktiseer, moedig hulle aan om liewer buite te gaan speel as om soveel tyd op toestelle te spandeer. Hulle mag maar vuil raak.
Lees is ook speel. Lees vir en saam met jou kind. “Dit bevorder selfregulering, luister- en taalvaardighede, geheue, algemene kennis, en so meer.”
Kinders moet op hulle eie kan speel – selfs babas van ses maande behoort hulleself vir 15 tot 20 minute te kan besig hou.
“As ouers werklik met hulle kinders speel, versterk dit hul verhouding en kinders ervaar dat hulle ware aandag en liefde kry. Hulle ouers verstaan hulle beter en kan hulle in hul emosionele en sosiale ontwikkeling steun.” – Anys Rossouw, Rooi Rose (23-11-2019)

Bronne:
Die waarde van SPEEL vir ontwikkeling: – Huppelhoekie Kleuterskool
Hoekom dit goed vir kinders is om meer te speel | rooi rose
Potgooi, RSG – Groeipyne, 24 Augustus 2023 – gaan luister gerus wanneer Karyna le Roux met Anthea Fredericks oor die belangrikheid van speel vir jou voorskoolse kind gesels.
https://omny.fm/shows/groeipyne/groeipyne-24-augustus-2023
Lees ook:
https://leerhulp.afrikaans.com/2020/06/25/speel-jou-kind-genoeg/