September is Erfenismaand en sedert 2005 is Erfenisdag op 24 September beter bekend as Nasionale Braaidag. Jan Braai is die man agter die inisiatief. Deur die jare het ons gereeld die program, “Jan braai vir Erfenis”, op KykNET gesien. Die program is tans in sy 12de seisoen. Jan is ook die skrywer van ‘n hele paar topverkoper-braaiboeke en deesdae kan ‘n mens selfs smul aan Jan Braai-boerewors en -souse. Dan is daar ook ‘n hele reeks braaitoerusting onder die Jan Braai-handeslnaam te kry.
Afrikaans.com het met die bekende braaier gesels en hom gevra om ons Tribe of Mentors-vrae te beantwoord – sommer net om die man agter die rooster, die tjop en braaibroodjies te leer ken.
- Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom?
Ek gee baie gereeld vir mense boeke as geskenke. Hetsy vir verjaarsdae of wanneer ek wil dankie sê, byvoorbeeld vir ‘n uitnodiging na ‘n ete of ander spesiale geleentheid. Dit is altyd een van my eie boeke waarvan daar tans agt beskikbaar is: Vuurwerke, Vuurwarm, Demokratiese Republiek van Braai, Shisanyama, Vegetaries, Burgers & Braaibroodjies, My Eerste Jan Braai Boek en dan laastens die een wat nou in 2023 die lig sien, Junior. My keuse van watter boek ek present gee hang af van die persoon vir wie ek dit gee en watter boek ek glo hulle die meeste gaan geniet of wat ek dink die meeste waarde tot hul lewens sal toevoeg. Natuurlik het ek kennisse, vriende of familielede wat dalk reeds ‘n boek ontvang het en dan gee ek vir hulle ‘n ander een. As persoon wat die boek present gee, dink ek my boeke is sinvolle geskenke, want jy kan redelik seker weet alle Suid-Afrikaners hou van lekker braai, dus sal hulle dit geniet om een van my boeke as geskenk te ontvang. Fiksie het baie genres en almal hou nie altyd van dieselfde soort nie – maar almal hier hou van braai.
- Watter aankoop van ’n R1000 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Met my telefoon, reserwe-power bank, oefenhorlosie, laptop, iPad, Kindle en oorfone om te laai, het die “Snug Gold Pro 4 Port Desk Charger 65W White” my lewe makliker gemaak. Hy gee lekker baie krag af in die sisteem en het plek vir twee USC- en twee USB-kabels. So jy kan baie dinge gelyk en vinnig laai op een muurprop.
- Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou? Het jy ’n ‘’gunsteling’’-mislukking?
Soos enige mens op aarde het ek al baie mislukkings gehad, maar ek het glad nie ‘n gunsteling nie. Om die waarheid te sê, ek stem nie regtig saam dat mens mislukkings nodig het om beter te wees, of te leer, of te groei nie. Persoonlik sal ek verkies om nooit enige mislukkings te hê nie. Ek dink nie sukses hang af van vorige mislukkings nie. Sukses hang af van baie harde werk, slim keuses maak en natuurlik van geluk (luck). Die feit dat die lewe noodwendig beteken jy gaan sonder twyfel ook mislukkings hê, maak dit nie myns insiens noodsaaklik of lekker nie.
- As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom.
Dit sal in Engels wees sodat almal of meeste Suid-Afrikaners dit kan verstaan en sal sê: “24 September is National Braai Day. Unite around a fire, share our heritage and wave our flag.”
- Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
My loopbaan was ’n uitstekende belegging in myself en lewensgeluk. Verder was alle sporttoerusting wat ek al gekoop het natuurlik nie ’n belegging in die toerusting nie, want na ’n ruk is dit oud of stukkend, maar wel ’n uitstekende belegging in genot en ook gesondheid. Finansieel was my beste belegging eenkeer ’n paar Dogecoins, wat in ’n maand 1000% opgegaan het. Ek het dit nie verkoop nie en dis oor die afgelope paar jaar weer amper 100% af van daardie hoogtepunt (m.a.w. terug na die aanvangswaarde), so dit was baie slim en jy kan seker ook sê baie dom. Ek hou steeds vas aan daardie Dogecoins – nie omdat ek dink dit is van waarde nie, maar omdat ek dit as ’n lekker maatstaf sien van my totale gebrek aan kennis oor kripto en die bewegings in waarde daarvan, en nooit weer ’n sent in kripto sal sit nie.
- Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Hierdie vraag voel ek is ’n antitese. As ek iets doen wat ’n gewoonte is dan kan dit nie ongewoon wees nie. En as ek iets gereeld doen dan is dit normaal en nie absurd nie. Ek beskou alles wat ek doen as redelik normaal en rasioneel.
- In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Ek het amper uitsluitlik ophou bruiswater (sparkling) drink. Dis net simpel om ekstra gas in jou sisteem in te jaag en ek wonder nou nooit meer daaroor nie, ek drink net altyd stil water. Ek ry net outomatiese motors, want ratte verwissel is ook ’n mors van my tyd en energie en sekondes van my lewe wat ek nooit weer sal terugkry nie. Koop vir jou kussings en beddegoed wat maak dat jy lekker slaap. Onderklere wat waarlik gemaklik is. Leer braai behoorlik en maak kos wat regtig lekker is.
- Watter advies sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree? Watter advies moet hulle ignoreer?
Natuurlik werk om jouself in die posisie te sit om wanneer jy gelukkig (lucky) is, daardie geluk te kan benut. Hierdie is glad nie al voorbeeld nie, maar ’n voorbeeld is: Spaar so gou as moontlik so veel as moontlik geld. Daar kom dalk oor 5 of 10 of 20 jaar ’n geleentheid verby, maar dan is jy finansieel nie op ‘n plek om van daardie geleentheid gebruik te maak nie. Hetsy ’n beleggingsgeleentheid of werksgeleentheid. Advies wat jy kan ignoreer, is enige advies wat jy nie wil hoor nie, want jy gaan in elk geval nie die advies met volle entoesiasme volg nie.
- Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep / vakgebied gehoor het?
Om met gas te braai is nie regtig my ding nie.
- Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee? Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Konflik, mens kan ook nee dankie sê vir konflik en net wegstap van ‘n fisiese gesprek of e-posgesprek waar daar konflik is.
- Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek doen oefening of drink ’n bier. Soms al twee.
Jan Braai, vir kinders
Agtien jaar nadat Erfenisdag in die volksmond tot Braaidag herdoop is, kry die kinders van ons land hulle eerste Jan Braai-boeke. En ook net betyds vir 24 September! Hierdie gebruiksersvriendelike boeke is ook die eerste braairesepteboeke wat spesiaal vir die jonger geslag geskryf is.
My eerste Jan Braai Boek
My Eerste Jan Braai Boek is ’n wonderlike bekendstelling tot braai vir die kleinspan. Dit bevat vertalings van basiese braaiterme in Engels, Afrikaans, Xhosa en Zoeloe, asook stappe met prente oor hoe om Suid-Afrikaanse gunstelingbraaidisse soos chakalaka en geroosterde malvalekkers te maak. My Eerste Jan Braai Boek is maklik verstaanbaar, prettig en perfek vir al die braaiers van die toekoms. Die hardebandboekie is geskik vir lesers tussen die ouderdomme van 3 en 6 jaar.
Jan Braai Junior
Vir almal tussen 6 en 12 jaar oud en wat ’n bietjie meer avontuurlustig is, het Jan Braai ’n resepteboek met 22 heerlike, dog eenvoudige resepte uitgebring wat al die beginsels van braai stap-vir-stap verduidelik. Jan sê self, indien jy dié resepte onder die knie het, kan jy vir die res van jou lewe baie goed en sonder moeite braai! Dis presies wat ons vir die toekomstige braaiers van die land wil bied. Daar is braaibroodjies, ’n hoenderpotjie en selfs een of twee smullekker soetgoed op die spyskaart. Hierdie is ’n puik geskenk vir elke Suid-Afrikaanse kind – en dis ook in Engels beskikbaar.