Skrywer: Alita Steenkamp
Op Donderdagaand 7 September saai RSG ’n interessante dokumentêre program uit oor die operasanger Emma Renzi: Diva, in die ware sin van die woord.
Sy het in April vanjaar haar 97ste verjaarsdag gevier. Die dorp Heidelberg in die ou Transvaal, het vele bekendes opgelewer, maar iemand wat werklik kop en skouers uitstaan, is juis Emma Renzi. Gebore as Emmerentia Scheepers, het sy kleintyd aan kunswedstryde deelgeneem en uiteindelik het haar eie moeder ’n belangrike rol gespeel dat haar ware talent raakgesien word nadat sy haar vir sanglesse gestuur het. Dit was die begin van ’n wonderlike musikale reis.
Emmarentia Scheepers het uiteindelik Emma Renzi geword toe sy in Italië beland het. Sy was die heel eerste Suid-Afrikaner en natuurlik Afrikaanssprekende, wat in die heiligdom van opera, Die La Scala Operahuis, haar buiging gemaak het. Haar debuut was as Abigaille in Verdi se Nabucco. Hierdie vertoning was in 1967, toe Emma 41 jaar oud was. Emma se wonderlike loopbaan strek oor vele dekades en sy het nie bloot net in al die belangrike operahuise in Italië gesing nie, maar ook in Zürich, Mexikostad, Buenos Aires, Barcelona en Lissabon. Soms het sy ook teruggekeer na Suid-Afrika om hier te sing. ’n Heerlike interessante brokkie uit haar loopbaan was tydens die 50-jarige viering van die opera Turandot in La Scala. Aanvanklik is die sopraan Birgit Nilsson gekies om die titelrol te sing, maar sy het onttrek en Monserrat Caballe sou die rol by haar oorneem. Monserrat Caballe het die rol tydens die kleedrepetisie gesing, maar uiteindelik het Emma haar op die openingsaand vervang. Dit is in die geheim gedoen omdat almal bang was vir die woedende reaksie van die gehoor. Turandot sing nie in die eerste bedryf nie en die pouse tussen die twee bedrywe het uitgerek tot 45 minute. Die skare het ongeduldig begin hande klap en toe is die aankondiging gemaak. Madama Caballe is siek en sy gaan vervang word. Niemand kon hoor wie haar gaan vervang nie, want die skare was woedend. Tog het dit nie vir Emma Renzi daarvan weerhou om haar heel beste te gee nie. Sy het die rol al dikwels vertolk en het gemaklik gesing. “Dit het uitstekend gegaan. Ek het nooit vantevore so ’n staande applous gekry ná ’n optrede nie. Toe die gordyne toegaan, het die mense opgestorm. Dit was omtrent ’n aand om te onthou en ’n groot triomf,” het sy hiervan gesê.
Skakel Donderdag 7 September om 20:00 op RSG in en luister na die merkwaardige lewe van Emmerentia Scheepers, een van opera se wonderlike divas. Ina Strydom het die dokumentêr saamgestel.