Skrywer: Cecilia Klopper
Hoe kan jy as ouer help om jou kind voor te berei?
Eksamentyd bly maar spanningsvol, ongeag hoe goed ’n mens voorberei het. Dit hoef egter nie jou of jou kind slapelose nagte te besorg nie, veral nie as jy as ouer jou kind ondersteun nie. Afrikaans.com het met dr Cecilia Klopper, direkteur: CURAparent en skepper van Afrikaans.com se matriekklaskamer, gesels en haar gevra wat ouers kan doen om hulle kinders met eksamenvoorbereiding te help. Hier is haar wenke:
- Die heel belangrikste is natuurlik dat ouers hul bes moet doen om ten alle tye ’n rustige leerklimaat by die huis te skep.
- Kinders moet ’n stil plekkie hê waar hulle ongestoord kan studeer.
- Dit is ook belangrik om te sorg dat jou kind riglyne en hulpbronne vir letterkunde en taalkonvensies tot sy beskikking moet hê. Dit kan aangekoop word, of Afrikaans.com se matriekklaskamer is natuurlik perfek hiervoor.
- Maak seker jou kind het toegang tot die internet sodat hulle die gratis hulpbronne wat beskikbaar is, kan aflaai.
- Genoeg slaap is belangrik en kyk maar dat jou kind gesonde kos inkry.Gee aanvullings indien nodig.
Laastens, maar baie belangrik: Identifiseer angs en depressie betyds en tree daadwerklik op. Gewone asemhalingsoefeninge (5 asemteue deur die neus wat vir 5 tellings ingehou word en dan by die mond uitgeblaas word) help vir die angstige oomblikke.
Indien leerders probleme ondervind met skoolwerk, reël onmiddellik ekstra hulp.
Begin vroeër eerder as later met voorbereiding vir die eindeksamen.
Dr Klopper gee die volgende raad aan ons leerders:
As jy die nuwe jaar in Januarie aanpak, moet jy vooruit beplan en op dag EEN jou werk begin organiseer en bemeester.
- Begin jou voorgeskrewe letterkundeboeke dadelik lees en opsom. Later is dit ’n geval van hoe later hoe kwater en soms bly die lees van die roman of drama agterweë. Dan gooi jy sommer ’n klomp punte weg in die eksamen.
- Die jaar gaan ongelooflik vinnig verby, aangesien jy eintlik al teen 1 Augustus al jou werk moet ken. Moet dus nie uitstel nie.
- Sorg dat jou ouers weet waar jy staan met jou kennis. Stel hulle dadelik in kennis as jy ekstra hulp benodig.
Beplan jou studies soos volg:
- Eerstens: Druk of koop ’n jaarplan wat in dae/maande ingedeel is.
- Plak dit iewers op sodat jy met een oogopslag die hele maand se aktiwiteite kan sien.
- Bring alle belangrike datums daarop aan. Toetse, eksamens, sperdatums, toere, partytjies, kerk asook buitemuurse oefeninge/wedstryde/kampe.
- Beplan jou studierooster om jou belangrike datums sodat jy genoeg tyd het om al jou werk te leer.
- Organiseer jou los blaaie in afsonderlike lêers – een vir elke vak.
- Jy gaan in matriek 12 gedigte, ’n roman en ’n drama doen. Hou alle notas bymekaar.
- Laai nou ou vraestelle van die laaste drie jaar af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis.
- LAAI OU VRAESTELLE EN MEMORANDUMS VAN DIE VOLGENDE WEBTUISTES AF:
https://www.Afrikaans.com
https://www.education.gov.za
Of, tik net die spesifieke vraestel en memorandum wat jy soek op die internet-soekenjin in, bv. graad 12 Afrikaans HT vraestel 1 November 2022.
Daar behoort verskeie opsies van verskaffers te wees.
- Beantwoord die vraestelle en vergelyk die memorandums met jou antwoorde. Kyk wat het jy verkeerd gedoen en leer so uit jou foute.
- Dit is baie belangrik dat jy sien HOE die vrae gestel word en wat die eksaminator as antwoord verwag. Kyk ook na die puntetellings.
- Daar behoort twee stelle vraestelle vir elke jaar te wees – Mei/Junie, wat die aanvullingseksamens is, asook dan eindeksamen-vraestelle in November. (Laai Vraestelle 1, 2 & 3 met hul memoranda af.)
Vraestel 1: Spesifieke voorbereiding
Soos reeds genoem: BEANTWOORD OU VRAESTELLE.
- Hersien afbyt-grootte (net wat jy per dag in 15 – 30 minute kan baasraak).
- Hersien AL die taalkonvensies soos die reëls vir ontkenning, lydende vorm, indirekte rede en dies meer. Let ook op jou woordorde – so baie van ons plaas die bywoord/bywoordelike bepaling in die verkeerde posisie in die sin. Dit kom direk na die eerste werkwoord: “Ek studeer elke dag Afrikaans. (X ek studeer Afrikaans elke dagX)
Vraestel 2: Spesifieke voorbereiding
Weereens, BEANTWOORD OU VRAESTELLE.
Jou DRAMA en ROMAN:
Die heel belangrikste aspek van ALLE letterkunde is om die onderskeid tussen denotatiewe (letterlike of woordeboekgebruik) en konnotatiewe (figuurlike) taalgebruik te kan onderskei.
Begin jou drama opsom sodra jy dit die eerste dag in jou hand het. Gebruik die volgende hofies vir jou opsomming:
- Karakters, intrige, ruimte (milieu of omgewing), tema, boodskap, gebeure, progressie. Volgorde van gebeure (chronologies/a-chronologies), konflik (innerlik en uiterlik), toon en stemming/atmosfeer.
- Bou van die drama: eksposisie, motoriese element, ontwikkeling, klimaks of hoogtepunt, afwikkeling, afloop of denouement en die slot.
- Leer die vrae en antwoorde wat jy deur die jaar gedoen het.
- Maak seker dat jy weet wat die skryf van ‘n literêre opstel behels.
Verder, ken elke versreël van al 12 gedigte baie goed.
- Ken die definisies en voorbeelde van alle digterlike aspekte, klankverskynsels, beeldspraak en retoriese middele sodat jy dit in die gedigte kan herken.
- Leer die vrae en antwoorde soos deur die jaar gedoen baie goed.
- Sorg dat jy elke versreël van al die gedigte ken en verstaan.
Vraestel 3: Spesifieke voorbereiding
- Vergelyk ou vraestelle en momorandums om te sien wat elke opdrag behels.
- Gee aandag aan STRUKTUUR. In die treffende inleidende paragraaf moet jy sê waaroor jy gaan skryf, in die liggaam skryf jy dan ’n paar paragrawe oor verskeie punte, en in die slot doen jy ’n kort en bondige samevatting.
Afdeling A: Langer skryfstukke
- Opstelle (Inleiding, liggaam en slot)
Maak seker dat jy die onderwerp reg kan interpreteer om die regte soort opstel te skryf, hetsy verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel.
Afdeling B: Korter skryfstukke
Hier is struktuur ook baie belangrik.
- Die paragraaf
- Vriendskaplike en formele briewe (inleiding, liggaam en slot)
- Telegram
- Advertensie
- Boodskap
- Dialoog/ onderhoud
- E-pos
- Huldeblyk
- Resensie
- Koerantberig
- Agenda en notule van ’n vergadering
- Toespraak
- Informele of formele verslag
- Tydskrifartikel
Vir PowerPoint-aanbiedings, gaan kyk by Afrikaans.com se Matriekklaskamer.
Voorspoed met die eksamen!