Skrywer: Alita Steenkamp
ʼn Splinternuwe boekefees skop hierdie naweek af. As jy nog nooit die volmaan bo oor die rotse van Kaapsehoop sien uitrys het in al haar glorie nie, moet jy nie hierdie geleentheid hierdie naweek misloop nie.
Vanaf Vrydag 1 tot Sondag 3 September word daar boeke gelees, gesels, en gedroom.
Die Innibos Boekenaweek is deel van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en word aangebied in die bergdorpie Kaapsehoop, sowat ʼn halfuur se ry van Nelspruit. Annemarie van der Walt staan aan die stuur van Boeke Innibos en sê dat daar vanjaar besluit is om die fees se boeke-aanbod na ʼn ander datum en tyd te skuif. “Uit ervaring weet ons dat baie van ons lesers en boekmense nie noodwendig op die Feesterrein self kuier nie want dit is maar baie besig daar, en daar word natuurlik die vermaaklikheidskant se mededinging, is groot. Daarom sien baie ook nie hulle weg oop om boekgesprekke by te kom woon nie. Ons het gevoel ons kan in ʼn rustiger omgewing ʼn beter aanbod lewer weg van die fees af. Amper soos ons tradisionele boekeoase maar net op ʼn ander tyd en plek,” sê Annemarie.
Die afgelope tyd is daar ʼn tendens om juis boekefeeste op kleiner plekkies te hou sodat die boeke na die mense gebring word. Dink maar aan die Vrye Weekblad met hulle boekefeeste op Cullinan en Clarence. Dorpe soos Prins Albert, Stilbaai, Franschhoek, Simonstad en die Paarl spog almal met kleiner boekefeeste wat groot aftrek kry. Nou kan Kaapsehoop sy naam by hierdie lysie voeg.
Die gebeure van die naweek sentreer rondom die gewilde kuierplek in die dorp, Nagkantoor Kaapsehoop Kuierkroeg. Annemarie vertel dat in die tyd ná Covid, voordat die eerste volwaardige kunstefees weer in 2023 aangebied kon word, is die terrein by Nagkantoor gebruik vir verskeie boekbekendstellings en die Laevelders het gewoond geraak aan hierdie heerlike venue. Nou hoop hulle om mense van Pretoria, Johannesburg en al die ander dorpe nader aan Kaapsehoop hierheen te lok vir ʼn besonderse naweek. Daar is min ander naweekbestemmings in hierdie gebied soos Kaapsehoop. Op dieselfde perseel as Nagkantoor is daar ʼn klein saaltjie, Oppitoneel, waar verskeie van die boekgesprekke aangebied gaan word. Die program is uitstekend beplan en daar is geen oorvleuelings in tyd nie. Elkeen wat die naweek bywoon sal dus elke boekgesprek en ook die ander items op die program kan bywoon.
Daar is ʼn heerlike lysie nuwe boeke wat in Kaapsehoop bespreek gaan word. Dit sluit in: Dana Snyman se Die Binneland in, SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge, Stefaans Coetzee se Onbeskryflike genade, Alita Steenkamp se Deur die vuur, Johan Rossouw se Sluitstuk en die internasionale skrywer Tony Parks se Vendetta. Al hierdie skrywers is self teenwoordig om oor hulle boeke te gesels. ʼn Ander boek wat pas van die drukkers af, Diensplig deur Anelia Heese, gaan in ʼn saamgeselsbespreking aangepak word. Anelia is tans nog in Duitsland waar sy woon, maar die bekwame joernalis Deon Lambrecht, wat ook bydraes vir hierdie boek gelewer het, sal die gesprek lei. ʼn Skrywer wat haar op vele terreine al bewys het, Carina Stander, kom gesels op Saterdag in Kaapsehoop se kapel oor haar skryfwerk. Sy is nie net ʼn skrywer nie, maar ook kunstenaar, digter en joernalis. Carina het daarin geslaag om ʼn fabelagtige sprokieswêreld te skep in haar Bergengel-trilogie waarvan die derde van die reeks, Die Waterplek:Afrika in 2022 verskyn het. Vir poësieliefhebbers is daar geleentheid om na die beste van die beste te luister. Die Hertzogpryswenner digter Johan Myburgh en Tom Dreyer gesels oor hulle bundels Narreskip en Nou in Infrarooi. Die pryse vir al die boekbesprekings is R50 en kan aanlyn by Quicket bespreek word. Daar sal ook kaartjies by die deure beskikbaar wees.
ʼn Naweek soos hierdie sal nooit volledig wees sonder ander maniere om die woord en die kunste te vier nie. ʼn Interessante Filosofiekafee vind op Vrydagaand 1 September by Oppitoneel plaas. Die tema vir die Filosofiekafee is Die Kunstenaar en die skrywer se verhouding met die Gode. Charl-Pierre Naudé gaan die mense aan die gesels kry. Die toegangsgeld van R190 sluit ʼn aandete en sjerrie of sap in. Daar word dié aand ook ʼn glasie vonkelwyn geskink op die 20ste bestaansjaar van Lamé Ebersöhn se Filosofiekafee wat destyds in Pretoria se Café Riche voete gevind het. Bespreek hier. Verwysing W01/09 en jou naam. RSVP: oopgesprek@filosofiekafee.co.za
Op Saterdagaand 2 September bring Gert Vlok Nel sy beautiful woorde na Kaapsehoop. Gert het al vantevore Oppitoneel in Kaapsehoop propvol gemaak en mense met vol en warm harte huis toe gestuur. Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Kaartjies hiervoor kos R150 en is beskikbaar by Quicket.
Sit en luister na die woorde van ʼn skrywer of digter, loop in die historiese dorpie rond, gaan kyk hoe die hele Laeveld onder jou uitgestrek lê daar bo vanaf die uitkykpunt, soek die vrylopende perde wat elke dag iewers hulle opwagting maak. Beleef die sjarme van Kaapsehoop, maar bo alles, kom vul jou lewe met boeke en gedigte. Kom gesels met die skrywers wat graag hulle lesers sal wil ontmoet. Hopelik is hierdie die eerste van vele wonderlike Boeke Innibos-naweke hier op Kaapsehoop.

Alita Steenkamp

Carina Stander

Dana Snyman en Stefaans Coetzer

SJ Naude

Tom Dreyer