Dis vrouemaand en wat ’n beter manier om dit te vier as deur te kyk na ’n keur van NB Uitgewers se gewildste boeke vir vrouelesers.
Deur vroue vir vroue!
Besoek jou naaste boekhandelaar en brei jou boekrak uit met lekker leesstof.
JY KAN WEN!
Een gelukkige leser staan die kans om weg te stap met Die laaste kanariegeel notaboek deur Anchien Troskie.
Deel die plasing oor hierdie leeslys op Facebook om in aanmerking vir die prys te kom.
Die kompetisie sluit 15 September 2023.

Die laaste kanariegeel notaboek
Anchien Troskie
ISBN-13:9780798183710
Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by die Pienk Paleis, ’n losieshuis in Bloemfontein, aflaai. Noudat albei haar ouers oorlede is, en haar broer en sy vrou die boerdery op Blesbokfontein oorneem, is dit beter dat sy haar eie potjie in die stad begin krap. Dis toe sy ’n stowwerige, propvol boekwinkel instap dat Mia besef dis hier waar sy wil werk, nie as tikster in ’n prokureursfirma nie. Sy word deur die Van Geets as boekwinkelassistent aangestel en kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart – op die beroemde skrywer Louis Feldtsmann. Die laaste kanariegeel notaboek is die jongste roman uit die pen van blitsverkoperskrywer Anchien Troskie. Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie verhaal. ’n Hoogs meesleurende roman oor die geheime tussen ’n ma en haar twee dogters, ’n man en sy vrou.

Deelfontein
Nicole Jaekel Strauss
ISBN-13: 9780795802645
In Maart 1900 reis die jong Engelse dokter Oliver Glenville na Deelfontein in die Karoo om by ’n Britse veldhospitaal vir offisiere aan te sluit. Wat aanvanklik na ’n eksotiese avontuur klink en ’n geleentheid om sy splinternuwe Brownie-kamera op die proef te stel, verander spoedig in ’n uitdaging van ’n ander aard. Die ellende van Britse soldate en Boerekrygers tref hom hard en die Britse owerhede se aggresiewe oorlogsbeleid maak hom toenemend ongemaklik. En daar is Klara Grootboom, ’n skoonmaker by die hospitaal, wat hom onkant vang met ’n ongewone versoek. Dit wat sy van hom vra, druis teen al sy persoonlike en professionele beginsels in, maar dis asof sy hom in ’n vangnet van haar eie het. Meer as ’n honderd jaar later skep ’n opkomende Kaapse kunstenaar ’n uitstalling uit Deelfontein se gegewens om sin te maak van haar herkoms en die rol wat kuns kan speel om die impak van magsmisbruik teen te werk. In die proses ontdek sy ’n onverwagse familieband . . .

Sonneblomme en sneeu in Oekraïne
Michele Potgieter
ISBN-13: 9780796323231
Nadat Ockert en Michele Potgieter getroud is, het hulle hul tasse gepak en vertrek Oekraïne toe, nie vir hulle wittebrood nie, maar om daar te werk onder die mense wat onlangs bevry is van agter die ystergordyn. Dit is egter ’n groot ontnugtering vir Michele in die begin – dit is yskoud in die winter en snikwarm in die somer. Die meeste huise het net buitetoilette en daar is min verskeidenheid in basiese kruideniersware. Die mense is baie vriendelik en hulle word meestal met oop arms verwelkom. Maar alles is nie altyd maklik nie, daar is ’n noue ontkoming met die mafia, agtervolging deur die KGB en verraad van binne die gemeente. Dan sterf Ockert tydens die Covid 19-pandemie tydens ’n besoek aan Suid-Afrika. Michele moet besluit of sy teruggaan Oekraïne toe, waar ’n oorlog dreig en of sy in Suid-Afrika by haar mense en haar kinders bly. Dit is ’n aangrypende verhaal oor liefde: liefde vir God, vir die mense van die Oekraïne, maar ook die liefde tussen Michele, Ockert en hul kinders.

Onder ‘n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika – ‘n Memoir
Annemarié van Niekerk
ISBN-13: 9780624093596
Annemarié van Niekerk woon in Den Haag, maar keer terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar liewe vriend Ruben, wat saam met sy ma op hul plaas in die Oos-Kaap vermoor is. Dié reis lei haar terug na ander reise: van haar grootwordjare in die destydse Port Elizabeth in ’n liefdevolle, maar streng Nasionale huishouding, na Umtata, waar sy by UNITRA gaan klasgee, en verstrengel raak in ’n verhouding met Denzel, ’n swart skrywerskollega. Iets wat lei na jarelange ernstige konflik met haar pa. Dan na Hillbrow, en later na Yeoville, waar sy en Denzel – teen die wet – saamwoon en aktief is in skrywerskringe. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Die laaste reis is ’n terugkeer na die moord op Ruben en sy ma, en na die moordenaars se lewens, in ’n strewe na verstaan.

Diana se dag
Helene de Kock
ISBN-13: 9780798183857
Toemaar, jou dag sal kom . . . Dis die woorde wat Diana Botha, wynmaker van die spoglandgoed Soeterwijn, help om staande te bly en telkens weer die lewe met nuwe ywer aan te pak. As jong meisie erf sy die las vir ’n skande vir iets waaraan sy geen skuld het nie. Dit pla haar tot ’n studiebeurs in haar finale skooljaar haar help om haar passie vir wynmaak te laat ontluik. Maar in die Boland leer sy opnuut dat vooroordeel steeds stewig in die mensdom sit. Duncan Weston, aantreklike erfgenaam van Soeterwijn en aspirant-politikus, het sy oog op die talentvolle Diana. En dan is daar Lutz Weilandt, ’n plaaslike chirurg – meelewend maar enigmaties. Albei hierdie manne het ’n kwessie met verbintenis. Een vrees dit. Terwyl die ander nie ’n benul het wat ’n ware verhouding behels nie. Helene de Kock bewys weereens hoekom sy as een van Afrikaans se beste verhoudingsromansiers gereken word. Diana se dag is deernisvol én onvoorspelbaar, met karakters wat deurgaans inspireer en ontroer.

Vuurvoël
Elmarie Viljoen-Massyn
ISBN-13: 9780798183406
Wanneer die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van Big Pharma en ’n Serwiese dwelmkartel paaie kruis, word donker geheime ontrafel. Stella Mertens is ná ’n dekade in Brussel terug in Bloemfontein. In haar tas is twee belangrike items: ’n foto van haar ma soos sy was voor die kliniese studie vir skisofrenie waaraan sy ’n deelnemer was, en ’n brief van ’n fluitjieblaser oor wanpraktyke in dié einste studie, gepleeg deur Experior. Stella se nuwe werkgewer. Mark Dejongh, bedryfshoof van Experior in Chicago, is op besoek aan hul Bloemfonteinse tak. Hulle is midde-in ’n studie waarin ’n deurbraak-salf vir letsels getoets word. Indien die studie vlot verloop, is daar reusekontrakte in die pyplyn. Riaan Steytler, bestuurder by dié tak, ontvang ’n boodskap dat sy voormalige pel Branko, klubeienaar in Kaapstad, op pad is om te kom kuier. Waarom, weet hy nie. Al wat Riaan weet, is dat hy dieper as kniediep in die gemors is.

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so?
Anelia Heese
ISBN-13: 9780624093985
Anelia Heese hervertel die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen. In Diensplig praat van dié mans, baie van hulle vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe. Sy gesels met die bekroonde joernalis Murray La Vita, die skrywer Deon Lamprecht, genl.maj. Roland de Vries en talle ander oor hulle ondervindings in die weermag. Die meeste dienspligtiges was eintlik maar nog seuns toe hulle gedwing is om aan te tree en hul hare onseremonieel afgeskeer is. Hulle praat hier eerlik oor onder meer die eerste kontak, die eerste keer toe iemand ’n makker verloor het, hoe sommige “terrie-ore” versamel het, oor patrollies in die townships, en die interne stryd wat dikwels agterna gevolg het. Anelia vra soms ongemaklike vrae om haarself en ander — veral jonger — Suid-Afrikaners te help sin maak van diensplig en die nadraai daarvan. Soos wie nou eintlik die vyand was, en wat dit beteken om jou land te dien . . .

Die lewe is ‘n asem lank – Gedigte oor verlies en vertroosting
Frieda van den Heever
ISBN-13: 9780624092209
Die lewe is ’n asem lank is ’n versameling van 100 gedigte oor verlies en vertroosting deur van Afrikaans se bekendste digters. Hartroerende verse oor die dood, rou, afskeid, verganklikheid en menswees. Dis die ideale geskenk aan iemand wat ’n geliefde vir altyd moes groet ̶ veral wanneer ‘n mens nie die woorde kan vind om te troos nie. Gedigte onder meer deur NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons, Ingrid Jonker, Petra Müller, Breyten Breytenbach, George Weideman, Antjie Krog, Danie Marais, Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Pieter Odendaal en Jolyn Philips.

Christina Landman
Christina Landman: ‘n Lewe
ISBN-13: 9780796323149
Prof. Christina Landman was vir meer as 30 jaar aan Unisa verbonde. Sy het sewe grade en word die eerste vroulike professor in Teologie. Sy was onder meer die redakteur van die Leefstylbybel vir vroue. Sy is ‘n dominee in die VG Kerk en was ook dié kerk se algemene sinode se Actuarius. Sy bly in Lyttelton en het een seun.

Maalkolk
Marie Lotz
ISBN-13: 9780798184007
Alek Strauss is nog net so hardekwas soos altyd. Die oomblik dat hy egter sy pasgebore baba in sy arms hou, word hy so mak soos ʼn lammetjie. Dieselfde middag is daar ’n dringende oproep van brigadier Jack Mabuza. Eensklaps voel dit vir Strauss asof sy hele wêreld soos ’n kaartehuis inmekaartuimel. ʼn Middeljarige man is onskuldig doodgeskiet, met ’n jaggeweer. Wie sou die grusame Woestynroos-moorde wou naboots? Wanneer die speurders drie dae later op ʼn moordtoneel van ʼn jong vrou in die Magaliesberg staan, is hulle opnuut verbysterd. Forensiese bewyse dui daarop dat dié twee moorde met mekaar verband hou. Boonop word telkens tekens van Strauss se oorlede mentor, kolonel André Malherbe, op die tonele gelaat. Intussen is Anele Vilakazi onderweg na die Wildekus om ’n saak te ondersoek waar ʼn tiener met ʼn kruisboog doodgeskiet is. Sal kaptein Strauss en sy span die skuldige kan stuit, voor dié gewetenlose moordenaar sy volgende teiken bereik?
Ek het die skakel op RSG gehoor en dadelik gekyk waaroor dit gaan. ek deel dit ook met my dogter Adèle Ras
ek is absoluut n lees fanatiek. een boek per dag.