Netwerk24
In ‘n insiggewende artikel op Netwerk24 op Maandag, 28 Augustus 2023, (Gebruik KI só in die klaskamer) skryf Michael le Cordeur, visedekaan: onderrig en leer in die fakulteit opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch, dat Kunsmatige Intelligensie (KI) soos ChatGPT talle uitdagings vir die onderwys inhou, maar tog ook ‘n geleentheid is om veral ten opsigte van assessering, te vernuwe.
Die KI-kletsbot sorg tot dusver vir heelwat debat en Le Cordeur het besluit om die kletsbot in die klas op die proef te stel. Die kletsbot is opdrag gegee om ’n gedig oor beurtkrag te skryf. Die resultaat het tot “’n boeiende klasbespreking” gelei – “nie oor die meriete van die gedig nie, maar veral oor die uitdagings wat KI vir onderwysers, leerlinge en assessering inhou”. Die gevolgtrekking oor die meriete van die gedig het gedui op “heelwat denkfoute en digterlike irritasies. Vir die geoefende oog kan dit die vermoede laat bestaan dat die gedig – sou dit huiswerk wees – dalk iemand (of iets) anders se werk is.“ Weereens was dit duidelik dat die kletsbot nie self kan dink nie en afhanklik is van die inligting wat ingevoer word en as ’n mens verkeerde of onvolledige data invoer, lei dit tot verkeerde antwoorde. “Die kletsbot verskaf slegs antwoorde volgens die opdragte wat hy ontvang.”
Geleenthede
Ten spyte van die uitdagings, soos
- dat studente se afhanklikheid van kletsbotte kritiese denke kan verhinder,
- die moontlikheid dat die redenasie agter antwoorde wat verskaf word nie altyd verstaan word nie, en
- die kwessie van privaatheidskending omdat die kletsbot die student se inligting kan stoor,
is daar ook “opwindende geleenthede vir assessering van leer en onderrig (ALO)”.
Akademici en denkleiers sien dit so
“ChatGPT het akademici wakker geskud uit hulle akademiese middagslapie.”
KI bied die volgende geleenthede:
- “Die vermoë om navorsing te doen, feite te interpreteer en krities daaroor te redeneer en die kennis in ALO-praktyke toe te pas.
- “Beklemtoon akademiese integriteit en maak seker studente weet waar om leiding en ondersteuning te kry oor gesonde navorsingspraktyke.
- “Kommunikeer. Maak seker studente verstaan wat die korrekte en verkeerde gebruik van KI behels.
- “Benut kontaktyd vir aktiewe leer – kry studente betrokke by die klas.
- “Vernuwe assesseringsmetodes. Assesseer minder en fokus meer op proses-gedrewe assessering.
- “Vermy take wat studente in die versoeking stel om ChatGPT te gebruik deur te fokus op kreatiewe alternatiewe soos mondelinge assessering, aanbiedings, klas- en individuele gesprekke, kritiese lees en redaksionele skryf.
- “Gebruik die omgekeerde klaskamer-benadering deur die klaskamer na buite te skuif.”
Volgens Le Cordeur laat hierdie omgekeerde klaskamer-benadering kreatiwiteit floreer, soos wat duidelik geblyk het uit ’n “eksperiment” in sy eie klas waar studente gevra is om ’n selfoonvideo te maak van ’n spesifieke gedig waarna dit aan die res van die klas aangebied is. “Dit het gedien as mondelinge assessering en ook sommer gewys of die student kan klasgee.” Studente het die taak met geesdrif aangepak en gevra vir meer sulke geleenthede.
KI kan dus wel aanleiding gee tot geleenthede, mits onderwysers en dosente bereid is om nuut te dink oor hulle klaskamers. Le Cordeur gaan voort en sê dat ’n paradigmaskuif nodig is. “Daar is nie meer plek vir die blote uitdeel van notas wat die studente moet memoriseer nie. Om tred te hou, is onderwysinstansies verplig om hul benadering tot ALO aan te pas.”
ChatGPT hier om te bly
KI is hier om te bly, tog sal dit nooit die mens vervang nie. “Daar is steeds menslike ingryping nodig om die regte antwoord te vind.”
Lees die volledige artikel hier: Michael le Cordeur: Gebruik KI só in die klaskamer | Netwerk24
Lees ook:
Die rol van tegnologie en menslikheid in onderwys – Leerhulp (afrikaans.com)
ChatGPT – ‘n Kletsbot wat jou stomslaan – Leerhulp (afrikaans.com)