Persverklaring: LK MEDIABOOK
Groot opgewondenheid bou in die Breërivier-vallei op vir ‘n seldsame musiekgebeurtenis. Vir die eerste maal ooit tree die gewilde Kaapstadse Filharmoniese Orkes in Robertson op, by die Oos-Kerk op Sondag 8 Oktober, 15:00.
Om dié dag nog dieper betekenis te gee word die sprankelende musiekprogram ten bate van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary op McGregor aangebied. Eseltjiesrus bied ‘n permanente veilige hawe vir donkies wat uit haglike omstandighede gered is, mishandel was of nou bloot net ‘pensioenarisse’ is.
Die konsert word hierbenewens ook gehou om die klem te plaas op musiek se rol om mense bymekaar te bring. Organiseerder Johan van Zijl gesels meer oor die opsie om ook kaartjies te koop vir ander:
“Deur borgskap van ‘n aantal kaartjies probeer ons om jonger en ouer mense te betrek om saam die voorreg van puik musiek te geniet. Dit sou andersins dalk nie vir hulle moontlik wees nie. Publieke ondersteuning vir die borgskap van ouetehuise, kore, jeugorganisasies en musiekstudente sal hoog waardeer word deur almal.” – Johan van Zijl.
Die orkes bestaan uit 55 talentvolle musici van alle kultuurgroepe en bied ‘n program met uitsonderlike musiekitems wat tereg genoem word “Musiek vir almal”. Die samekoms het ‘n tweeledige doel: die genot van goeie musiek en steun vir die welsyn en sorg van donkies.
Kaartjies gaan vinnig verkoop en is reeds beskikbaar by Toerisme-kantore in Robertson, Montagu en McGregor. In Worcester is die verkooppunt Durbanstraat Dierekliniek. Alternatief kan kaartjies maklik aanlyn bekom word deur adopt@donkeysanctuary.co.za per e-pos te kontak. Vir enige navrae skakel 023 625 1593.
Wat doen Eseltjiesrus?
Eseltjiesrus, net buite McGregor, is 16 jaar gelede geregistreer as ʼn welsynsorganisasie en al hulle aktiwiteite en finansies word deur hulle bekwame Raad gemonitor.
Eseltjiesrus bied ʼn permanente tuiste en kundige, liefdevolle versorging vir donkies in nood, hetsy afgetree, verwaarloos of mishandel. Hier kan hulle hul laaste jare geniet met donkie-geselskap, geen stres, skuiling, voldoende voer en versorging tot hulle laaste oomblik.
Eseltjiesrus help ook donkies buite hul grense deur opvoedingsgeleenthede aan te bied vir donkie-eienaars, versorgers en diere-welsynswerkers. Daar is ook ‘n hulplyn wat daagliks beskikbaar is by 023 625 1593.
Besoekers is welkom vanaf Donderdae tot Sondae tussen 10:00 en 16:00.
Kontak: info@donkeysanctuary.co.za
Webblad: www.donkeysanctuary.co.za

Kyk die video van “Donkiehemel”, `n liedjie wat David Kramer vir Eseltjiesrus geskryf en uitgereik het in 2022.