Skrywer: Alita Steenkamp
Vir enige skrywer bly dit ’n besonderse kompliment om een of ander vorm van erkenning vir sy of haar skryfwerk te kry. So ʼn geleentheid is die kykNET-Rapportpryse wat jaarliks vier skrywers vir uitmuntende skryfwerk beloon. Die kykNET-Rapportpryse, wat saam R1 miljoen beloop, bestaan uit vier boekpryse en twee resensiepryse, en word jaarliks toegeken vir Afrikaanse werke wat in die vorige kalenderjaar verskyn het. Die vier boekpryse is die kykNET-Rapportpryse vir fiksie (romans), niefiksie en film onderskeidelik, en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.
Twee romanskrywers, Chris Karsten en Kirby van der Merwe, het vanjaar die uitsonderlike prestasie behaal om vir twee van hierdie pryse benoem te word. Kirby het vroeër vanjaar ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Eugène Marais-prys vir sy roman, Eugene, ontvang. Eugene is benoem vir pryse in die volgende twee kategorieë: kykNET-Rapportprys: Fiksie (Romans) en Jan Rabie-Rapportprys: Debuut- of tweede prosawerke. Chris Karsten het met Op pad na Moormansgat benoemings ingepalm vir die volgende twee pryse: kykNET-Rapportprys: Fiksie (Romans) en kykNET-Rapport Herman Binge-prys: Film. In vanjaar se kompetisie is die ontslape romanskrywer Dan Sleigh benoem vir sy niefiksiewerk, Retoervloot. Dan het op Vrydag 28 Julie 2023 gesterf.
Daar was vanjaar altesaam 86 inskrywings vir die vier boekpryse. Die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz, het gesê dat vanjaar se inskrywings weer eens ʼn leeservaring gebied het wat stimuleer, uitdaag en ontroer.
Die individuele prysgeld beloop R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word later aangekondig.
Die wenners sal op 23 September 2023 tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad bekendgemaak word.
Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
- Op pad na Moormansgatdeur Chris Karsten (Human & Rousseau)
- Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
- Romandeur Cas Wepener (Protea Boekhuis)
KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
- Wiegdeur Joan Kruger (Litera)
- Retoervlootdeur Dan Sleigh (Tafelberg)
- Die Kaapse slawe 1652-1838deur Eunice Visser (Protea Boekhuis)
KYKNET-RAPPORT HERMAN BINGE-PRYS: FILM
- As die katjiepiering blomdeur Audrey Jantjies (Kwela)
- Op pad na Moormansgatdeur Chris Karsten (Human & Rousseau)
- Om beter te kan moor deur Christelle van Rooyen Wessels (Penguin)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE
- bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau)
- Wit leuen deur Ruan Kemp (Tafelberg)
- Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)