Skoolkoerante is ʼn heerlike eerste tree in die wêreld van die joernalistiek en talle skole spog met uitstaande publikasies. Dalk is jou skool een van daardie skole.
Nou is daar die geleentheid vir skole om deel te neem aan Die Burger, Beeld en Volksblad se gewilde skolenuuskompetisie. Sowel digitale as gedrukte skoolkoerante mag deelneem aan hierdie kompetisie. Vanjaar is daar ook baie prysgeld op die spel.
Kopie en inhoud wat tussen 31 Augustus 2022 en 31 Augustus 2023 geskep en gepubliseer is, mag ingeskryf word vir vanjaar se kompetisie.
Daar is verkillende kategorieë waarvoor skole kan inskryf. Die eerste is die afdeling vir gedrukte skoolkoerante. Hier kan die wenskool R25 000 wen vir die beste gedrukte skoolkoerant. In ʼn onderafdeling van hierdie kategorie – die beste uitleg van ʼn skoolkoerant – is daar R5000 op die spel. Die tweede kategorie is Skolenuus met verskeie onderafdelings soos beste nuusberig, beste sportberig, beste onderhoud, beste nuusfoto, beste in diepteberig en beste spotprent waarmee daar elk R5000 vir die skool gewen kan word. Die derde kategorie is digitale skolenuus met afdelings soos Beste digitale skoolkoerant (R30 000 vir die skool), beste Facebookblad (R10 000 vir die skool), beste gebruik van video (R10 000 vir die skool), beste Instagram-blad (R10 000 vir die skool) en beste TikTok-blad (R10 000 vir die skool). Die vierde kategorie in vanjaar se kompetisie is getiteld Innovasie: Nuusbriewe. Die doel hiermee is die beoordeling van die beste gebruik van digitale nuusbriewe wat per e-pos of as Pdf digitaal versprei word om daarmee skolenuusinhoud aan die gemeenskap te versprei. Om in aanmerking vir hierdie prys te kom, moet skole drie nuusbriewe inskryf. Die prysgeld in hierdie kategorie is R10 000 vir die skool. Daar is ook ʼn bedrag van R5000 beskikbaar vir die naaswenner.
Inskrywings moet Cum Laude Media op 15 September voor 17:00 bereik. Klik hier vir al die reëls en regulasies. Op hierdie blad sal jy skakels vind na die inskrywingsvorms, kriteria, sowel as die vrywaringsvorm wat die inskrywing moet vergesel. Vir enige navrae stuur ʼn e-pos aan skolenuus@cumlaudemedia.com