Daar is hernude hoop vir moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan toe die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, onlangs tydens die departement se konferensie oor taalbeleid bevestig het dat leerders die beste leer in hulle moedertaal. Die konferensie het spesifiek gefokus op die uitbreiding van moedertaalonderrig tot graad 6, met die primêre doel om veeltaligheid aan te moedig en praktiese strategieë vir skole daar te stel.
In ’n meningsartikel op Netwerk24 op 2 Augustus, deel dr Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, sy insigte oor die afgelope konferensie. Afrikaans.com het soos volg opgesom:
Volgens dr Deacon was daar ’n besliste “wending in die nasionale onderwysdepartement se benadering tot moedertaalonderrig en was die gesprekke dieper en meer volwasse” en is dit gesteun deur navorsing en behoorlike data en was hy dus aangenaam verras.
“Dié keer was dit anders. Ons het ánders gepraat oor taal in onderwys. Spreker na spreker was dit eens: die grootste verloorder in die huidige taalbedeling is die kind wat ’n Afrikataal, anders as Afrikaans, praat.”
Deacon noem ook dat daar telkens gevra is hoekom nou eers die gesprek, waarop die minister geantwoord het dat hulle nou eers reg is daarvoor – daar moes eers navorsing op plaaslike vlak gedoen word. Hierdie navorsing wat in die Oos-Kaap plaasgevind het, het nou onomwonde bewys dat leerders in die Oos-Kaap wat deel was van hierdie loodsingsprojek “wesenlik beter presteer as isiXhosa en Engels saam gebruik word”.
Befondsing- en personeelvoorsieningsmodel vir veeltalige onderrig ontbreek
Volgens Deacon is dit die realiteit dat daar nie tans befondsing en personeel beskikbaar is om veeltalige onderrig te laat slaag nie, maar dat ons afgesien daarvan nie “skaam hoef te wees om in ons eie taal te praat nie. Leerders hoef nie ‘roofkykers’ in moedertaalonderrig te wees nie”. Hy meen tog dat daar die keer iets van gaan kom omdat die “minister en senior amptenare hul gewig ingegooi het, dit berus op nasionale en internasionale navorsing en steun kom van belangrike rolspelers soos Umlasi, die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, PanSAB, NECT, die twee grootste vakbonde en FEDSAS”.
Dr Deacon maan egter ook dat daar slegs iets van kan kom as die volgende in plek is:
- “Die nege onderwys-LUR’e sal die politieke wil” moet hê, “omdat onderwys ’n nasionale en provinsiale bevoegdheid is”.
- “As taalgemeenskappe en ouers moedertaalonderrig aanvaar” en nie kortsigtig glo dat net Engels geleenthede ontsluit nie.
- As die staat voldoende fondse beskikbaar stel.
- As Afrikaanses ophou om negatiewe opmerkings in die verband te uiter en besef dat “die onderrig van ons kinders vir ons almal belangrik is”.
Dr Deacon sê verder dat hy maar al te goed besef dat dinge nie oornag gaan verander nie, maar hy was hoopvol na die konferensie. “Vir ’n verandering was daar meer redes as verskonings om moedertaalonderrig ’n realiteit te maak.”
Dit bly ’n voorreg om in ’n mens se moedertaal van kleuterskool tot universiteit te kan leer en ontwikkel. Elkeen moet egter eienaarskap van hul eie moedertaal neem. “Dis nie vandag Afrikaans of Engels wat maak dat ander Afrikatale nie ontwikkel nie, maar die sprekers van die tale wat vir te lank hieroor stil gebly het.”
Dr Deacon sluit af: “Die realisering van moedertaalonderrig gaan ons land baie geld kos, maar kan ons dit bekostig om dit nie te doen nie?”
Lees meer oor moedertaalonderrig en die voordele daarvan hier Moedertaalonderrig – Leerhulp (afrikaans.com)

Dr Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS in gesprek met minister van basiese onderwys, me Angie Motshekga tydens die departement se onlangse konferensie oor taalbeleid.